Vleilande is van die mees bedreigde habitatte ter wêreld en watervoëls en ander organismes ly toenemend hieronder. Boerderypraktyke dra ook by tot hierdie habitatsverlies, daarom kan boere hand bysit om habitatte vir watervoëls te skep. Die groot aantal plaasdamme in Suid-Afrika kan ’n belangrike rol speel om water- voëlbevolkings te ondersteun.

Die handleiding, Floating wetlands: Increasing biodiversity and cleaning water, is gratis beskikbaar. Dit verduidelik hoe habitatte vir watervoëls en ander vorms van biodiversiteit geskep kan word, terwyl die watergehalte terselfdertyd verbeter word. Die benadering behels dat verskeie soorte plante op drywende eilande op plaasdamme en die walle van damme gevestig word.

Dit skep habitatte waarin voëls en ander vorms van biodiversiteit kan floreer. Dit rehabiliteer as ’t ware die ekologiese funksionering van mensgemaakte sisteme. Boere kan dus help om die nadelige impak wat die bou van plaasdamme op die omgewing het, te verminder, en ook biodiversiteit aanhelp.

Die handleiding beskryf in besonder hoe om die drywende eilande te skep en watter plante vir die doel aangewend kan word. Laai dit hier af: goo.gl/k7GfHP

Groot voordele

Deur inheemse plante op damwalle te plant en kunsmatige, drywende eilande op die damoppervlak te vestig, word oortollige nitrate boonop verwyder. Watergehalte word sodoende verbeter. Boonop is daar ander voordele as jy meer voëls en ander organismes lok. Voëls verrig “ekosisteem-dienste” in die landboukundige landskap.

Hulle bekamp byvoorbeeld plae, soos knaagdiere en insekte. Daar is ook toerismegeleenthede wat nie onderskat kan word nie, want voëlkykery raak toenemend gewild. Plaaslike en oorsese voëlkykers, asook voëlklubs, is voortdurend op soek na nuwe plekke om hul stokperdjie te beoefen. ’n Boer kan veral besoekers lok met skuilings, uitsigpunte en wandelpaadjies na sulke damme.

Dit hou die belofte in van ’n nuwe en volhoubare inkomstestroom vir landboutoerisme en gasteplase in die algemeen.

Dít moet jy plant

Watter soort plantegroei is belangrik vir voëls by damme? ’n Strook met ruie plantegroei en rietbeddings rondom die dam skep ’n habitat vir voëls om kos in te soek, nesmateriaal te versamel en te broei. Skugter voëlsoorte, soos rietreiers, nagreiers en riethane, vind ook baat by papkuil en matjiesgoed.

Waadvoëls verkies weer vlak water en sandbanke rondom die dam waarin hulle kos kan soek en slaap. Die vlak water en modderigheid huisves verskillende insekte en ander organismes wat ’n verskeidenheid voëls kan benut. Met ’n sagte helling na vlak water aan een kant van die dam sal jy waadvoëls, soos die driebanddrawwertjie, lok.

Ander voëlsoorte, soos eende en bleshoenders, slaap weer op oop water om roofdiere te vermy. Bleshoenders bou drywende neste tussen waterplante. Vleilande met meer vlak water is meer produktief omdat lig kan indring en onderwater-plantegroei aanmoedig. Die aantal bleshoenders in verhouding tot die grootte van die vleiland is ’n baie goeie aanduiding van die gesondheid van oop stukke water.

Alle voëls verveer minstens een maal per jaar en is dan baie kwesbaar vir roofdiere of -voëls. Groot getalle kopereende sal dan byvoorbeeld modderige areas en sandbanke benut omdat dit naby water is, hulle van daar af beter kan sien en hulle veilig voel in groot swerms.

Diverse strukture

Groot bome naby die water sal ook ’n verskeidenheid ander voëlsoorte lok. Party eende broei in boomholtes en duikers en reiers benut dooie of lewende bome in en om die water. Verskeie soorte voëls slaap in bome en visvangers sal byvoorbeeld van die takke af jag.

Daar is bewyse dat uitheemse bome naby damme, met baie ruie plantegroei of groot, kaal banke die voëllewe en -diversiteit verminder. Diverse plantegroei-strukture verbeter egter die kans vir verskillende soorte voëls om te kan vreet, slaap en broei.

Dr. Anton Odendal is die voorsitter van BirdLife Overberg. Hy woon op Hermanus.

Navrae: Mnr. Dale Wright, e-pos: dale.wright@birdlife.org.za; sel 072 562 3946. ’n Groot aantal voëlkykklubs is aktief in Suid-Afrika. Kontak Shireen Gould by membership@birdlife.org.za vir die kontakbesonderhede van ’n klub in jou geweste.