Volgens die internasionale natuurbewaringsliggaam IUCN se rooidatalys is die bloukraanvoël kwesbaar. Die helfte van die totale vrylewende bloukraanvoëlbevolking word in die Overberg en Swartland aangetref, en bykans al die voëls loop op private grond.

Die Trust vir Bedreigde Dierelewe (EWT), wat navorsing oor dié voël behartig, het met die samewerking van die Overbergse Kraanvoëlgroep (OKG) ’n bewusmakingsveldtog aangepak sodat plaaslike boere ’n veilige heenkome vir die bloukraanvoël kan bied.

Dit kom nadat grootskaalse vergiftiging deur veral boere in die 80’s en 90’s die blou- kraanvoëlbevolking kwaai laat daal het. Hoewel groot getalle bloukraanvoëls natuurlike plaagbestryders is deurdat hulle hul kos met insekte en rotte aanvul, vreet hulle graangewasse en voer wat vir kuddes uitgesit is. Hulle kan ook groeiende gewasse vertrap.

Mnr. Keir Lynch, voorsitter van die OKG, sê hulle is dankbaar vir die boere se samewerking. Die grootste bedreiging vir voëls in die Overberg is botsings met oorhoofse kragdrade en verstrengelings in heiningsdraad. Boere lig die OKG in oor sulke voorvalle, wat dit aanteken en Eskom in kennis stel.

Die opstel van vlaggies of geel metaalflappe op kragdrade maak dit dan meer sigbaar vir voëls. Met grondeienaars se samewerking word probleemheinings ook óf verwyder óf meer sigbaar gemaak. Boonop vang en vervoer boere gereeld beseerde voëls na veeartse – dikwels op eie onkoste.

Mnr. Dirkie Uys, ’n boer van Komarsekraal in die Rûens, sê hy kyk na die bloukraanvoëls op sy plaas net soos hy na sy kuddes omsien. “Die bloukraanvoëls op ons plase is ons nalatenskap. Hul bewaring is ons verantwoordelikheid, want ek moet eienaarskap van dít wat op my plaas is, aanvaar.

“Die bewaring van die voëls hou nie by my en my gesin op nie. My plaasmense ken bloukraanvoëls en weet waarvoor om hul oë oop te hou. Hulle hou jong, twee maande oue kuikens dop wat nie kan vlieg of wegkruip nie, want as hulle skrik, raak hulle in die drade verstrengel en moet gehelp word. Dirkie sê die werkers help gereeld beseerde voëls.

“Die plaasmense het selfs al van die voëls na my kinders genoem en is net so opgewonde oor die ses kuikens wat vanjaar op my plaas uitgebroei het as wat ek is. “Ons is dit aan ons toekomstige geslagte verskuldig om seker te maak dat dié statige voëls voortbestaan,” sê Keir. Die OKG doen ’n beroep op die publiek om botsings en verstrengelings aan te meld.

NAVRAE: E-pos: support@bluecrane.org.za; donate@bluecrane.org.za; SMS 084 369 0969