Wes-Kaapse boere was skynbaar van die groot verloorders in ’n aanloklike beleggingskema waarin sowat R3 miljard soos mis voor die son verdwyn het.

Die belegger aan wie dié boere hul geld toevertrou het, wyle mnr. Herman Pretorius, se werksaamhede word nou ondersoek weens die omvang van beweerde bedrog. Pretorius het op 26 Julie selfmoord gepleeg in die dieselfde kantoor waar ‘n kollega van hom doodgeskiet is.

Die lokmiddel in die skema was rente van tot 25% wat aan beleggers belowe is. Te midde van grootskaalse speurwerk om dié verdwene miljard nou op te spoor, word ontstellende bewerings gemaak dat selfs landbou-produksielenings gebruik is om in dié skema te belê. Sommige beleggers het selfs geld teen 10% geleen om in dié skema te belê. En nou is daar dalk niks oor nie.

Mnr. Lee Stoch, ‘n geregistreerde finansiële raadgewer van Darling, het boere op ‘n Nguni-inligtingsdag in die distrik van Malmesbury gemaan om uiters versigtig met hul swaar verdiende geld te wees. Hy het aan Landbou.com gesê dié beleggingskema van Pretorius was baie gewild onder boere – veral in die westelike deel van die Wes-Kaap, soos binnelands van die Weskus. Stoch reken dat boere sowat R1,5 miljard tot R2 miljard in dié skema belê het. Luidens mediaberigte het beleggings ter waarde van tot R3 miljard blykbaar spoorloos verdwyn.

‘Sake het die afgelope tyd skeef geloop’
’n Landbou-ondernemer van die Paarl, wat anoniem wil bly, sê hy het in 1998 ‘n enkelbedrag by Pretorius belê. Die rente op dié bedrag is gekapitaliseer en hy het nooit daarvan onttrek nie. Die huidige waarde van die belegging sou vandag R1,3 miljoen beloop het. “Aanvanklik was daar g’n fout met die beleggings nie, en ek kon dit maklik monitor. Sake het die afgelope tyd egter skeef geloop.” Dié belegger help nou om van die beleggings te probeer opspoor. Hy het ook sy makelaar, wat onder die vaandel van Absa Makelaaars werk, by die Ombudsman vir die Finansiële Bedryf, verkla.

Gerugte doen die ronde dat ’n afgetrede boer van die Swartland sowat R17 miljoen in die skema kwyt is en dat talle ander boere groot bedrae geld aan Pretorius toevertrou het. ’n Ander bekende boer van dié omgewing, het nie te lank gelede nie geld in die King-b eleggings verloor, en hy het nouo ook geld in die Pretorius-skema verloor.

Volgens Stoch het die Raad op Finansiële Dienste (FDR) ook skuld omdat dié raad nie opgetree het toe dié beleggingskema ‘n paar jaar gelede onder sy aandag gebring is nie. Stoch plaas die blaam vir verliese op makelaars. “Ek is ook ’n makelaar, maar tree op volgens die riglyne van my lisensie. Hier is makelaars wat dit nie gedoen het, en hulle sal die gelag moet betaal.” Pretorius het glo aan makelaars ‘n eenmalige kommissie van 15% op ’n belegging wat hulle gewerf het, betaal, maar hulle het daarna boonop ook ‘n maandelikse inkomste van Pretorius ontvang.

‘Ses makelaars het verkas'
Ses makelaars wat uit ’n kantoor in Malmesbury gewerk het, het eendag net nie gebou gesluit en verkas. Hulle anwoord ook nie hul selfone nie, sê Stoch.

Stoch sê die nasleep van die verlore beleggings gaan in die volgende twee tot drie maande na vore tree. Verskeie plase, asook vakansiehuise op Langebaan en Yzerfontein, kom op die mark deur beleggers wat ’n kontantknyp ervaar.

Stoch meen makelaars wat hul kliënte in die Pretorius-skema laat belê het, moet tot verantwoording geroep word, asook die verantwoordbare beamptes van die FDR wie se plig dit is om makelaars gereeld te besoek om te verseker dat hul werksaamhede aan die vereistes voldoen.