Suid-Afrika se bruto binnelandse produk het verlede jaar op ’n jaargrondslag met 1,3% gegroei. Die verwagting is dat die ekonomie vanjaar met 1,7% kan groei en volgende jaar met 2%. Die ekonomiese groei kan beter wees as Suid-Afrika daarin kan slaag om die begrotingstekort te verminder en sakevertroue te bevorder.

Die Regering moet ook beleggersvertroue bevorder en politieke steun behou. Die arbeidsektor is sterk in unies georganiseer en kan ekonomiese aktiwiteite ontwrig. Op maatskaplike vlak word groter eise aan die nasionale begroting gestel en die onenigheid in die regerende party help nie.

Dit beperk die Regering se vermoë om die ekonomie te hervorm en ekonomiese groei te optimaliseer. Suid-Afrika se tekort op die lopende rekening (invoer oorskry uitvoer) is ’n las omdat hierdie tekort gefinansier moet word.

As die Federale Reserwebank die verwagte rentekoersverhogings in Amerika gaan deurvoer, kan minder kapitaal na Suid-Afrika toe vloei, wat tot finansiering teen hoër rentekoerse sal lei.

Suid-Afrika se verwagte groei word gegrond op sterk en onafhanklike instellings, geïndustrialiseerde ekonomie, die opkoms van ’n sterk middelklas en ’n goeie sakeomgewing met uitstekende lug- en seevraggeriewe. Suid-Afrika se ekonomiese groei word egter gekniehalter deur werkloosheid, armoede en die hoë misdaadsyfer.

Die wisselkoers en wisselvallige rand hou risiko’s vir beleggers in.

Ruoliepryse

Die pryse van Brent-ruolie het oor die afgelope 12 maande van ’n laagtepunt van $43,03 per vat tot ’n hoogtepunt van $81,42 per vat gestyg. Die pryse van Brent-ruolie het intussen teruggesak tot $74 per vat. Ruoliepryse het om twee redes skerp gestyg.

Eerstens het die vraag na ruolie met die herstel in ekonomiese groei wêreldwyd toegeneem. Tweedens beperk die Organisasie van Petroleum- uitvoerlande die aanbod van ruolie. Die samewerking tussen Rusland en Saoedi-Arabië het ’n groot rol gespeel om die aanbod van ruolie te beperk.

Die ontginning van skaliegas en olie in Amerika dra egter daartoe by dat ruoliepryse nie verder styg nie. Die toename in produksie in Amerika het ’n groot deel van die ruolieproduksie in konflikgeteisterde lande, soos Sirië, vervang.

Danksy die toename in Amerika se selfvoorsienendheid wat energie betref, kon dié land ook groter druk op Iran en Noord-Korea uitoefen. Die gemiddelde prys van die ruolieprys was verlede jaar ongeveer $55 per vat. Dit kan vanjaar $70 per vat wees.

rentekoerse

Hoër rentekoerse in Amerika lei tot ’n sterker Amerikaanse dollar, wat die terugbetaling van skuld bemoeilik. Die ekonomiese groeikoers in Argentinië, Brasilië en Mexiko is onder druk en hulle moet die waarde van hul geldeenhede deur rentekoersverhogings beskerm.

In Suid-Afrika dra die hoër brandstofpryse, kleiner bydrae van die landbou tot ekonomiese groei en rentekoerse wat tot dusver op laer vlakke gehou is, by tot ’n toename in inflasie. Die Reserwebank het die monetêre beleidskoers (repokoers) in Maart met 25 basispunte tot 6,5% (’n primakoers van 10%) verlaag.

Dit dra ook by tot die toename in inflasie. Inflasie is egter steeds binne die Reserwebank se grense van 3-6%. Die inflasiekoers was 4,5% in April. Die gemiddelde Suid-Afrikaanse inflasie kan vanjaar 4,7% beloop, maar volgende jaar tot 5,8% toeneem.

Rentekoersverhogings kan nie vir volgende jaar uitgesluit word nie. Die impak van die hoër BTW, die verwagte swakker rand en hoër brandstof- en voedselpryse kan tot ’n toename in inflasie lei. Die Federale Reserwebank het reeds aangedui dat rentekoerse in Amerika gaan styg.

As dit vroeër deurgevoer word en dit tot ’n sterk dollar maar swakker rand lei, kan die Suid-Afrikaanse Reserwebank rentekoerse gouer en meer verhoog as wat beoog is.

Risiko’s

As politieke en ekonomiese toestande verswak, kan ’n afgradering van Suid-Afrika se kredietgradering tot ’n nog swakker rand lei. Dit sal sakevertroue skaad en tot ’n skerp toename lei in die koste van skuld vir die Regering en die private sektor. Staatsondernemings se skuld bly ’n probleem vir die Regering.

As die Regering ’n reddingsboei vir Eskom gaan uitgooi, maar dit nie met die nodige strukturele aanpassings deurvoer nie, sal dit beleggersvertroue ondermyn en uitleenkoerse op kort termyn skerp laat toeneem. Produsente moet weet wat die makro-ekonomiese faktore vir die landbou inhou.

Finansieringskoste word daardeur geraak, asook die rand se waarde wat verwagte pryse vir uitvoer en vir binnelandse markte bepaal. Die pryse van ruolie is hoër en dit kan tot hoër produksiekoste vir die landbou lei. Die prys van ruolie behoort die res van die jaar tussen $67 tot $73 per vat te wissel.

Die verwagting is dat die rand in Desember tot R14/dollar kan verswak en volgende Junie teen R14,50/dollar kan verhandel.

 Mnr. Wessel Lemmer is ’n senior landbou-ekonoom by Absa-Agribesigheid in Johannesburg.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.