Dreigende regsoptrede deur die graanbedryf is vroeër afgeweer toe die departement onderneem het om met die bedryf oor ’n werkbare stelsel te onderhandel. Nadat oor ’n plan van aksie ooreengekom is, moes LEAF onlangs oor sy sakeplan kom verslag doen. Manie verneem dit het maar op ietwat van ’n fiasko uitgeloop met beamptes van LEAF wat steeds geen benul het hoe die graan- en oliesadebedryf inmekaarpas en waar die inspeksiepunte is wat hulle wil polisieer nie.

LEAF moet nou sy huiswerk van voor af doen en met elkeen van die onderskeie kommoditeitsgroepe oorleg pleeg oor die hoeveelheid en kategorieë van inspeksiepunte. Eers dán moet hy met ’n nuwe sakeplan vorendag kom. Om die inspeksiediens werkbaar te probeer maak, het verteenwoordigers voorgestel ondernemings in die bedryf moet in hoë, medium- en lae risiko kategorieë verdeel word sodat ondernemings van lae en mediumrisiko in ’n mindere mate aan inspeksies onderhewig kan wees.

LEAF, bestaande hoofsaaklik uit ’n groep vroue uit die Oos-Kaap wat deur die minister aangestel is voor daar nog ’n woord met die bedryf daaroor gepraat is, toon egter min begrip vir die omvang van dít wat hulle beoog. Net kommersiële opbergingsgeriewe vir graan is reeds altesame 684.

Moedelose bedryfslede sê dit voel of hulle terug is by die beginpunt. Hulle het ernstige bedenkinge oor die werkbaarheid van só ’n inspeksiediens. Die ergste is dat dit as ’n diens aan bedrywe voorgehou word, terwyl dit eintlik ’n taak van die departement is wat hy op ’n private onderneming afgeskuif het. Nou verwag hy betrokkenes in die graanbedryf moet daarvoor betaal – ’n verwagte R60 miljoen per jaar in LEAF se geval.

Bedryfsleiers weier egter om ’n blanko tjek aan iemand te gee om geld te maak as die inspeksiediens nie prakties uitvoerbaar is nie. Nog sulke inspeksiedienste wat die standaarde vir landbouprodukte moet toets, is sedert ’n jaar gelede ook vir ander bedrywe aangestel. Oral word daar nou geworstel met die praktiese toepassing daarvan.

Waar is die Bokhaartrust?

Dit is met bewondering dat ’n mens hoor van die yslike skenking van mielies en lusern wat deur die grootbaas van ’n groot bokhaarkoper en -verwerker vir Angorabokboere in die droogtegeteisterde produksiegebiede gereël is.

Die geld vir die voer is deur die voorsitter van die maatskappy, wat nie graag sy naam wil noem nie, se familie bewillig deur middel van samewerking met hul buitelandse sakevennote. Altesame 15 vragte voer is afgelewer teen ’n koste van heelwat meer as ’n miljoen rand. Die Sybokhaartrust het darem die helfte van die vervoerrekening betaal.

Die ander deel is deur die SA Wol- en Bokhaarkopersvereniging (Sawamba) geborg. Nou wil bokhaarboere (van wie talle op hul knieë is weens die voortslepende droogte) weet waarom buitelanders hulle help en hoekom hulle nie meer ondersteuning van hul eie organisasies kry nie. Die Sybokhaartrust is immers nagenoeg R300 miljoen sterk.

Die trust, wat sy bestaan hoofsaaklik aan boere se swaarverdiende geld te danke het, is jare gelede gestig ná die afskaffing van die landboubemarkingsrade. In daardie oorgangsera was daar vrese dat die nuwe Regering beslag sou lê op die destydse Bokhaarraad se geld, wat ook gedien het as ’n stabilisasiefonds vir swak markpryse. Die geld is in ’n trust geplaas en Manie hoop dit bly veilig.

Trust se inkomste

Die inkomste van die trust, soos dit nou daar uitsien, word skynbaar vir ’n aantal noodsaaklike dienste aangewend. Talle produsente meen indien van dié geld nie vinnig vir droogtehulp gebruik word nie, die bedryf nooit weer sal kan herstel nie.

Soos dit is, krimp die hoeveelheid Angorabokboere saam met produksie. Die lewering van kleinbokkiehaar word elke jaar net minder. ’n Paar miljoen rand se droogtehulp uit daardie groot neseier van die trust kan sekerlik nie veel skade doen aan strukture nie? Die vraag is of dit nodig is om op só ’n klomp geld te sit terwyl Rome brand?

As dinge só aangaan, is daar een van die dae glad nie ’n bedryf oor nie. Wat word dan van die trustgeld? wil die boere weet. Een van die min groot boere wat nog in die bedryf oorbly, het ’n goeie voorstel. Hy reken die Sybokhaartrust moet só bestuur word dat dit Angorabokboere tydens noodsituasies ondersteun.

Die hoeveelheid produsente en haar wat in elke distrik geskeer word, is tog bekend. Dus behoort dit maklik te wees om, nog lank voor ’n droogte sy tol eis, te bepaal hoeveel voer elke gebied sou benodig – en om daarvoor te begroot. Dan sal almal weet waar hulle staan en nie nodig hê om staat te maak op filantropiese buitelanders nie.

Plan verloop nie soos dit moet

Prof. Mohammad Karaan, die landbou-argitek binne die Nasionale Ontwikkelingsplan, het onlangs sy ontevredenheid met die verloop daarvan uitgespreek. Hy sê hy voel hy het misluk.

“Ek het gedink ek gaan een van die pioniers in die sektor wees om die landskap te verander, maar dit het nie gebeur nie.” Hy sê daar is talle redes vir die mislukking, maar die grootste probleem het te doen met die staat wat polities gedrewe beleid probeer koppel aan ekonomiese werklikhede. “Suid-Afrika se ekonomiese prestasie is so swak omdat die Regering die ekonomie wil ontwikkel deur die eienaarskap daarvan te verander. ’n Mens kan nie die eienaarskap van ’n bate verander sonder om eers die eienaarskap van die kundigheid daaroor te verander nie.”

Dit is veral waar vir ’n hoogs mededingende sektor, soos die landbou, waar die getalle van kommersiële boere in sy leeftyd al van 120 000 tot byna 20 000 gedaal het. Nogtans glo hy in die aanpasbaarheid van Suid-Afrikaanse boere. Hy meen die sektor staan aan die begin van ’n nuwe tydperk van voorspoed. Hy sê byvoorbeeld dat die landbou se rekordskuld van meer as R160 miljoen ’n goeie ding is.

Dit beteken die landbou is besig om sy toekomstige groei te finansier vanaf sy eie bate-grondslag. Hy het ook verwys na die landbou se handelsbalans wat met 6% groei (bykans die helfte daarvan is in Afrika), die landbou se reusebydrae tot die groei van 2,5% in die bruto binnelandse produk die afgelope kwartaal en ook die rekordoeste wat gehelp het om voedselinflasie onder 6,8% te hou.

Hy meen lae voedselinflasie is ’n deurslaggewende bestanddeel vir maatskaplike stabiliteit. Volgens hom kry die landbou nie altyd die erkenning wat dit verdien nie. Gegrond op die landbou se dienslewering aan die bevolking, meen Manie dat daar eerder ’n standbeeld vir boere as vir ’n president opgerig moes gewees het.

Orkaan

’n Orkaan tref ’n plaashuis in Amerika kort voor dagbreek. Dit ruk die plaashuis se dak af, lig die bed op waarop die boer en sy vrou lê en slaap en voer dit mee tot in ’n ander deel van die distrik. Die vrou begin huil.

“Moenie bang wees nie, skat,” sê die boer. “Ons is veilig en het nie seergekry nie.” Die vrou bly egter huil.

“Ek is nie bang nie,” sê sy tussen die snikke deur. “Ek is baie bly! Dit is die eerste keer in 15 jaar dat ons saam weg van die plaas af is.”