As die doel van jou plaas of onderneming is om soveel wins as moontlik te toon, sal hierdie artikel vir jou van belang wees. Net om enige misverstande uit die weg te ruim, ek is nie ’n dierewetenskaplike of ’n teeltkenner nie. Ek gaan ’n ekonomiese argument binne ’n teelraamwerk aanbied. Die goedkoopste bron van kos op enige veeplaas is die veld.

Die seleksie en teling van diere moet daarop gemik wees om die veld so doeltreffend moontlik te gebruik. Stoettelers het ’n buitengewone slag om die omgewing by die dier aan te pas, pleks daarvan om die dier by die omgewing aan te pas. Diere benodig mineraalaanvullings, doserings en inentings, en proteïenaanvullings in die winter op suurveld. Dié aanvullings moet op ’n vlak gehou word wat maksimum wins verseker.

Die probleem begin wanneer telers die koöperasie as ’n “vennoot” inbring. In die diagram verteenwoordig die sirkel die kos/hulpbronne wat op die plaas beskikbaar is. Ná jare se seleksie het die teler die diere geselekteer tot op die punt dat die maksimum wins getoon word (punt B op die grafiek).

Drie opsies: Groter wins of groter skuld?

Die teler wat nie meer tevrede is met dié situasie nie, het nou verskeie opsies. Die eerste opsie is om die resep te verander, naamlik die balans tussen die grootte van die skaap, die aantal lammers gebore en die hoeveelheid wol. Hy sal nou weer vir verskeie jare vordering maak – net in ’n ander rigting.

Die tweede opsie is om die koöperasie as ’n vennoot in te bring en die grootte van die sirkel te vergroot – met ander woorde meer te voer. Die resultaat is ’n byna oombliklike produksietoename – diere is groter en vrugbaarheid verhoog. Al wat egter hier gebeur het, is dat die boer voer gee met teling verwar het. Die omgewing is verander, nie die dier nie.

Wanneer produksiemiddele dus verhoog word, beweeg die boer van punt B na punt C op die grafiek. Hy bestee ’n ekstra R1 om 90c wins te toon. Wanneer hy uiteindelik punt C bereik, toon ’n ekstra R1 geen wins nie.

Die derde opsie is om die diere doeltreffender en winsgewender te maak deur saam met die natuurlike omgewing (veld) te werk en sodoende koste te bespaar. In die tabelle word inligting oor ’n ware geval gegee. Dit wys wat gebeur as veldaangepaste diere vir teling gebruik word.

Die eerste groep ramme is van telers in die “tradisionele stelsel” gekoop. Hulle is nie onder natuurlike toestande (op die veld) grootgemaak nie en almal het meer as 100 kg geweeg toe hulle gekoop is. Nadat dit jare lank gedoen is en daar besef is dat geen vordering gemaak word nie, is besluit om ’n verandering aan te bring.

Ram H was op sy dag die grootkampioenram. Dit is ’n goeie voorbeeld van hoekom skoue irrelevant in die werklike wêreld is. Die tweede groep ramme, wat oor verskeie jare gekoop is, is almal op die veld grootgemaak. Al hierdie ramme het minder as 80 kg geweeg toe hulle gekoop is.

Dié syfers is ’n openbaring en beklemtoon die belangrikheid daarvan om op en vir die veld te teel. Op ’n spesifieke plaas met ’n spesifieke vlak van bestuur bepaal die natuur grootliks die grootte en produktiwiteit van diere. Daar sal ’n punt kom wanneer die diere die fisiologiese beperkings van die plaas sal bereik.

Renperde is nie deesdae vinniger as wat hulle 50 jaar gelede was nie. Dit is die punt van maksimum wins (punt B). Om veranderinge aan te bring, sal net die wins verlaag. Veranderinge sal dalk jou beeld as teler verbeter, maar dit kos geld – en sommer baie daarvan.

Wat is sy potensiaal op die veld?

Boere gaan na veilings en koop ’n ram van 170 kg. Daardie ram het nog nie ’n enkele dag op die veld deurgebring nie en, nog erger, sy nageslag sal sukkel as hulle op die veld grootgemaak word. Ek sukkel om die logika daarvan te verstaan.

Boere sê hulle moet die potensiaal van die ram sien. Sy nageslag gaan op die veld loop en al wat van belang is, is hul potensiaal op die veld. Nêrens in Suid-Afrika is daar veld wat ’n ooi van 125 kg of ’n ram van 170 kg kan onderhou nie. Dit is dus ’n baie duur oefening in vrugteloosheid.

Ek maak nie voorspraak daarvoor dat ons diere moet teel wat in ’n rotskamp kan oorleef nie. In suurveldgebiede moet diere in die winter gehelp word. In die meeste gebiede van Suid-Afrika moet diere aanvullings in die lam- of kalftyd kry. Dié aanvullings moet bekostigbaar en volhoubaar wees sodat die plaas soveel moontlik wins toon. Let op hierdie baie spesifieke manier van aanvulling, naamlik winter, kalftyd en minerale.

As koeie aanvullings moet kry om weer dragtig te raak, is hulle nie by die omgewing aangepas nie. Baie boere gee eerstekalfverse voorkeurbehandeling. Dit los niks op nie. Om die waarheid te sê, dit vererger die probleem, want jy sal uiteindelik ’n dier teel wat voorkeurbehandeling benodig. Vyftig jaar gelede het Britse vleisbeeskoeie sowat 400 kg geweeg. Deur teling en voer weeg hierdie diere nou sowat 600 kg. Is dit volhoubaar? Is dit doeltreffende teling?

Waar jy 10 koeie van 600 kg elk laat loop, kan jy 12 koeie van 500 kg elk of selfs 15 koeie van 400 kg elk laat loop. Dieselfde beginsel geld by skape. Wat dit beteken, is dat as jy die swaarste speenkalwers, die grootste koeie of die hoogste besettingsyfer het, werk jy nie teen ’n maksimum wins nie. Jy sal meer geld maak as jy meer diere aanhou. Produksie per dier sal laer wees, maar jou wins sal styg.

Die doelwit is wins per hektaar, nie produksie per dier nie. Produksie per dier of per hektaar is maklik – kry net die koöperasie as ’n vennoot. Elke ekstra rand wat bestee word, lewer 90c wins. Dit is die Wet van Dalende Wins. Jy kan teel en voer vir al wat jy werd is – hierdie wet wen altyd. Die wins-per-hektaar-dier verskil van die dier wat vir maksimum produksie geselekteer is.

Dit is moeiliker om te selekteer en te teel vir die dier wat meer wins gee, maar nie onmoontlik nie. Wanneer syfers gebruik word (geraamde teelwaardes of indekse) om diere vir teel te selekteer, moet daar die een of ander vorm van teenprestasie wees om die syfers te temper. Dit is dat die grootste nie die beste is nie.

Ons moet die een of ander vorm van ’n beperking op volwasse grootte inkorporeer, of produksie relatief tot volwasse grootte meet. ’n Anguskoei van 600 kg is nie meer ’n Angus nie!

Produksie vs. wins

Produksie is maklik om te meet – 50 speenkalwers teen 250 kg elk. Wins is egter ingewikkelder. Dit is waarom baie boere dié konsep ignoreer en op produksie klem lê. Hulle neem aan dat ’n verhoging in produksie tot groter wins sal lei. Noukeurige rekordhouding is noodsaaklik. Dit is onmoontlik om ingeligte besluite met jou buurman se data te neem. Inligting uit jou duim gesuig, is nie ’n goeie bron van inligting nie.

Dink só daaraan: As jy al ’n rukkie lank nie inkomstebelasting betaal nie, boer jy met die verkeerde dier en moet jy weer oor jou boerdery gaan besin. Almal stem saam dat vrugbaarheid die belangrikste faktor in teling is. Aangesien dit belangrik is, kom dit boaan die lys. Om oorslaankoeie en -ooie uit te skot, doen baie min om vrugbaarheid te verbeter. Al wat jy doen, is om teen onvrugbaarheid te selekteer.

In skape is dit makliker om vrugbaarheid te verhoog omdat jy vir tweelinge kan selekteer. Beeste is moeiliker, maar as jy koeie selekteer wat vroeg kalf, en bulle van koeie wat vroeg kalf, sal jy vordering maak. Teen die tyd dat ’n vroulike dier gepaar word, is sy geklas, gemeet en geselekteer.

Is die diere wat gepaar word die vrugbare diere of die mooi diere? Laat die bul of ram die seleksie doen en boer dan met dié wat eerste kalf of lam. Die vroulike dier is daar om voort te plant, nie om mooi te lyk nie.

Die gemiddelde nasionale kalfsyfer vir beeste is sowat 60%. Is vrugbaarheid belangrik? Indien wel, is daar iewers ’n probleem. Diere groei vinniger en beter, hulle vertoon beter in die voerkraal, maar vrugbaarheid is net sowat 60%. En 80 kalwers is enige tyd beter as 60 kalwers.

Mieliemeel is duur wanneer dit in die vorm van ’n “manjifieke” bul of ram gekoop word. Persepsies speel ’n groot rol in boerdery en teling. As jy mieliemeel wil hê, gaan koop ’n sakkie daarvan by die winkel. Dit is baie goedkoper as om dit in die vorm van ’n bul te koop.

Blup is ’n noukeurige hulpmiddel by teling; dit is nie ’n hulpmiddel vir bemarking nie. Wanneer teelgenootskappe lyste van ramme of bulle volgens hulle beraamde teelwaardes opstel, gebruik hulle Blup as ’n bemarkingshulpmiddel.

Teelgenootskappe kan nie aan boere voorskryf hoe hulle diere moet lyk en presteer nie. Daar is geen manier waarop die beginsel van een grootte wat almal pas, kan geld nie. Ons werk hier met ’n biologiese proses. 

Mnr. Claude Cloete is ’n Merinoboer van Dordrecht en gereelde rubriekskrywer in Landbouweekblad.