Deur die vele onbenutte dakke in stede vir voedselproduksie te gebruik, kan individue stelselmatig begin om op klein skaal vir hulself vrugte, groente en kruie te kweek. As so ’n projek suksesvol bestuur word, kan die individue later volhoubaar kommersieel begin boer.

Sodoende kan grond wat deur verstedeliking verlore gegaan het, hektaar vir hektaar teruggewen word. In Rotterdam, Nederland, is die Dak- Akker die grootste dakplaas in Europa. Dit beslaan ’n area van 800 m2.

Die DakAkker is geïnstalleer deur Binder Daktuinen op die dak van die Schieblock, ’n kantoorgebou in die middestad van Rotterdam. Dit is deel van die De Luchtsingel-inisiatief, ontwikkel deur ZUS-argitekte, met die samewerking van die Rotterdam Milieucentrum, die omgewingsentrum en die munisipaliteit van Rotterdam.

Organies verboude vrugte, groente, blomme, en kruie word op die DakAkker gekweek en heuningbye word in korwe aangehou. Vir die verbouing van die gewasse word reënwater versamel en gebruik. Bistro Op die Dak, wat op dié dak geleë is, gebruik die goeie gehalte oes van die DakAkker in sy spyskaart.

Groente en vrugte word ook aan plaaslike hotelle en restaurante gelewer. Mnr. Rob van Katwijck, ’n Nederlandse gids by DakAkker, het ’n groep landboujoernaliste tydens die Internasionale Federasie van Landboujoernaliste se jaarlikse kongres meer van dié inisiatief vertel.

’n Grafiese voorstelling van die grond-, water- en insulasiestelsel van DakAkker. Laag 1 is geskik vir kruie, soos oreganum en roosmaryn, en bessies, soos aarbeie. Laag 2 is geskik vir groter vrugtedraende struike en klein vrugtebome. Dit kan met die hand natgelei word. Ander metodes sluit in opgebergde ondergrondse water in ’n buffersone (no. 3) of ’n watermat as ondergrondse besproeiing (no. 4 en 5).

In 2012 is daar baie navorsing gedoen oor hoe landbougewasse op ’n hoogte van 20 m, reg in die middestad van Rotterdam, verbou kan word. “Die groeitoestande is soortgelyk aan ’n Mediterreense klimaat: baie droog en baie winderig. Daarom kweek hulle baie kruie (peperment, sitroengras, laventel), wortelgroente (Jerusalem-artisjokke, beet, wortels, radyse), uie, preie en knoffel, asook murgpampoentjies, rabarber en pampoen,” sê hy.

“In die geval van die DakAkker dien dit ook as ’n isoleringslaag; die gebou is koeler in die somer en warmer in die winter.” Nie elke dak is vir ’n daktuin geskik nie. Die struktuur moet sterk genoeg en waterdig wees. ’n Grondlaag met ’n dikte van 70-120 mm is geskik vir aarbeie en kruie, soos oreganum, tiemie, roosmaryn en laventel.

Vir groente, soos blaarslaai, tamaties, wortels, boontjies en bessies is ’n grondlaag met ’n dikte van 130-250 mm geskik. Groter vrugtedraende struike en klein vrugtebome het ’n grondlaagdikte van 260-400 mm nodig.

“Normale grond kan nie op die dak gebruik word nie, want wanneer dit reën, raak dit te swaar vir die dak. By die DakAkker gebruik hulle ’n mengsel van onder meer gemaalde lawarots wat hulle uit Duitsland invoer, met ’n spesiale mengsel van ligter klippies,” sê Van Katwijck.

Die byekolonie van die DakAkker bestaan uit meer as 30 000 bye. Die bye bestuif nie net vrugte- en groenteplante op hierdie dak nie, maar ook blomme in die omliggende omgewing (sowat 3 km rondom die Schieblock).

Landbouweekblad se besoek aan Nederland is geborg deur die Nederlandse Ambassade.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.