Ondanks ’n sterk wind van voor was die afgelope bokhaarseisoen een van die bestes tot nog toe. Die voortslepende droogte en nuwe wetgewing rakende bokhaarbemarking in Lesotho is egter tameletjies vir vanjaar.

Volgens mnr. Pierre van der Vyver, bestuurder van die sybokhaarafdeling by CMW/OVK, was die afgelope winterverkoopseisoen uitsonderlik. Hy sê weens die diereregte-aktivistegroep Peta se mediaveldtog oor beweerde dieremishandeling in die Suid-Afrikaanse bokhaarbedryf was die mark aanvanklik huiwerig.

“Min is daar besef dat dit in randwaarde die beste winterseisoen nóg sou wees.” Die OVK-markaanwyser op die eerste vyf veilings was gemiddeld R291,31/kg. Volgens hom is dit ’n allemintige 43,2% beter as ’n jaar gelede. Die tweede veiling van die seisoen was die een met die grootste omset, en ’n rekord-gemiddelde prys is aangeteken.

OOSTE SKU, WISSELKOERS is BEPALEND

Van der Vyver sê die mark in die Ooste, hoofsaaklik China, is tans nie baie aktief nie. Dit kan die prys van sterk grootbokhaar in die komende somerseisoen nadelig raak, “maar daar is nog tyd vir verandering”. Hy sê die aanvraag uit Europa lyk tans goed, veral vir fyner jongbok- en kleinbokkiehaar.

“Die vooruitsig lyk nie sleg nie, mits die wisselkoers nie dramaties verander nie.” Mnr. Cobus de Klerk, voorsitter van die Suid-Afrikaanse Bokhaarkwekersvereniging, sê bokhaarpryse was die afgelope seisoen baie goed. “Ons hoop op ’n goeie begin vir die nuwe seisoen en dat pryse nie sal daal nie. ’n Prysdaling sal baie nadelig vir boere wees.”

Hy hoop daar kom ’n prysregstelling by kleinbokkiehaar. “Dit wil voorkom asof ál meer boere met kapaters begin boer vanweë beter pryse vir dié bokhaar. Dit beteken boere het minder ooie, wat tot ’n kleiner aanwas lei.

“As daar dus weer ’n premieprys vir kleinbokkiehaar is, sal meer mense dalk oorskakel na meer ooie,” sê De Klerk. Dit sal goed wees vir die bedryf, aangesien daar ’n groot vraag na bokhaar van kopers en verwerkers oor die wêreld heen is.

LESOTHO-MARKONTTREKKING

Volgens Van der Vyver is die chaos wat gevolg het op die wetgewing wat in September in Lesotho aanvaar is, ’n groot probleem. Ingevolge die wetgewing mag bokhaar en wol slegs in Lesotho bemark word, wat be- teken nagenoeg 15 0000 boere se bokhaar kry nie meer internasionaal mededingende pryse nie, aangesien daar tans net een koper in dié land is.

“Pogings van Suid-Afrikaanse makelaars om die saak te beredder, was nog sonder sukses. Dit benadeel boere in Lesotho geweldig, en kan potensieel ’n groot impak op die Suid-Afrikaanse bedryf hê.”

Van der Vyver sê plaaslike verwerkers is in ’n groot mate afhanklik van bokhaar uit Lesotho om hul verwerkingsvermoë en -koste te optimaliseer. “Indien Lesotho-haar gaan verdwyn, gaan dit Suid-Afrika baie nadelig raak.”

RAMVEILINGS BEGIN GOED, MAAR DROOGTE PLA

Op grond van die ramveilingseisoen wat begin November op ’n goeie noot begin het, hoop De Klerk produsente sal ook veldramveilings goed ondersteun. Die droogte gaan egter ’n uitwerking op kopers hê. “Boere is bereid om meer vir goeie ramme te betaal. Die droogte demp egter kuddeboere se kooplus.”

Die hoogste prys wat tot dusver betaal is, is R86 000 wat mnr. Jannie Lategan van Aberdeen vir ’n ram van mnr. Roelfie van der Merwe van Aberdeen opgedok het. Die gemiddelde prys vir kudderamme was egter tot dusver nie meer as R5 000 nie. De Klerk hoop dat boere in die droë streke reën sal kry.

“Net reën sal help dat daar voorspoed in die bedryf kom. Boere raak moedeloos . . . hulle kan nie meer nie.” Toestande in groot dele van die produksiestreek – van Aberdeen tot Rietbron, Prins Albert, Leeu-Gamka, dele van Beaufort-Wes en die Klein-Karoo – is tans haglik.

“Ongekende hitte en koue, asook sterk winde aan die einde van die jaar, het veldtoestande geknou.” Volgens Van der Vyver begin die droogte sy tol eis. “Teen die verwagting in het produksie nog nie veel gedaal nie, danksy toegewyde boere en enorme hoeveelhede aangekoopte en geskenkte voer.

“Dit kan egter nie volgehou word nie. Daar is reeds ’n daling van 8% in produksie aangeteken teenoor die ooreenstemmende tyd verlede jaar.” De Klerk reken daar is tans geen produksiegebied waar veldtoestande bogemiddeld is nie. “Dit is moeilik om die aanwas in die komende jaar te bepaal – dit sal eers moontlik wees as die jongbokkiehaar in die somer inkom.”