Die gemiddelde eerste datum vir ligte ryp op ’n plek soos Bothaville in die Vrystaat sedert die jaar 2000 is 18 April, vir matige ryp is dit 3 Mei en vir swaar ryp 10 Mei. Baie mense wil die intensiteit van die winter en die eerste of laaste rypdatum koppel aan reënval. In die ondersoek na Bothaville se eerste rypdatum en reënval vanaf 2001 is gevind in die jare wanneer dit van Januarie tot einde Mei meer gereën het, het die eerste ryp ongeveer twee weke later voorgekom as in jare met minder reën.

Jare met meer as 300 mm reën in dié tyd se eerste ligte ryp het gemiddeld op 30 April voorgekom. In jare met minder as 300 mm reën was die eerste ligte ryp gemiddeld op 17 April. Die eerste matige ryp kom gewoonlik op 8 Mei voor in die jare met meer as 300 mm reën en op 27 April in droër jare. Dieselfde neiging is te sien met die eerste datum van swaar ryp – gemiddeld eers op 17 Mei in goeie reënjare teenoor 4 Mei in die jare met minder as 300 mm reën.

HOE WERK RYP?

Die tegniese definisie van ryp is wanneer die temperatuur van die aarde se oppervlak of aardgebonde voorwerpe onder vriespunt (0 °C) daal. Wanneer daar gepraat word van die temperatuur wat ryp veroorsaak, neem ’n mens dus aan dit is wanneer die gemete temperatuur op die standaardmeethoogte van 1,2 m laer as 0 °C daal.

In die praktyk kan 0 °C op die standaardhoogte van 1,2 m reeds ernstige rypskade veroorsaak na gelang van verskeie faktore:

Wanneer die temperatuur 0 °C op die standaardhoogte meet, kan dit reeds so laag as -5 °C op die aarde se oppervlak wees op windstilnagte wanneer daar nie lugvermenging is nie. Koue lug is swaarder as warm lug en versamel dus nader aan die oppervlak.

Net soos daar verskille in temperatuur tussen meethoogte en die grondoppervlak is, is daar ook groot verskille in temperatuur met verskille in topografie omdat koue lug na laergeleë gedeeltes dreineer. Laergeleë gebiede en suidelike hellings kan tot meer as 6 °C kouer as hooggeleë gebiede of kruine daar naby wees.

Wanneer daar ’n windfaktor betrokke is, word lug vermeng en is die temperatuurgradiënt met hoogte vanaf die grondoppervlak klein, maar dan speel die windkoudheidsfaktor ’n rol. Hoe sterker die wind waai, hoe groter is die windkoudheidsfaktor.

Windbeweging is in staat om energie vanaf ’n oppervlak te verwyder deur die fisiese wegvoer van lug. Plante kan in ’n groot mate ook die windkoudheidsfaktor ervaar omdat daar waterverlies deur die huidmondjies kan plaasvind. Só kan ’n gemete 0 °C by windsnelhede van 20 km/h die aanvoelbare temperatuur tot -5,2 °C laat daal. Met temperature van 4 °C en windsnelhede van 20 km/h is die aanvoelbare temperatuur dus reeds ongeveer 0 °C.

Rypskade by plante hang af van die soort plant, asook van plant tot plant. Sonneblomme is byvoorbeeld minder rypgevoelig as sojabone of mielies. Sonneblomme kry eers ernstige rypskade by temperature so laag as -4 °C, terwyl sojabone en mielies reeds skade by ongeveer -0,5 °C opdoen.

Groeistadium maak ook ’n groot verskil. In die vegetatiewe stadium kan ’n gewas soos winterkoring temperature van tot -10 °C weerstaan sonder noemenswaardige skade. In die reproduktiewe stadium, wanneer die groeipunt bokant die grond uitkom en veral in die blom- tot deegstadium, kan temperature rondom vriespunt egter reeds groot skade veroorsaak. Só het daar in 2018 temperature van 1 °C op meethoogte voorgekom en katastrofiese skade aan die koringoes in die Vrystaat en Noord-Kaap aangerig. Dit het op ’n baie gevoelige stadium voorgekom toe pitte nog in die deegstadium was.

Om te veralgemeen, ligte ryp kan verwag word by temperature (gemeet op standaardhoogte) van 2 °C tot 4 °C, matige ryp by 0 °C tot 2 °C, en swaar ryp onder 0 °C. Bogenoemde afsnypunte vir ryp kan ook ’n aanduiding wees van die kans op rypskade as gevolg van die topografie, want laaggeleë gebiede kan meer strawwe ryp verwag as byvoorbeeld by die weerstasie wat gewoonlik op ’n meer verteenwoordigende plek van die groter omgewing geplaas is. ’n Voorspelling van 4 °C kan reeds redelik strawwe ryp veroorsaak langs riviere of laaggeleë gebiede.

Wintergrasveld in Noordwes. Die winter in die binneland behoort vanjaar nie so koud soos ver- lede jaar te wees nie en swaar ryp kan eers heelwat later voorkom. FOTO: CHRISTIAAN HARMSE

INTENSITEIT VAN WINTERKOUE

Wat die intensiteit van die winter betref, is daar nie ’n duidelike verband tussen reënval en die aantal dae met ryp of ekstreme lae temperature nie. Daar is wel tog ’n neiging dat minder reën gewoonlik geassosieer is met meer dae met temperature onder vriespunt.

In teorie behoort dit so te wees, want meer lugvog as gevolg van reën laat minder uitstraling van energie vanaf die aarde se oppervlak toe as gevolg van die sogenoemde komberseffek.

Daar is egter ander faktore wat hier ’n groter rol kan speel, soos die frekwensie en intensiteit van koue fronte. Hoewel die winter van 2020 nie besonder vroeg begin het nie, was dit een van die koudste winters nóg wat aangeteken is.

Die gemiddelde minimum of nagtemperatuur sedert 2001 van 1 Mei tot einde Augustus vir Bothaville was in 2020 ongeveer 1 °C kouer as normaalweg. Vir die eerste keer sedert 2001 was dit ook verlede jaar gemiddeld onder vriespunt (-0,55 °C).

Hierdie afwyking moet waarskynlik by ander faktore as reënval gesoek word. Dit is eerder sinopties van aard, dit wil sê dit het te doen met die relatiewe posisies en intensiteit van weerstelsels.

Een van die verklarings vir die baie koue winter van 2020 is dat die suidelike Indiese Oseaan en suidoostelike dele van die Atlantiese Oseaan (suid en suidoos van Kaapstad) baie kouer as gewoonlik was van ongeveer Mei af. Met die frontale stelsels wat oor Suid-Afrika inbeweeg het en koue polêre lug agter dit ingevoer het, kon geen of min verwarming van lug plaasvind oor die oseane, en het baie kouer toestande as gewoonlik tot so laat as September voorgekom.

In die jare sedert 2001 was daar ook kouer winters in 2007, 2010, 2011 en 2012. In ál vier gevalle was die oseane suid en suidoos van Kaapstad koeler as normaalweg, hoewel nie so koud soos in 2020 nie. Sedert 2001 het daar minder koue winters voorgekom in 2001, 2002, 2004, 2008, 2013, 2015 en 2016. In hierdie gevalle was die see-oppervlaktemperature van die suidwestelike Indiese Oseaan en aangrensende Atlantiese Oseaan warmer as gewoonlik.

Daar is ander faktore wat ook ’n rol kan speel. Klimaatsverandering is beslis een daarvan. Hitte-energie is besig om veral in die oseane op te bou, en vanaf ongeveer 1980 het ’n groot verandering begin plaasvind. Oseane is dus besig om warmer te word.

Dit sal beslis ’n invloed op wintertemperature op langer termyn hê. Daar is egter variasie in temperature wat kan ontstaan as gevolg van seestrome en windpatrone. Nogtans is kouer winters soos in 2020 waarskynlik meer die uitsondering as die reël.

Wat betref die komende winter is die volgende moontlik of baie waarskynlik:

Teen einde Februarie was die suidwestelike Indiese Oseaan en aangrensende Atlantiese Oseaan oor ’n baie groot gebied steeds tussen 1 °C tot 2 °C koeler as normaalweg, maar sedert Januarie het verwarming begin plaasvind. Voorspellings dui op verdere verwarming in hierdie gebiede vir die komende maande om tot 2 °C warmer as gewoonlik in die winter te wees.

Die implikasie hiervan is waarskynlik ’n matige winter, veral die mid- tot laatwinter.

TER OPSOMMING

Met die baie reën wat sedert Januarie oor die grootste deel van die somerreëngebied geval het, asook die verwagting vir verdere reën voor die winter, is die kans baie goed om eers ongeveer twee weke later as gewoonlik die eerste ryp te kry.

Wat werklike datums betref, word ernstige ryp vir die koeler dele (die Vrystaat, die suidelike en oostelike dele van die Noord-Kaap, die sentrale tot suidoostelike dele van Noordwes, asook die binneland van die Oos- en Wes-Kaap) nie voor einde April verwag nie, hoewel laaggeleë gebiede dalk vroeër ryp kan kry.

Wat die warmer noordelike dele betref, word ryp nie voor einde Mei tot middel Junie verwag nie.

Wat die intensiteit van koue betref, lyk dit of die winter van 2021 nie so koud gaan wees as verlede jaar nie. Daar is twee redes hiervoor. Die eerste is ’n verwagte warmer suidwestelike Indiese Oseaan wat koue, polêre lug wat agter koue fronte ingevoer word, effens kan verwarm. Tweedens is daar die reën wat steeds voor die winter verwag word, en eerder ’n aanduiding van somerweerstelsels as winterweerstelsels is. 

Mnr. Johan van den Berg is ’n onafhanklike landbouweerkundige.