As jy die Karoo so bolangs bekyk, lyk dit meestal na ’n klipharde en uitgedroogte stuk aarde. Nie ’n aangename plek om te boer nie. Maar ons weet van Suid-Afrika se lekkerste skaapvleis kom hiervandaan. En daar is al gesê dat die Karoo die bes bewerkte halfwoestyn ter wêreld is. Want net onder die bossieveld is goeie en wonderlike water wat al vir jare en jare deur windpompe boontoe gebring word.

Een van die bekendste windpompdokters is mnr. Leon Swanepoel. Jy sal hom op Carnarvon kry by sy Leon Swanepoel Windpomp & Algemene Hersteldienste. Die werkswinkel is sedert 1 Maart 1981 aan die gang. Hier hang honderde windpomponderdele aan die dakbalke. Stringe en stringe ratte is aan drade vasgemaak. Buite staan ’n klomp koppe en wag op Leon se “chirurgie”. Naby die werkswinkel se een deur staan klaar reggemaakte koppe en wag om hul werk in die droë Karoowind te gaan voortsit.

Hy werk al 59 jaar aan windpompe en het seker al 5 000 windpompkoppe reggemaak, sê Leon. “En ek het al meer as ’n miljoen kilometer agter pompe aangery. As jy ’n sinker van hier af uitgooi, 250 km ver, en jy trek dan met hom ’n sirkel, dis die gebied waarin ek werk.“O jinne, ons het al aan baie pompe gewerk. Afgebreek en opgesit. Ons praat van afbreek, maar ons breek hom darem nie.”

Windpompe praat met hom, sê Leon. “As jy langs hom staan, kan jy hom hoor. Hy maak geluide. Hy vra dat jy hom moet help. As hy só klap, dan weet jy daar’s fout met die ratte. As hy só klap, is dit die top rod. Jy moet net luister.”

‘Wat hou nog 90 jaar?’

Sal sonpompe ooit windpompe vervang? Leon trek sy gesig asof ek van iets afskuweliks praat. “Nee wat. Daar is nie ’n goedkoper en beter manier as ’n windpomp nie. En waar sal ’n sonpomp 70, 80 of 90 jaar lank hou? “As jy vandag windpompe uit die Karoo haal, dan staan hy. Dan gaan hier niks aan nie. Hulle is die daisies van die Karoo. Ons staalblomme. Hulle sorg vir ons.”

Maar Leon is nou besig om klaar te maak. Sy besigheid is al 'n geruime tyd te koop. “Daar is ’n groot leemte in hierdie werk. Ons is nie baie wat dit kan doen nie. En die jong manne stel nie juis belang nie. Dis jammer, want dis so ’n eerbare werk. Jy weet, water is die siel van alles, en ons tipe ouens gee ons lewens vir daai water. Wanneer ’n pomp staan en die diere raak dors en jy maak daai pomp reg en die diere hardloop water toe en staan sommer so om jou en drink. Daai dankbaarheid op hul gesigte is iets wat jy nooit kan vergeet nie.”

Mnre. Jaco Beukes en Japie Meyer is besig om nuwe pype vir ’n windpomp in te sit.
As windpompe nie werk nie of as boorgate droog raak, is daar moeilikheid.
Veeldoelige kamaste hou die grond uit ’n mens se stewels en adverteer jou besigheid.

‘Die manne is desperaat’

Mnr. Japie Meyer kom laai my op Williston op met sy Ford en Boorgatgogga. Hy het grootgeword op die plaas naby die dorp waar hy nou boer, vertel hy. Reeds van kleins af het hy gehelp as aan windpompe gewerk word. Só het hy ál die truuks geleer. “ ’n Windpomp is eintlik ’n vreeslike eenvoudige ding.”

Omdat sy grond maar kleinerig is, het hy met die windpompdienste begin om ’n ekstra inkomste te verdien. “En ek is diep dankbaar. Dit is ’n harde job, maar dit hou ons aan die gang. Veral nou in hierdie rowwe droogte. Kyk, ek kry ook nou baie minder werk omdat niemand hier rond regtig geld het vir pompwerk nie. Maar daar is darem nog altyd iets dringends wat iewers gedoen moet word.”

Dit is juis die Boorgatgogga, wat agter die Ford gehaak is, wat deesdae in aanvraag is. “Die droogte maak dat die ouens nou in ou boorgate, wat lank toegestaan het, gaan kyk vir water. Jong, die manne is desperaat. Dan haal ons wortels, klippe en ou pype uit. Partykeer die snaakste goed wat kinders daar afgegooi het. Een slag het ons ’n dooie dassie uitgehaal. Daai affêre het my so naar gemaak dat ek opgegooi het en die res van die tyd by daardie gat met ’n Vicks-lap om my mond en neus moes werk. Soms gee so gat wat ons skoonmaak weer ’n watertjie.”

Die Boorgatgogga vat nie nonsens van verstopte of vuil gaaie nie, sê Japie. Hy gee my sy selfoon dat ek ’n video kan kyk waar sy gogga bollings en bollings wortels uit ’n windpomp se gat trek. Iets verskrikliks. En vreeslik indrukwekkend. By ’n stopstraat hou Japie en die BKB-agent oorkant mekaar in die pad stil. Nee, sê die agent, die gat wat Japie so ruk gelede by hom skoongemaak het, is ’n wonderwerk. “As dit nie vir daai gat was nie, moes ek trek. Dis my laaste water. Nege gate het opgedroog.”

Die Boorgatgogga in aksie. Met dié werktuig word ou boorgate skoongemaak sodat dit weer in gebruik geneem kan word as dit nog water het.
’n Mengsel van growwe mieliemeel en Omo verwyder olie en ghries.
’n Windpomp in die Karoo is een van daardie eg Suid-Afrikaanse landskaptonele waarvoor niemand moeg raak nie.

DROOGTE SE ANGEL

Hier om Williston sien jy hoe dit lyk as die wolke van jou vergeet het. Swartgebrande kriedorings beteken net een ding – die aarde om jou gaan dood. Skape en steenbokke ook. Mense se oë gaan lê. Gedaan gekyk hoe die wind waai of die skilpaaie loop, hoe die blitse stil en ver dans. “Nou die dag kom hier darem mooi wolke aan,” vertel Japie, “Ons het 5 mm gehad. Dis nou vyf vir die jaar. En die winter is hier.”

Op Rietfontein-Wes dreun die Boorgatgogga, en allerhande goed word laat sak om te kyk wat onder in die boorgat aangaan. Japie het ’n hele arsenaal van verskillende ysters wat hy aan die gogga se kabel kan haak en in die boorgat kan laat afsak. Van hulle is om wortels mee uit te haal, ander om klippe wat in die gat vassit, stukkend te moker, of pype wat ingeval het, mee uit te haal.

Maar by hierdie gat op Rietfontein wil niks dieper as agt meter nie en dit lyk ook nie of daar enigiets snaaks aangaan nie. Japie bel die boer. Hy het gereken die gat is net so diep, sê die boer. Maar hy het gehoop daar sit dalk iets vas en dat die gat dalk dieper kan wees, want die windpomp draai deesdae net twee keer, dan is die water weg. As die wolke van jou vergeet, droog jou hoop ook later op.

Toe ons deur Rietfontein-Oos ry, vra Japie vir mnr. Francois van Zyl of hy dalk ’n gat het waarna hy wil laat kyk. Dit sal gratis wees, voeg Japie by. Ja-nee, dan is daar een, sê Francois, want op die oomblik gaan alle geld net vir voer. Ons hou by ’n gat in die veld stil en Francois en sy vrou, Heipi, pak ’n plastiekkrat met koffie en varsgebakte gemmerkoekies uit. “Ek is nou so opgewonde!” sê Heipi. “Hier is deesdae so min dinge wat ons opgewonde maak.”

Die Boorgatgogga skuif nader. Heipi gesels verder. “Ons het ’n polis gehad wat sou uitbetaal as ons ouer is, maar nou die dag moes ons dit gaan opeis. Nou is ons skuld darem betaal. Met die bietjie wat oor was, het ons voer gekoop. Maar die voer word minder en minder. En die skapies ook.”

En die waters onder die aarde, sê Francois. Daarom sal dit gaaf wees om te weet wat in hierdie gat aangaan aangesien dit 20 jaar lank nie gebruik is nie.

Jy kan nie hierdie werk doen as jy bang is vir hoogtes of ou olie nie.
Windpomppype word vasgemaak voor dit laat sak word.
Bobbejaansleutels of Stillsons, soos dit in die Karoo genoem word.

EN DAAR’S WATER!

’n Stuk yster word in die gat laat sak. Dit tref water, maar dan gaan steek dit vas. Dit wil ook nie weer op nie. Die gogga brul en die kabel bewe, maar die stuk yster word in die donker vasgeklou. Japie skakel oor na ’n hidrouliese funksie. “Dis nou vir wanneer jy sommer ernstig moet beur.”

Dit beur verwoed en lank voordat die yster loskom en opgehys word. Volgens die krapmerke daarop reken Japie dit het teen ’n klip vasgesit. Die yster word weer laat sak, en dié keer gaan dit sonder probleme tot onder in die gat. ’n Allemintige stuk pyp met ’n klep aan die onderkant word laat sak, en water word uit die gat opgetrek. “Jy het sommer lekker water hier,” sê Japie. “Wonderlik, wonderlik!” sê Heipi, terwyl sy die water wat oor Japie se growwe windpomphande loop, met haar selfoon afneem.

Dit is moeilik om te sien wat onder Francois se laphoed en agter sy donkerbril aangaan. Maar hy kyk na sy lusernlandjie se kant toe. Dalk sien hy die nuwe water oor die akkers loop. Dalk groei daar weer hoop.

As ons die volgende oggend Sutherland se kant toe mik, het Japie ’n ander wa agter sy bakkie. Dié een sleep hy saam wanneer hy aan windpompe moet werk. Dit is baie goed ingerig met ’n kragopwekker, sweismasjien, hoekslyper, boor, bankskroef en elke stuk gereedskap wat hy kan nodig kry, asook verskillende onderdele.

Maar die wa se grootste voordeel is dat dit ’n mas van 10 meter het wat regop kan staan langs ’n windpomp sodat die koppe en sterte met groot gemak afgehaal en met ’n wenas grond toe laat sak kan word. “Vroeër het ons altyd ’n stuk pyp boaan die pomp vasgemaak wat bo die kop uitsteek. Ons het die goed met katrolle laat sak. Dit was darem ’n vreeslike gestoeiery en gebeurdery. My vrou het heeltyd gekla my sokkies se tone is stukkend. Dit was nou van al daai vasskoppery in die grond met die katroltoue wat vasgehou moes word,” verduidelik Japie die evolusie wat sy windpompdienste ondergaan het.

Windpompe haal die wonderlikste en skoonste water uit die Karoo se maag.
In die veld by ’n vuur en windpompe is waar mnr. Japie Meyer die heel gelukkigste is.
Mnr. Japie Meyer hou ook van vleiswerk en hy en sy vrou maak hul eie sosaties en wors.

VREESLOSE SPAN

By die eerste windpomp gekom, klim Kallie Beukes woerts-warts tot bo en bind die wiel en stert aanmekaar vas omdat die pomp se rem nie meer werk nie. Kallie is al agt jaar Japie se regterhand en ’n man wat met groot gemak op ’n windpompstert kan sit, die hoed afhaal en tussen die ratte rondkrap sonder dat dit hoegenaamd ongemaklik lyk. Hy loop op ’n windpompstellasie en platform rond asof dit niks hoër as die Karoobossies is nie en meer spasie as ’n plaasstoep bied. Sy neef Jaco Beukes help ook vandag.

Pype word uitgetrek, Stillsons (die Karoo se woord vir ’n bobbejaansleutel) byt raak, die vastrappers trap vas, en kort voor lank is alles weer terug in die gat, die houtstang herstel en die rem gereed om aangedraai te word. Dan kan die wiel wind vang. Die stert staan oos en die lemme begin rustig draai in die westewind. Die stange beweeg sonder kreune en klappe op en af. ’n Gelukkige windpomp. In die groot sementdam waar ’n klompie koivisse dofweg swem, begin silwer water val. “Dit is nog elke keer lekker om die water te sien loop nadat ons ’n pomp reggemaak het,” sê Japie.

Die volgende windpomp lyk nie gesond nie. Hy draai loskop in die wind, want die houtstang is gebreek. Die stert hang, die stellasie is vol olie en rondom groei digte bosse. “Hier is lanklaas aandag gegee,” sê Japie.

So ’n afgeskeepte windpomp is ’n hartseer saak. En ek kan nou hoor waarvan Leon gepraat het. Hierdie een smeek om hulp. Maar Japie-hulle kan nie vandag veel doen nie. Sonlig wat met ’n spieëltjie in die gat afgestuur word, wys dat die bosse se wortels die gat heeltemal toegegroei het. Die Boorgatgogga sal moet kom.

Middagete van die rooster af is amper gereed.
Mnr. Leon Swanepoel voor sy Windpomp en Algemene Hersteldienste op Carnarvon.
Mnr. Leon Swanepoel (regs) maak mnre. Eddy Steenkamp en Sheldon Esterhuizen touwys.

LIEFDESTAAK

Ons steek vuur aan vir middagete. “Party ouens laat ’n windpomp loop tot hy breek. Of hulle los die bosse totdat die gat verstop is. As hulle net ’n bietjie aandag gee, na die olie kyk, die briek effens vasdraai en die bosse uitkap, sal hul windpompe jare lank sonder moeilikheid loop. Maar nou ja, dan sal ek seker minder werk hê,” sê Japie.

Hy pak die rooster vol sosaties en tjops. “Daar is min ouens wat hou van windpompwerk. Dis vuil werk. Dit is nie oulik nie. Jy hoor nie jong mense sê hulle wil eendag aan windpompe werk nie. Die ouens wat kan, word daarom al hoe minder. Ek weet nie hoe sal dit oor ’n klompie jare gaan as die kennis en dié wat wil, nie meer daar is nie. Want die windpompe hou die Karoo aan die loop. Vat die windpompe weg, dan is hier een moerse stuk aarde wat woestyn word.”

Op sy kep, sy hemp se sak en op sy denim-kamaste bo sy stewels staan geskryf, “Japie Windpomp”. ’n Man wat hom toewy om die staalblomme lewend te hou, die Karoo aan die loop te hou. “Ek hou daarvan. Ek hou van my werk. En dit is vir my lekker om te kan ry, na nuwe plekke en mense toe.”

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe. Volg ons op WhatsApp om daaglikse landbounuus op jou selfoon te ontvang.