Sommige owerhede het aanvanklik ’n verbod geplaas op die beweging van mense vanuit lande met hoë getalle van Covid-19-besmettings omdat hulle die verspreiding van die virus na hul lande gevrees het. Dit was egter nie doeltreffend nie omdat mense by wie die siekte nog in die inkubasietydperk was, as “gesonde” mense in ander lande toegelaat is.

Met die verspreiding van bek-en-klouseer is beeste in hul inkubasietydperk as “gesonde” diere vervoer, maar hulle het ’n week of twee later siektesimptome begin toon. Gesondheidsamptenare het hierdie diere begin opspoor om die verdere verspreiding van die siekte hok te slaan.

Die plase en veilings waar die diere aanvanklik gehou is, asook die plekke waarheen die diere geneem is en waar daar moontlik kontak was, is opgespoor. Al hierdie plekke is onder kwarantyn geplaas totdat toetsing gewys het geen bek-en-klouseer is meer teenwoordig nie en dat alle moontlike kontakte opgespoor is. Die kwarantyn van die plase is eers dan opgehef.

Opsporing is belangrik om Covid-19 te volg. Dit is baie makliker aan die begin van die uitbreking as later wanneer die getalle die stelsel oorweldig en kontakte verlore raak. Tydens die navolging van dieresiektes is individuele identifikasie en ’n verslag van beweging nodig – daarom is die diere-identifikasie-en-naspeurbaarheidstelsel (LITS) so belangrik vir siektebestryding.

Mense kan met identiteitsdokumente geïdentifiseer word, maar dit word nie vir opsporing gebruik nie. Selfone blyk ’n beter metode te wees om mense op te spoor, maar dit geskied ten koste van hul privaatheid.

Met Covid-19 is dit belangrik om die toetsing van mense uit te brei sodat moontlike brandpunte in Suid-Afrika bepaal kan word. Só kan die nodige behandeling en ondersteuning, waar nodig, betyds verskaf word. Dieselfde geld dieresiektes. Opnames word voortdurend gedoen om probleemgebiede te identifiseer en met beter siektebekamping en toekomsbeplanning behulpsaam te wees.

Die afdeling vir dieregesondheid is gewoond aan die praktyke van siektebestryding wat pres. Cyril Ramaphosa ingestel het om Covid-19 te bekamp, onder meer die afplatting van die kurwe. Dit is wat ons by dieresiektes ook probeer doen. Ons voorkom die verspreiding van siektes tussen diere in een kudde en ook die getal kuddes wat op nasionale vlak met ’n spesifieke siekte besmet raak.

Mense moet nou ’n veilige afstand van mekaar handhaaf. Dit is die rede waarom siektes soveel vinniger versprei by diere wat in hoë digtheid bymekaar is (soos in melkerye en voerkrale) teenoor vrylopende veldbeeste.

Tydens die onlangse uitbreking van bek-en-klouseer is die verskuiwing van diere wat van meer as een bron afkomstig en gemeng is, om later weer na meer as een bestemming verskuif te word, as ’n bestuursmaatreël nie toegelaat nie om die verspreiding van die siekte te voorkom.

Diere kan, anders as mense, nie versoek word om in hul elmboog te hoes of nies nie. Ons kan wel die biosekerheid van ons plase opskerp om die verspreiding van siektes deur instrumente, emmers, rubberskoene en voertuie te beperk. Instrumente en toerusting moet deurgaans goed gewas en ontsmet word.

Tydens die grendeltydperk bly die meeste mense tuis omdat ’n aansteeklike siekte nie kan versprei as daar geen beweging is nie. Inperking kan vergelyk word met ’n plaas of diere wat onder kwarantyn geplaas word. Beweging van mens en dier wat asimptomaties is, maar steeds die virus onder lede het, word erken as een van die belangrikste maniere waarop die virus versprei.

Taxi’s en busse word bespuit en ontsmet om die verspreiding van Covid-19 te voorkom. Dit is ook van toepassing op voertuie wat diere vervoer – dit behoort gewas en ontsmet te word tussen vragte, plase, veilings of abattoirs.

Indien mense se temperatuur te hoog is, mag hulle nie sekere geboue of winkels binnegaan nie en hulle word dan vir Covid-19 getoets. Diere word ook vir bek-en-klouseer getoets voordat hulle gelaai word om na ander plase, veilings of abattoirs geneem te word. Indien van die diere verdag voorkom, word nog toetse gedoen.

Wanneer enige dier by aankoms by die nuwe bestemming positief is (of verdag voorkom), word alle kontakdiere beskou as hoërisiko-gevalle en onder kwarantyn geplaas tot daar bewys is hulle is negatief.

In die geval van diere is die voordeel dat baie dieresiektes deur inenting voorkom kan word. Die slagspreuk “why wait, vaccinate” is van toepassing op baie dieresiektes. Dit sal hopelik ook ’n werklikheid word wanneer navorsers ’n geskikte entstof teen Covid-19 ontwikkel het.

Hetsy ’n menslike siekte soos Covid-19 of ’n dieresiekte soos bek-en-klouseer, so ’n uitbreking bly vernietigend vir die mense wat geraak word. Dit veroorsaak hartseer en groot ekonomiese verliese vir almal. Mense kan ’n siekte slegs bekamp deur saam te werk om die verspreiding daarvan te voorkom. 

Dr. Sewellyn Davey is verbonde aan die direktoraat veeartsenydienste in die Wes-Kaap. Dr. Grietjie de Klerk is verbonde aan die afdeling vir dieregesondheid van die departement van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling. Dr. Pieter Vervoort is voorsitter van die nasionale dieregesondheidsforum. Dr. Faffa Malan is bestuurder van die Herkouerveterinêre Vereniging van Suid-Afrika.