Mnr. Edmond Chiviru is in die Mashonaland-distrik in Zimbabwe ge- bore, waar sy ouers op kommunale grond geboer het. Die familie het op klein skaal met mielies, sorghum, grondboontjies, sonneblom, giers, sojabone en pampoen geboer. Daar was ook klein lappies groente met rape, kool, spinasie, okra, tamaties en blaarslaai. “Ons moes dit wat ons gekweek het, verkoop om te lewe en om geld te kry om skool toe te gaan. Ons het ons produkte aan hospitale, skoolkoshuise en op die dorpsmark verkoop. My pa het elke tree saam met ons geloop en ons geleer hoe om sake te doen en reg te boer.”

Edmond het later ’n landbougraad aan die Universiteit van Zimbabwe in Harare verwerf, waarna hy op ’n hoenderplaas net buite die stad gaan werk het. Daar het hy baie ondervinding opgedoen en baie geleer – nie net van kuikens, eiers en lêhenne nie, maar ook van beesboerdery, boerbokke, melkery, hoeveel en wat die verskillende diere vreet, en hoe daar na hul gesondheid omgesien moet word. Daarna het hy as landboukundige by Barclays Bank begin werk. “In Zimbabwe het die banke die meeste van hul geld gemaak deur geld aan boere te leen. Die bank het my nodig gehad omdat ek boerdery ken.”

Groot potensiaal

Edmond het ver en wyd deur Afrika vir die bank gereis en Botswana, Zambië, Mosambiek, Tanzanië, Uganda, Kenia, Ghana, Egipte en die Demokratiese Republiek van die Kongo besoek. Só het hy wye kennis oor die stand van die landbou in Afrika opgebou. Daarom praat hy met gesag daaroor. “Afrika is die enigste vasteland op aarde waar daar nog landbougrond is wat sedert die skepping nog nie gebruik is nie. Hier is baie grond beskikbaar. En dan is Afrika ook nog ’n vasteland waar die omgewing nie so besoedel is deur nywerheidsafval soos in ander dele van die wêreld nie,” sê hy.

Vandag woon en werk hy as ’n landboukonsultant in Kampala, hoofstad van Uganda. Edmond meen Uganda is een van die Afrikalande wat die voortou kan neem om vir Afrika se miljoene honger mense kos te produseer. Dié land het baie goeie reënval, ses varswatermere, talle riviere, 2,5 miljoen bestaans- en kleinboere en ’n handjie vol kommersiële plase. Saam produseer hierdie boere genoeg voedsel vir die land.

As die beeste gelaai moet word vir die mark op die dorp, maak ’n man ’n plan om dit daar te kry.
Koffiebone word in die son gedroog. Dis een van Uganda se belangrikste uitvoerprodukte.

Die Afrika-ontwikkelingsbank het onlangs sowat $80 miljoen (R1 miljard) aan Uganda geleen om dié Oos-Afrikaland se landbousektor te help met ontwikkeling. Die plan is dat meer as 14 miljoen mense by die projek sal baat vind. “Hier in Afrika is dit my ondervinding dat al hoe meer plaaslike boere begin teruggaan na die kweek van die oorspronklike, inheemse gewasse wat goed gegroei het oor die eeue heen en waarmee ons voorvaders geboer het. Die rede daarvoor is dat dié gewasse goed hier aard en siekte- en droogtebestand is.

“Hierdie ou gewasse het ook baie voedingswaarde, selfs meer as die kontantgewasse wat tans deur die meeste bestaans- of kleinboere in Afrika verbou word. Van die gewasse wat nou gewilder raak is giers (millet), sorghum, Afrika-rys en ‘rapoko’ of vingergiers,” sê Edmond.

Finansiering, tegnologie kort

Volgens Edmond is Afrika se grootste struikelblok die finansiering van lewensvatbare en volhou- bare landbouprojekte. “Die meeste internasionale instellings wat finansiering verskaf, is te bang om in die landbou te belê, want hulle meen daar is te veel risiko aan verbonde. In die tweede plek ken die instellings nie boerdery nie en hulle wil nie iets finansier wat hulle nie verstaan nie.”

Hy hou maar duim vas dat die Ontwikkelingsbank se groot lening aan die landboubedryf in Uganda ’n werklikheid gaan word. Hy sê toegang tot landboutegnologie word moeilik gemaak deur die koste daaraan verbonde en ook die gebrek aan kennis oor hoe om dit reg te gebruik en te onderhou.

Baie boere in Uganda het al trekkers gekoop wat nou staan en verroes net omdat hulle nie die trekkers kan diens en onderhou nie. Die trekkers word ook net gebruik om mee te ploeg. Hulle weet niks van planters, chemikaliespuite of ’n eg nie.

Wat is Edmond se raad dan vir kleinboere in Afrika? Volgens hom moet hulle begin saamwerk. Hulle moet hul grond, arbeid, kennis en alle ander bietjies bymekaargooi om ’n sterker eenheid te vorm. Op dié manier sal hulle meer bedingingsmag hê om hul produkte op ’n volhoubare basis aan die mark te lewer, kontrakte te sluit en dan geld te leen op grond van daardie kontrakte.

Meer as duisend Suid-Afrikaanse boere is deesdae op die een of ander wyse in die landbou in 22 Afrikalande betrokke, volgens syfers van Agri SA. Jurie van der Walt, ’n oudjoernalis wat tans ’n heuningbosteeprojek in die Langkloof bedryf, het met ’n paar van hierdie boere gesels oor hul lewe en werk elders op die vasteland.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe. Volg ons op WhatsApp om daaglikse landbounuus op jou selfoon te ontvang.