Hulle besit ook die onderneming Qbee, wat aan verskeie winkels heuning verskaf. Nelson se broers is ook deel van die familie-onderneming en produseer heuning op Hopefield en Oudtshoorn. 

Is dit waar dat daar meer as 22 verskillende tipes heuning in die Wes-Kaap is?

Ek ken ’n oom wat graag sê daar is meer geure en smake in heuning as in die wyn in die Boland. Die geure hang af van die plant en die nektar. Bloekomheuning is baie gewild, maar met dié dat soveel bloekombome deesdae uit rivierlope verwyder word en niks in die plek daarvan geplant word nie, word bye se habitat geraak. Lemoenboomheuning is net so lekker, hoewel dit deesdae iets is wat baie skaars is. My gunsteling is bloublommetjie-heuning. 

Hoekom is dit belangrik dat verbruikers Suid-Afrikaanse heuning koop?

Ons heuning is van die beste ter wêreld wat gehalte, smaak, geur en digtheid betref. Europese en veral Chinese heuning se waterinhoud is baie hoër as ons s’n. Suid-Afrika is ook die enigste land ter wêreld met fynbos en die unieke heuning wat daarvan gemaak word. Daar is studies wat toon veral ons fynbosheuning is beter as selfs Manuka-heuning uit Nieu-Seeland. 

Watter invloed het die droogte op jul byeboerdery?

Om nektar uit die plante te kry, moet ons 300-350 mm reën per jaar kry. Dit is nou die derde jaar van droogte in ál drie ons produksiestreke – die Weskus, die Boland en Oudtshoorn. Ons heuningproduksie is baie laer. Gewoonlik het ons teen November al sowat 30 ton heuning by Oudtshoorn ingesamel, maar vanjaar het ons nog skaars drie emmers gekry.

By die Klapmutskop-boerdery op Stellenbosch samel ons jaarliks 30-35 ton heuning in, maar die afgelope drie jaar kon ons nie eens ’n derde daarvan kry nie.  Ons samel die meeste heuning by lusernaanplantings in en die boere plant nie tans nie, want dit is te droog. Ons bestuiwingsdienste word ook geraak, want boere haal ouer vrugteboorde uit om water te bespaar. 

Hoe oorleef die bye?

Ons moet hulle nou suikerstroop voer. Jy kan dit in dromme uitplaas of byevoerders gebruik. 

Hoe raak dit die prys van heuning?

Suid-Afrikaanse heuning is tans baie skaars. Die groothandelprys het met sowat 30% gestyg. Dit sal sowat twee tot drie jaar ná die droogte duur vir produksie om na normale vlakke terug te keer.

Wat kan gewone mense doen om te help?

Die Wes-Kaapse Byevereniging werk tans saam met die provinsiale departement van landbou aan projekte om meer byvriendelike plante te plant, veral waar bloekombome in rivierlope uitgehaal word. In Amerika word boere aangemoedig om klawer of lusern tussen hul gewasse te plant om aan bye kos te verskaf. By jou huis kan jy ook byvriendelike plante plant, soos kleurryke vygies of laventel. Dit verskaf nie net nektar nie, maar ook stuifmeel, wat ’n belangrike bron van proteïene vir die jong larwes is. 

Is Amerikaanse vuilbroedsiekte steeds ’n probleem vir die bedryf?

Ons het ’n paar jaar gelede groot verliese gely weens die siekte. Dit gaan nou beter, maar waar ons tien, vyftien jaar gelede sonder siektes kon boer, is die siekte nou hier en moet dit streng beheer word. Dit maak byeboerdery arbeidsintensief, want die swerms moet gereeld geïnspekteer word. 

Is daar ander struikelblokke?

Veldbrande kom al hoe meer voor. Verlede jaar was daar meer as duisend brande in die Wes-Kaap. Ek het verlede jaar 50 korwe by Riviersonderend verloor. Dit was baie van my byeboervriende se lot. Vandalisme is ook ’n probleem. Mense vernietig dikwels sommer ’n klomp korwe op ’n slag.

Waarom bly jy lief vir die byebedryf, ten spyte van al die struikelblokke?

Jy moet hard en taai wees as jy in die bedryf wil volhard, want jy werk nie in maklike toestande nie – altyd in baie warm of baie koue toestande. Alles moet ook met die hand gedoen word; daar is nie masjiene wat kan help nie. Maar ek het in die byebedryf grootgeword. My pa was ook ’n byeboer en my eerste kennismaking met byeboerdery was toe ek seker sowat nege jaar oud was.

Ons het my pa nog gehelp om korwe uit te sny en die koeke dan met ons hande in ’n kom gesit en daarna in ’n pot gekook en laat suiwer. Ná skool was ek 20 jaar lank in die polisiediens, maar ek het as ’n stokperdjie nog sowat 250-300 kaste aangehou en gou bekend geraak as die byeman. Ek en Lynette het in 2010 die Klapmutskop-boerdery gekoop. Ek sê altyd ’n mens kan baie leer by bye; hulle het nie ’n korttermynvisie nie, maar versamel kos vir die toekoms. 

Watter ander byeprodukte en dienste lewer julle? 

Ons verskaf was en propolis (byegom) aan mense en verkoop byeprodukte in ons winkel. Ons verskaf bestuiwingsdienste in veral in die Grabouw- en Ceres-gebied in vrugteboorde (appels, pere en pruime) en by saadgewasse. 

NAVRAE: Webwerf: www.qbeehoneyfarmers.co.za