In ’n vorige rubriek het ek oor skaalekonomie en die belangrikheid van kritiese massa geskryf (“Lê die landbou se heil werklik in skaalekonomie?”, LBW, 10 Desember 2020). Kort daarna het Landbouweekblad berig dat ons by Allesbeste-boerdery en ’n Nederlandse familie ons avokado’s in een mandjie gooi.

Hoekom is hierdie oomblik so belangrik? Daar is dan reeds soveel uitvoerders. Wáárom wil ons die wiel herontwerp? Wel, dalk wil ons nie die wiel herontwerp nie. Dalk wil ons eerder deelneem aan die vooruitgang van die wiel.

Die speeklose houtwiel het gewerk, maar tog het wiele met speke en vere beter gewerk. Vandag het ons almal staal- of allooiwiele op ons voertuie. Die wiel word gereeld herontwerp, of dalk eerder pasgemaak, vir elke spesifieke nut wat daaruit geput moet word op grond van die behoeftes wat ontstaan in spesifieke aanwendings of omstandighede.

Die antwoord was vir ons eenvoudig. Omstandighede het verander en ons wiele het nog nie vir hierdie nuwe omstandighede verander nie. Boonop moet ons pasop dat ons wiele nie afval nie.

MARK, TEGNOLOGIE VERANDER

Tot 2009-’10 is die avokadomark hoof-saaklik deur Suid-Afrika oorheers. Groei was stadig, maar die mark was stabiel. Die belangrikste hefboom vir ’n bemarker was om so lank moontlik aan programme deel te neem wat aan supermarkte lewer, en natuurlik het die supermarkte daarop aangedring. Byna belangriker as gehalte vir die supermark was volgehoue lewering van ’n produk oor so ’n lang tydperk as moontlik.

Intussen het avokadoproduksie reg oor die wêreld eksponensieel gegroei en avokado’s is bloot makliker beskikbaar. Meer belanghebbendes het toegetree. Die lys van veranderinge is lank.

Tog het die bemarkingsmodelle dieselfde gebly: ’n Uitvoerder wat bemark (gepaardgaande met logistiek) en sy produk aan ’n invoerder verkoop, wat op sy beurt weer bemark en aan die supermark versprei, of in sommige gevalle aan die volgende entiteit in die ketting, wat op sy beurt aan die super- mark verskaf.

Intussen verander tegnologie vinniger as ooit. Voor 2009 het almal op e-pos en duur vlugte Europa toe staatgemaak om verhoudings te bou. Die aankoper of eienaar oorsee was in baie gevalle ’n baby boomer wat steeds die persoonlike interaksie verkies het, en gemeen het ’n deal is nie ’n deal voor ons blad geskud en ’n duur ete saam genuttig het nie. Telefoonoproepe is duur, daarom het kommunikasie sover moontlik per e-pos geskied.

Nou, in 2021, is onmiddellike kommunikasie makliker as ooit. WhatsApp-oproepe, Zoom-oproepe, Teams-sessies wat sommer byhou wie wat moet doen . . . Boonop is ons verkoopsyfers intyds op ’n besigheidsintelligensieplatform beskikbaar. Terwyl ons vergadering hou, kan ons monitor hoe die syfers verander.

Ja, die baby boomer se seun of dogter is beslis al minstens iewers by die besigheid betrokke. Dit is mense wat ’n nuwe waardering het vir die spoed en buigsaamheid waamee besigheid gedoen kan word.

Staalwiele het die 24 uur-Le Mans, Monte Carlo- en soveel ander wedrenne gewen, maar hulle het in ’n stadium opsy gestaan. In hedendaagse wedrenne val die wiele wel gereeld letterlik af. Die veselglas-basis van ’n Formule 1-renmotor is beslis nie gemaak vir die impak teen ’n muur as dit van die baan af gly nie. Die motors word egter ontwerp om op die baan te wen en nie om te kyk wie die beste lyk as hulle van die muur af hop nie.

Waarom vertrou ons dan nog ons staalwiel-uitvoerders? Is ons nie net te bang nie?

Wel, ons bene het behoorlik gebewe toe ons besluit het om ’n nuwe manier van bemarking aan te pak! Maar ons het ons risiko’s teen die geleenthede opgeweeg en met die skryf van dié rubriek is ons eerste agt vraghouers avokado’s reeds suksesvol deur een van die gesogste supermarkprogramme in Europa verkoop, ten spyte daarvan dat ons volgens die boeke heeltemal te klein is om onafhanklik uit te voer.

Genade, ons was nie eens die “eerste bewegers” nie. Lank voor ons het die Gubitze en Three Farms in die avokadobedryf reeds lae volumes só uitgevoer.

LESSE GELEER

Wat het ons besef en wys geword?

Ons het vroeg besluit dat ons die stelsel en sy elemente so eenvoudig moontlik wil hou – net twee tot drie kliënte op die uitvoermark en verkieslik dieselfde op die plaaslike mark. Ons het noukeurig somme gemaak oor ons volumes per week. Op grond daarvan is kliënte vroegtydig ingedeel sodat ons weet ons sal nie sukkel om ons beloftes na te kom nie. Daar was nog programme waarmee ons wou werk, maar ons sal een vir een daarby inskakel namate die volume daar is.

Ons besluite wentel deurgaans om ons kritiese massa by elke stap. Só beskerm ons onsself en ons kliënte. Hierdie eenvoud werp reeds vrugte af. Namate ons vertroue wen, het ons meer die hef in die hand en die sekerheid dat elke produk op die plek verkoop word waar die verhouding van prys tot koste die beste is. Hoe groter die uitvoerder, hoe moeiliker begin dit word om die koste van elke hoek en draai in die waardeketting te monitor en te optimaliseer.

Ons het té gereeld in die geskiedenis gesien dat vrugte teen fantasties hoë pryse verkoop word, maar op plaasvlak duik die boer in die hek omdat die koste van daardie programme in baie gevalle buitensporig was. ’n Goeie prys is fantasties, maar onvoorsiene koste is gevaarlik.

Besluitneming en reaksietyd. Een van ons grootste gebreke in die verlede by die tradisionele uitvoermaatskappye was die vermoë om vinnig aanpassings te maak aan ons pluk- of pakprogramme om by die huidige omstandighede, soos verpligtinge teenoor ’n ander kliënt, verwagte reën in die volgende week en skepe wat by die hawe verbyvaar, aan te pas.

Ons het nou meer as ooit die vermoë om, terwyl ons pak, betyds en deurgaans met ons kliënte te kommunikeer. Die kommunikasiekanaal is kort van die boer tot by die mark. Dit maak inligting intyds beskikbaar, en besluite en aanpassings wat almal pas, kan vinnig geneem word. Die aflosstokkie het nie baie geleentheid om op die tartan te val nie.

Ons het nooit kon dink dat supermarkprogramme so graag ons vrugte wil hê nie. Ons aanname en vertrekpunt was dat dit ons dalk twee tot drie jaar kan kos om weer toegang tot die belangriker programme in Europa te kry. Maar toe breek Januarie aan, en ons kon nie glo hoeveel geleentheid daar is om direk met supermarkte sake te doen nie. Hulle wil risiko verskans. Hulle wil nader aan die produsent beweeg.

Waar ons vandag is, het ons toegang tot nie minder nie as ses van die mees gesogte supermarkprogramme in Europa. Ons bemark tans 100% in supermarkte, terwyl ons verwagting was dat ons 40-80% op die oop mark sou moes verkoop om geleidelik toegang tot supermarkprogramme te kry. Dit was ’n welkome “skok” vir klein boere van Tzaneen!

Die voordeel is dat ons al hoe meer die geleentheid het om vrugte doelgerig vir ander boere te bemark. Kleinhandelaars in Europa is beslis nie lus om hul vrugte slegs by die bekende bemarkingsorganisasies van die wêreld te koop nie.

Daar is ’n binnebaan waar die geleentheid bestaan om in jou primêre marktydperk jou vrugte te verkoop en pad te gee. Meer as ooit word dit in elke Teams- of Zoom-vergadering verwelkom.

Oesspan verbeter ons beplanningsvermoë. Ons het vroeg in die seisoen besluit om ’n aanbod op die tafel te sit om namens boere hul oes te gaan pluk om sodoende die pakhuisdoeltreffendheid te verbeter. Pleks daarvan dat ’n kleiner boer se oes van 100 ton oor drie tot vier weke geoes en in klein sarsies ingeneem word, kan ons nou 30-35 ton per dag by die boer gaan afhaal en sodoende sy oes in minder as ’n week deur die pakhuis en op die skip kry. Dit werk fantasties, om die minste te sê.

Daar is reeds vier boere wat só met ons saamwerk. Die voordele vir hulle is groot. Sekuriteitskoste word minder omdat die oes vir ’n korter tyd beskerm hoef te word. Vrugte word in ’n optimale mark ingestuur, en plukkoste is ongeëwenaar en beslis doeltreffender as wat hulle histories kon verrig.

Nuwe samewerkingsgeleentheid vir boere. Namate boere by ons inskakel, besef ons al hoe meer dat produksie en uitpak met klein wysigings in boordpraktyke aansienlik verbeter kan word. Ons is dus nou by die punt waar ons ’n handsnoeidiens aan die boere wil verskaf en hulle toegang tot ons standaardboordpraktyke wil gee. Hoe doeltreffender ons die boere se bestuur help maak, hoe beter is ons uitset.

Skaal kan ongetwyfeld die hefboom gee, maar dit is myns insiens nie die reël nie. Die kwessie is om in elke konteks of afdeling van die besigheid ons posisie te evalueer en te bepaal waar die hefboom werklik lê. Het ons dalk ’n mededingende voordeel wat ons sonder skaal ’n unieke hefboom gee? Ons glo ons kon in bemarking in die avokadobedryf ’n unieke geleentheid ontsluit.

Hoeveel geleenthede lê daar dalk in ander bedrywe of ander aspekte van ons besigheid? 

Mnr. Zander Ernst is deel van die Allesbeste-boerdery se bestuurspan, en is in beheer van produksie en bemarking.