Boere moet voorbereid wees vir verdere loonstakings vanaf 4 Desember, waarsku mnr. Cornie Swart, voorsitter van Agri Wes-Kaap.

Swart het ná die loonverhoor van die Departement Arbeid in Worcester, boere gemaan om hulself voor te berei vir verdere loonstakings vanaf dié datum. By die verhoor vir werkgewers was die saal vol van boere van sover as Vredendal, Stellenbosch en Ceres.

“Voor ons vandag hierdie saal verlaat, wil ons weet wat die Departement (van Arbeid) gaan doen omtrent 4 Desember,” het Swart gesê, gevolg deur ’n toejuiging van die gehoor.

Mnr. Thembinkosi Mkalipi van die Departement van Arbeid het egter op meer as een geleentheid dit duidelik gemaak dat sy departement se bedrywighede niks met 4 Desember te doen het nie. Die laaste publieke verhore vind eers op 13 Desember in Gauteng en die Oos-Kaap plaas.

Een van die boere het aan die Departement van Arbeid genoem dat hy ’n netto boerdery-inkomste van ongeveer R7000 per ha in ’n gemiddelde jaar kan realiseer. “My loon-uitgawe in dieselfde jaar is ook ongeveer R7000 per ha. ’n 100% Loonverhoging beteken dus dat ek geen netto boerdery-inkomste gaan hê nie en dus geen belegging, uitbreiding of ontwikkeling kan bekostig nie.”

Ehrenreich waarsku oor stakings
Die hervasstelling van die sektorale minimumloon kan eers plaasvind as al hierdie verhore afgehandel is, maar volgens die Wes-Kaapse leier van Cosatu, mnr. Tony Ehrenreich, het die stakende werksmag ’n finale antwoord oor ’n nuwe minimumloon teen 4 Desember verwag. “Anders sal die stakings hervat word - met meer intensiteit,” het Ehrenreich in die tweede week van die staking gewaarsku.

’n Boer van die Koue-Bokkeveld het ná afloop van die verhoor aan Landbouweekblad gesê die onsekerheid rondom 4 Desember beteken niks goeds vir nog die samesprekings óf die ingesteldheid van die betrokke partye nie. “Almal is op hul senuwees en die onsekerheid maak al die rolspelers net onwillig om hulself tot ’n oplossing vir die dispuut te verbind. Ons hoor egter dat die mees onlangse samesprekings tussen die vakbonde en die verteenwoordigers van die georganiseerde landbou het positief geëindig, so ons sal aanhou hoop vir ’n vreedsame oplossing.”

Die tweede week van onluste op plase het Wes-Kaapse boere genoodsaak om beleggings van ’n ander aard te maak. Derduisende rande word bestee op private sekuriteitswagte, private helikopters en patrollievoertuie om plase te beveilig. Hierdie maatskappye se teenwoordigheid is veral baie sigbaar in die Ceres- en Koue-Bokkeveld-area waar baie brandskade aan landerye, boorde, implemente, trekkers en geboue aangerig is, sowel as in die De Doorns-area.

Skielik is veiligheid van die plaas en die mense wat daar werk, ’n kosbare luuksheid in die Wes-Kaap.