Die Covid-19-pandemie het ’n nuwe normaal vir die wêreld ingelui. Die Suid-Afrikaanse vrugtebedryf vaar in onbekende waters, maar wat soos ’n paal bo dié woeste water staan, is die besef dat ’n krisis behoorlik benut moet word. Dít was die onderwerp van ’n webinaar deur die Britse inisiatief Beanstalk.Global, waarby bykans 600 mense wêreldwyd ingeskakel het.

Die Suid-Afrikanse vrugtebedryf, wat jaarliks sowat 3,1 miljoen ton vars vrugte uitvoer (sowat 90% van die totale produksie), is van die begin van die Covid-19-krisis deur probleme oorval.

Hawens groot risiko

Die grootste struikelblok was waarskynlik by die hawens, het mnr. Anton Kruger, uitvoerende hoof van die varsprodukte-uitvoerdersforum (FPEF), gesê. “Die vier hawens wat vars produkte uitvoer, het aanvanklik hul personeel- en toerustingvermoë tot sowat 30% verminder. Sommige is nou weer by 60% van hul vermoë en ander mik al na 80%.”

Middel Mei is personeel van die Kaapstadse hawe egter positief getoets vir Covid-19. Die vraghouerterminaal moes vir 12 uur gesluit word. “Dit gaan ’n deurlopende probleem bly,” meen Kruger.

Volgens mnr. Justin Chadwick, hoof van die Suid-Afrikaanse Sitruskwekersvereniging, is daar aanduidings dat 60% van alle Suid-Afrikaners die virus kan opdoen.

“Daar is baie plekke in die vrugtebedryf waar ’n klomp werkers op ’n slag byeen is – op plase, in pakhuise of kouegeriewe. Die onderskeie entiteite reageer verskillend as ’n werker siek raak. Die hawens is die grootste risiko. As die hawe net vir ’n uur stilstaan, het ons ’n groot agterstand. As dit vir 12 uur sluit, is daar vragmotors wat baie lank buite staan, en dit is moeilik om in te haal.”

Kruger het gesê die beskikbaarheid van verkoelingsvraghouers om produkte te laai, was ook ’n probleem, maar daar is hard gewerk op dit op te los.

“Opeenhopings in hawens reg oor die wêreld lei tot agterstande, logistieke probleme en voorraad wat in pakhuise opbou. Sommige van ons lede moes besluit om hul vrugte in ontvangerlande te stort, die vrag na Suid-Afrika te laat terugkom, of na ’n ander mark te verskeep. Dit kom alles neer op koste, en teen die huidige wisselkoers van R20/euro het dit ’n baie groot impak.”

Boonop het sekere markte skielik hoë invoerheffings en tariewe afgekondig.

“Ons het aanvanklik ook probleme gehad toe koerierdienste nie toegelaat is om te werk nie. Ontvangerlande het op oorspronklike dokumente aangedring, maar ons kon dit nie by hulle uitkry nie omdat daar nie vlugte was nie. Om die dokumente selfs net in die hawe te kry, was ’n kwessie weens die gebrek aan koerierdienste. Gelukkig aanvaar die meeste lande nou elektroniese afskrifte, veral van fitosanitêre sertifikate,” het Kruger gesê.

Lugvervoer was ook nie ’n uitweg nie, sê me. Lianne Jones, bestuurder van die varsproduktebemarkingsvereniging (PMA) in Suid-Afrika. “Uitvoerders het al prysafnames van tot 50% in winsgewende, hoëwaardegewasse (soos druiwe, kiwivrugte, vye en steenvrugte) beleef. Daarby het lugvragkoste twee, drie keer toegeneem.”

Volgens Kruger was vlugte feitlik nie beskikbaar nie. Jones reken egter die mark waarheen die vrugte uitgevoer word, sal deurslaggewend wees in uitvoerders se besluite om wel die duur, skaars vlugte te gebruik. “Die stimuluspakkette in Amerika en Brittanje sal bepalend wees of verbruikers in staat gaan wees om ingevoerde vrugte en groente te koop. As die prys te hoog is, sal verskaffing afneem.

“Baie produkte sal in Suid-Afrika bly en plaaslik verkoop word, waar mense se beperkte inkomste hulle gaan dwing om spaarsamiger te wees,” volgens Jones.

Die inperking het verbruikers se kooppatrone oornag verander. Aanlyn aankope en tuisaflewering het vinnig veld gewen. Die hele verskaffingsketting moes gevolglik higiënemaatreëls instel. FOTO: Getty Images, Warchi

Betalingsprobleme

Boere begin ook agterkom dat kopers nie meer so maklik kan betaal nie. “Die gasvryheidsbedryf, sommige kleinhandelaars en sogenoemde nat markte is gesluit in die meeste lande waarheen ons uitvoer. Dit het tot ’n skerp afname in die verbruik van vrugte gelei. In lande waar dit al heropen het, het verbruikers nie koopkrag nie omdat hulle nie ’n inkomste het nie.

“Groot- en kleinhandelaars sit dus met produkte wat hulle uit Suid-Afrika ingevoer het, maar kry dit nie verkoop nie, of altans nie teen die oorspronklike pryse nie. Dit lei tot betalingsprobleme. In sommige lande is die bankstelsels ook ontwrig, wat vertragings meebring,” het Kruger die donker prentjie geskets.

Buurlande en padvervoer

Wat padvervoer betref, lyk sake nie juis rooskleuriger nie. Slegs 5% van vars produkte word na Afrika uitgevoer, maar ongeveer 30% van alle Suid-Afrikaanse appels. Jones sê weens die geslote grense na buurlande word die verskaffing na die res van Afrika geraak. “Boonop het baie Afrikalande probleme met die olieprys en die verswakking van hul geldeenhede.”

Kruger sê dit was problematies om vragmotors in die buurlande te kry om produkte op Suid-Afrika se varsproduktemarkte te koop en terug te neem. By grensposte het vragmotors dikwels in rye van kilometers lank gestaan om papierwerk af te handel. Kleiner maatskappye moes ook skielik planne beraam om hul produkte in lande soos Mosambiek, Zimbabwe en Zambië te kry. Samewerking met groter pakhuise en organisasies wat reeds die permitte en vervoer gereed het, was dikwels die antwoord.

Kleinhandelaars se situasie

Wat kleinhandelaars betref, is die militêre begrip adapt and overcome ’n goeie manier om die afgelope paar weke te beskryf, sê me. Liz van Niekerk, hoof van vars produkte en tuinbou by Pick n Pay. “Dit was regtig wild. Eers was daar die tyd van paniekaankope voor die inperking. Dit was onbepland en deurmekaar. Ons moes gou leer om die nuwe stelsel van vraag en aanbod te verstaan.”

Uit vrees vir die weermag, polisie en padblokkades het verbruikers se bewegingspatrone gedurende vlak 5 van die inperking verander.

“Mense het inkopiesentrums vermy en eerder by kleiner, plaaslike winkels gekoop. Verkope in byvoorbeeld die Kaapse Waterfront het skerp gedaal. Nie lank daarna nie het ons besef ons het met ’n nuwe normaal te doen, en ons het besef die ekonomiese invloed gaan verreikend wees.”

Sedertdien word besin oor hoe die ekonomie en die kleinhandel oor ses maande gaan lyk. “Daar is veranderinge in vraag, asook verskillende nuanses oor demografiese vlakke. Tans is ons gelukkig dat ons kan handel dryf, en verkope is goed.”

Al hierdie nuwe besluite moes via die platform Zoom geneem word. “Dit was moeilik om groot groepe mense, almal by die huis en op Zoom, agter ’n nuwe doelwit te verenig. Dit was egter ook wonderlik om te beleef hoe tegnologie ’n bydrae lewer om so ’n groot besigheid aan die gang te hou. Dit was nie maklik nie, maar beslis opwindend.”

Volgens Van Niekerk het klante se behoeftes drasties verander. Dit is veral in mense se eetpatrone waargeneem. “Weens die verbod op die verkoop van alkohol het die verkope van interessante produkte, soos pynappels, die hoogte ingeskiet. Blykbaar maak sommige mense bier daarvan.”

Verkope in inkopiesentrums het begin styg toe die inperking na vlak 4 beweeg het en klereverkope weer toegelaat is. “Die patrone verander egter elke dag. Ons begin elke dag met ’n spanoproep waar ons na die syfers van die vorige dag kyk. Dit is hoe ons deesdae die besigheid bestuur – kyk na wat gister gebeur het en probeer bepaal wat dit vir môre beteken.”

Een ding wat egter duidelik was, was volgens Van Niekerk ’n nuwe waardering vir wat boere en kleinhandelaars doen. “Sowat 90- 95% van wat ons verkoop, word in Suid-Afrika geproduseer en plaaslik verkry. Nie baie lande kan dit sê nie.”

Die kleinhandelaars moes egter oornag van hul produklyne opskort. “Baie daarvan was nie uit eie keuse nie, maar ons is gereguleer deur die regering, wat streng, vreemde reëls ingestel het.

“Ons werk met produkte wat in die algemeen ’n kort raklewe het, en vermorsing is hoog. Aan die begin van die inperking was daar dadelik baie onsekerheid. Ons eerste stap was om die ingewikkeldheid te verminder om die risiko vir vermorsing te beperk. Ons moes dus oornag sowat 30% van ons reekse opskort. Teen middel Mei is dit nog nie teruggebring nie.

"Ons praat baie daaroor: Gaan dit vir altyd wees? Baie mense is by die huis, die behoefte aan geriefs- en klaarbereide kos het verdwyn. Mense besef hulle kan self kook en dit is boonop goedkoper. Wat gaan die posisie van geriefsprodukte oor die volgende twaalf maande wees, veral namate die druk op mense se salarisse toeneem?”

Pick n Pay moes op sy voete dink om ’n afle- weringsdiens aan klante te bied tydens die grendelstaat. Hy het daarvoor met die Bottles-toepassing saamgespan. FOTO: PICK n PAY

Aanlyn planne

Waar die kleinhandelaars kon aanpas en munt slaan uit nuwe geleenthede, het dit goeie resultate opgelewer – veral wat aanlyn verkope betref. Van Niekerk sê die Suid-Afrikaanse kleinhandel is nog in sy kinderskoene met aanlyn verkope, veral omdat die land so groot is en dit moeilik is om die diens aan alle huishoudings te lewer.

“Ons glo jy moenie ’n goeie krisis vermors nie. Dit was dus die ideale tyd vir projekte waarby jy nooit uitkom nie, soos afleweringsdienste. Suid-Afrikaners is vindingryk, en baie informele besighede het oornag op die toneel verskyn, soos ’n swembroekwinkel in die Wes-Kaap wat nie toegelaat is om swembroeke te verkoop nie, maar begin het om vars produkte te versprei. Ons moes ook op ons voete dink oor wat ons kon doen.”

Pick n Pay het byvoorbeeld saamgespan met Bottles, ’n toepassing wat gewoonlik drank aflewer, maar nou Pick n Pay se afleweringsdiens in stedelike gebiede behartig. Dit werk basies soos Uber, met die toepassing wat ’n bestuurder in die gebied in kennis stel van die bestelling. Die bestuurder gaan doen dan die inkopies en lewer dit af. “Die spoed waarteen ons sekere aanbiedings kon reël, was ongehoord, al was dit ’n bietjie ‘boer maak ’n plan’. Aanlyn is beslis ’n groot geleentheid, en ons is nog nie naastenby waar ons kan wees nie.”

Planne vir die toekoms

Jones sê die een silwer randjie in die Covid-wolk is dat mense waarskynlik nog baie lank hul gesondheid ernstig gaan opneem. “Mense besef opnuut gesondheid is een van die belangrikste dinge wat jy kan hê. Kos se voedingswaarde bly belangrik. Daarom glo ek daar sal in die komende maande ’n opswaai wees. Mense sal bereid wees om meer te betaal vir voedsame kos van goeie gehalte. Dit sal wêreldwyd die geval wees, want mense moet eet en hulle moet gesonder kos eet.”

Sy meen egter die kanale om kos by verbruikers te kry, gaan verander. “Suid-Afrika het uitstekende boere en ’n verskaffingstruktuur. Ek reken baie besighede gaan diversifiseer en vars produkte deur ander kanale lewer, soos aan townships, waar dit in die verlede beperk was. Dit sal landwyd toegankliker word deur tuisaflewering, spazawinkels en selfs mobiele spazawinkels.” Van Niekerk stem saam, maar sê die werklikheid is dat ondernemings “superskraal” moet raak om te oorleef en die beste pryse moontlik te bied. “Daar is opwindende geleenthede met nuwe markte en ’n nuwe begrip oor die vraag op die mark. Ons sal waardekettings egter moet fynkam om te sien waar ons ekstra koste kan uitskakel. Ons sal vaardighede moet slyp, koste moet bekyk en die volhoubaarste model moet vind sodat ons die boere kan betaal wat ons moet, maar ook vir die klant ’n meer waardegedrewe aanbod kan bied.”

Suid-Afrikaners se geneigdheid om eerder ’n probleem te pak as om daarvan te vlug, gaan die bedryf beslis help om die wa deur die drif te trek, reken mnr. Clayton Swart van die Suid-Afrikaanse Tafeldruifbedryf (Sati). “Suid-Afrikaners floreer in ’n krisis. Daar is geleenthede om saam met die regering moontlikhede in die waardeketting te ontsluit deur private-openbare-vennootskappe.”

Dís die syfers

Me. Lianne Jones, bemarkingspesialis, het dié belangrike statistieke op Beanstalk.Global se webinaar oor Suid-Afrika verstrek: 82% van Suid-Afrikaners is bang en bekommerd oor die huidige situasie. Hul finansiële welstand en gesondheid is hul grootste bekommernis. 53% van Suid-Afrikaanse huishoudings glo hul inkomste gaan geraak word. 73% van verbruikers verkies om eerder nader aan hul huis inkopies te doen as by die winkel wat hulle voorheen verkies het. Verbruikers verkies ook kleiner winkels (soos Spar), want hulle voel ietwat veiliger in so ’n inkopie-omgewing. 63% van verbruikers probeer dieselfde handelsmerk as voorheen koop.

Suid-Afrikaners gee om

Kleinhandelaars, boere en gewone Suid-Afrikaners het op verskillende maniere gehelp om armes se nood te verlig. “Dit is die mooi deel van die bedryf,” sê mnr. Anton Kruger, uitvoerende hoof van die vars- produkte-uitvoerdersforum (FPEF). “Daar was groot projekte om seker te maak vars produkte word geskenk om honger mense te voed.”

Me. Lianne Jones, bestuurder van die varsproduktebemarkingsvereniging (PMA) in Suid-Afrika, sê die reaksie van veral kleinhandelaars was ’n riem onder die hart. “ ’n Winkelgroep soos Checkers het byvoorbeeld bonusse aan sy personeel betaal om in die voorste linie te werk. Kettingwinkels is nie net besorg oor hul personeel nie, maar het ook voedselprojekte van stapel gestuur om Suid-Afrikaners wat op die broodlyn leef en sukkel om kos in die hande te kry, te help.”

By Pick n Pay was dit me. Suzanne Ackerman-Berman, hoof van die Pick n Pay-stigting, wat gesorg het kospakkies kom uit waar dit nodig is.

“Sy noem haarself die CEO, oftewel chief emotional officer,” vertel me. Liz van Niekerk, hoof van vars produkte en tuinbou by Pick n Pay. “Ons sake was goed, en ons kon ’n verskil in Suid-Afrika maak. In Brittanje is lae kospryse baie belangrik, want dit lei tot mededingendheid. In Suid-Afrika is dit egter ’n basiese behoefte, want mense het nie geld nie, maar moet eet. Die werk wat ons met kospakkies doen, is vir ons net so belangrik soos die geld in die kasregisters.”

Mnr. Justin Chadwick, hoof van die Sitruskwekersvereniging, sê boere se onbaatsugtigheid was opvallend. “Ek is geraak deur boere se vrygewigheid om produkte na gemeenskappe te neem en vir die armes kos te gee. Dit wys hoeveel mense omgee. Ek hoop ons gaan dit vorentoe saam met ons neem.”

duurder vrugte sukkel, sitrus gesog

Die verkope van duurder vrugtesoorte daal skerp vanweë ’n betekenisvolle verandering in die manier hoe mense koop tydens die Covid-19-pandemie. Terselfdertyd is daar egter ’n skerp styging in die vraag na sekere tipes sitrus.

“By die kettingwinkelgroepe Spar, Woolworths en Pick n Pay was daar ’n 30-50%-afname in die verkope van duurder vrugsoorte, soos druiwe, kiwivrugte, vye en steenvrugte. By onafhanklike kleinhandelaars was daar ’n daling van 80-90% by hierdie vrugtipes,” het me. Lianne Jones, bestuurder van die vars- produktebemarkingsvereniging (PMA) in Suid-Afrika gesê.

Dit was deel van die Britse Beanstalk.Global se webinaar oor die Suid-Afrikaanse varsproduktebedryf.

“Ons sien egter ’n ontploffing in sitrusverkope. Een van die kleinhandelaars het in die eerste week van die inperking ’n 200%-styging in sitrusverkope gesien teenoor die ooreenstemmende week verlede jaar. Die groei kom veral voor by lemoene, suurlemoene en pomelo’s. Die groei in sagtesitrus was stadiger.”

Dit stel egter nie vir mnr. Justin Chadwick, hoof van die Sitruskwekersvereniging, gerus nie. “Almal dink ons is in ’n goeie posisie, maar ons staan aan die begin van die bemarkingstyd en daar is baie onsekerheid. Dit is soos om ’n donker kamer binne te stap. Ons het ’n goeie oes aan die bome en as ons dit by die verbruiker kan kry, lyk dit of die verbruiker dit sal wil koop. Ons is egter bekommerd oor die logistieke ketting.”

Hy sê die Europese mark blyk sterk te wees en behoort baie sitrus in te voer. “Asië is egter vanjaar riskant. Anders as in die Weste glo die Oosterlinge nie dat vitamien C ’n kuur vir verkoue en griep is nie. Hul dokters meen ’n mens moet eerder meer melk drink en vleis eet. Die nat markte in Asië ondervind ook probleme. En dan is daar die gasvryheidsbedryf, wat gewoonlik baie suurlemoene aankoop. Ons is bang dat die vraag kan val omdat dié bedryf tans dood is.”

Die sluiting van die gasvryheidsbedryf weens Covid-19 het ernstige probleme vir Suid-Afrika se vrugte- en groenteboere gebring, meen Jones. “As ’n land het ons die hoeveelheid vars produkte onderskat wat die gasvryheidsbedryf verbruik.”

Pryse op Suid-Afrika se varsproduktemarkte was op ’n maandgrondslag in April 6% laer, en die verkope 9% laer. “Die varsproduktemarkte kry dus pak. Ons sien dit oorspoel na stapelvoedselsoorte, soos aartappels, wat 8% in volume gedaal het.”

Wat Suid-Afrika se buurlande betref, sê Jones: “Daar was ’n groot ommeswaai na produkte wat noodsaaklik is, soos mielies, rys en aartappels. Die vraag na groente het baie afgeneem, buiten tamaties, uie en blaargroente, soos spinasie en kool.”