Die opskrif wek die indruk dat boere ontevrede was oor die nuwe Eskom-tariewe. Dit was glad nie die geval nie. Aangesien u nou kies om my naam aan die gebeure te koppel, wil ek daarop aandring dat u die feite in die regte perspektief stel.

U kan begin deur die artikels oor alternatiewe energie wat in die tydperk 1981 tot 1986 in LBW verskyn het, weer te plaas, veral die artikel “Son gee vuurwarm plaaskrag” (LBW, 3 September 1983). Daar is baie te leer, selfs vir huidige gebruikers van son- en windkrag. Dit kan egter veral bewys dat ek daardie tyd manalleen vir alternatiewe energie opgestaan het en dawerende sukses behaal het op afgeleë plase.

Om die toestand destyds verder te belig, moet u ook my advertensies plaas. Ek het al hoeveel briewe geskryf oor die bedrogspul met die boerepoelstelsel wat op 1 Januarie 1986 in werking getree het. Die Departement van Energie, Eskom en die Suid-Afrikaanse Landbou-unie (Salu), namens die boere, was die drie partye betrokke.

Die einste mnr. A. du Preez van Salu het in ’n brief in LBW erken dat hulle nie verstaan het waaroor dit gaan nie. Anders as wat die opskrif van u bydrae voorgee, was daar geen boer wat teen die nuwe stelsel gekant was nie. Ek het manalleen daarteen baklei. Menige boer (en boerevereniging) het my destyds uitgemaak as die verraaier; as dat ek in die pad van ontwikkeling staan. Ek het destyds die alleenreg op die patent van die omsetter gehad.

En ek was die enigste mens wat alternatiewe energie voorsien het. As ek destyds op my regte gestaan het, kon ek vandag stinkryk afgetree het. Toe Eskom my met hierdie poelstelsel van die aarde af probeer vee en die boere my boonop uitlag toe ek hulle waarsku dat hulle nog lang trane gaan huil oor hierdie “verniet” lyne, het ek egter gemeen dit sal beter wees om maar aan te hou om my idees aan boere in afgeleë plekke te versprei.

In die 36 jaar sedert ek in 1981 begin het, het ek 2 miljoen kilometer na elke uithoek van die land slegs agter boere aan gery. En ek is nog daarmee besig, al moes ek op 74 reeds baie jare gelede afgetree het. Maar ek kla nie. 

Brief verkort. – Red