Die landbou- en banksektor moet unieke struikelblokke oorkom om die landbou se bydrae tot ekonomiese groei te handhaaf. Die interafhanklikheid van boere en banke kan nie genoeg beklemtoon word nie.

Watter benadering volg banke ten opsigte van landbourisiko? Banke neem ’n ra- sionele besluit oor hoeveel kapitaal aan die landbousektor en ander sektore vir uitleen toegedeel kan word. Banke besluit ook aan watter bedryfstakke en in watter streke meer kapitaal aan boere vir uitleen toegedeel gaan word as in ander.

Banke bepaal ook hoe die bank se blootstellingsrisiko verminder kan word deur die doeltreffende bestuur van die geleende kapitaal. ’n Bank wil nie al sy eiers in een mandjie hê nie.

Dus is dit vir banke belangrik om vertakkings oor die hele spektrum van landbouprodukte en -kommoditeite te finansier, pleks daarvan om op die finansiering van een produk of kommoditeit klem te lê. Om risiko te vermy is dit nodig om ’n siening oor die langer termyn oor elke bedryf te neem.

In die keuse tussen sektore word die opbrengs op kapitaal en risikoblootstelling aan die sektor bereken. Die doeltreffendheid van banke se eie risikoprosesse beïnvloed ook hul aptyt vir risiko. ’n Bank se aptyt vir risiko het ’n impak op sy kredietbeleid. As ’n bank se risiko-aptyt toeneem, kan hy besluit om aggressiewer geld te leen.

As sy risiko-aptyt vir die landbou afneem, kan dit lei tot minder beskikbare geleende kapitaal vir landbou en boere. Banke neem ook demografiese veranderinge in aanmerking en dit het ’n invloed op hul aptyt vir landbourisiko op langer termyn.

Byvoorbeeld, die getal boere raak minder, die gemiddelde ouderdom van boere raak hoër en die jonger geslag verlaat die landbou of emigreer.

Interafhanklik

Banke se invloed om landboubeleid te bepaal, is beperk. Lede van die georganiseerde landbou, wat regstreeks geraak word, probeer landboubeleid deurlopend beïnvloed sodat boere optimaal kan produseer. Ander belanghebbendes in die waardeketting word ook deur ’n boervriendelike beleid bevoordeel.

Banke steun dus die georganiseerde landbou, want ’n boervriendelike landbou-omgewing verseker ’n sakevriendelike omgewing vir die hele waardeketting. Die onsekere beleidsomgewing waarin ons nou is, beklemtoon die interafhanklikheid van boere en hul finansiers.

Banke maak op boere staat om hul vermoëns nie net kommersieel nie, maar ook landbouwetenskaplik te illustreer. Dit vorm die grondslag vir ’n motivering om ’n goeie kredietaansoek. Banke wil risiko beperk en op lang termyn steeds kapitaal aan die landbou toedeel.

Boere se uitsette en vermoëns word onderling vergelyk en banke is daarop toegespits om boere met advies en kapitaal te bedien. Boere moet dus seker maak hul produksievermoëns word reg aan banke oorgedra, aangesien finansiële state nie noodwendig altyd die beste bewys is van ’n boer se produksievermoë nie.

interaksie

Produksiedoeltreffendheid is belangrik vir die sukses van banke én boere. Finansiers wat voldoende, ingeligte personeel in die veld het om ’n diens aan boere te verskaf, kan relatief groter risiko’s loop. Diegene wat nie ’n optimale personeel-tot-kliëntverhouding het nie, moet hul risiko’s beperk.

Banke moet dus gereeld hul verhoudingsmodel en die koste daaraan verbonde met boere aanpas. ’n Mens kan dus verwag dat ál meer aansoeke om finansiering tot ’n sekere waarde deur geoutomatiseerde kredietbesluite bepaal gaan word. Kan jy as ’n boer tydige, volledige inligting aan die bank gee, wat ’n ingeligte finansieringsbesluit moet kan neem?

ingeligte besluite

Die differensiaal tussen die markwaarde van grond en die produktiewe waarde van grond verskil van tyd tot tyd. Banke gebruik eksterne waardeerders wat ’n mening gee oor landbougrond se vergelykende verkoopwaarde. Maak seker dat jy in jou lewensvatbaarheidstudies om grond te koop ook die grond se produksievermoë in ag neem.

Huurgrond, waar byvoorbeeld roofbou toegepas was, kan nie dieselfde waarde hê as grond waarvan die voedingstatus mettertyd deur die eienaar opgebou is nie. Neem in ag dat waterregte ook grondwaardes beïnvloed. Besproeiingsgrond wat nie binne wetlike riglyne ontwikkel word nie, se produksiepotensiaal kan ook ’n risiko wees en dan nie as besproeiingsgrond gefinansier word nie.

Gevolgtrekking

Boere én banke is ernstig daaroor en afhanklik van mekaar om die landbou uit te bou. Banke moet ’n balans handhaaf tussen die finansiering van landbougroei en om risiko’s te beperk. Jou produksievermoë moet goed met ander boere s’n vergelyk, want banke gaan daarna kyk. Hulle vergelyk jou produksievermoë met dié van ander boere.

Maak ook seker jy kom die wette na wat op die landbou van toepassing is en deur die georganiseerde landbou gesteun word. Toekomstige regulasies, wat onder meer na transformasie in die landbou kyk, kan ’n groot impak op die volhoubaarheid van landboubedrywighede hê.

Laastens, banke kan nie die agenda voorskryf vir landboubeleid wat die produksie-omgewing vir boere bepaal nie. Boere neem in dié opsig self die leiding. Banke kan wel ondersteuning bied en seker maak hulle verstaan boere se probleme en ondersteun boere se ondernemings in moeilike tye.

Bron: Christo Smith, “Interdependency – our role in ensuring reciprocal sustainability”. Voorlegging aan Agri Limpopo-kongres, Augustus 2018. Hoof: Landboukredietafdeling, Absa

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.