Met die belegging word nuwe werkgeleenthede geskep, soos die 50 werkgeleenthede by CBH se nuwe Supreme Poultry-aanleg by die Tigane-slagplaas in Noordwes, sê mnr. Marthinus Stander, uitvoerende hoof.

CBH is die houermaatskappy van Supreme, wat bedrywighede in Noordwes en die Vrystaat het.

Die nuwe aanleg is op 4 April amptelik geopen, met kliënte, verskaffers, bestuurspersoneel en senior amptenare van die departemente van landbou, bosbou en visserye, asook van handel en nywerheid wat dit bygewoon het.

By die aanleg, met toerusting wat die jongste tegnologie verteenwoordig, sal ’n nuwe reeks geriefsprodukte bykomend tot Supreme se huidige reeks produkte vervaardig word.

Dit behels gaar, bedekte hoenderschnitzels, -burgervleis, -repies en -happies vir die kleinhandel, groothandel en spyseniering.

Stander sê die bouwerk aan die nuwe aanleg het in Maart 2018 begin.

Verteenwoordigers van die maatskappy het die toerustingonderneming GEA se fabriek in Nederland besoek en daarna die toerusting bestel, wat in Julie 2018 geïnstalleer is.

Fabriektoetslopies het verlede Augustus begin. 

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.