Die besighede het voorheen almal behoort aan Capital Equipment Group (CEG), ’n sake-eenheid van Humulani Marketing Edms. Bpk., wat uiteindelik deur Invicta Holdings Limited besit word.

Benewens Northmec is die ander drie maatskappye wat deur CNH Industrial verkry is, die toerustingverspreider CASE Construction, die onderdeleverspreider NHSA, en Landboupart, ’n verspreider van onderdele en werktuie vir landboutoerusting. Die vier afdelings, wat deel uitmaak van ’n CNH Industrial-regspersoon wat in Suid-Afrika gevestig is, sal steeds sake doen onder hul gevestigde markidentiteite.

Mylpaal

Northmec is reeds langer as ’n eeu betrokke by die Suid-Afrikaanse landbou. Volgens mnr. Jacques Taylor, nuwe besturende direkteur van die maatskappy, sal Case IH se produkaanbod, verkope en ná-afleweringsdienste steeds gelewer word volgens die hoë standaard wat sy klante verwag. Northmec is die enigste verspreider van Case IH-masjinerie, en bied met sy werktuie en ander landboutoerusting ’n volledige reeks vir Suid-Afrikaanse boere. Taylor is die voormalige besturende direkteur van die Afrika-afdeling suid van die Sahara by John Deere en is ook ’n deeltydse boer.

Mnr. Federico Bellotto, voormalige besigheidsdirekteur van New Holland Landbou, is intussen aangestel as hoof van landbou en konstruksie vir CNH Industrial Agriculture and Construction. Hy het gesê die belegging is ’n besondere mylpaal vir CNH Industrial in Suid-Afrika, wat deur die maatskappy as een van die belangrikste markte in Afrika en die Midde-Ooste asook die breër Suider-Afrika-streek beskou word. Dit bewys ook die vertroue van die maatskappy in die landboupotensiaal in die streek, het Bellotto beklemtoon.