Cabernet Sauvignon is dalk die kultivar waaraan wynmense dadelik dink as daar oor die Stellenbosse wynstreek gepraat word, maar wynmakers soos Wynand Lategan van Lanzerac se geloof in Stellenbosch se potensiaal om puik Pinotages op te lewer, groei elke dag.

Wynand Lategan tydens Absa se Top-10- Pinotage-kompetisie, waar Lanzerac vanjaar behoorlik geskitter het. Die Pionier 2014 is as een van die tien beste Pinotages in die land aangewys. Pionier 2015 het onder die top-20-finaliste getel

Pinotage was boonop nog altyd belangrik vir Lanzerac – die wêreld se heel eerste bottel Pinotage het met ’n Lanzerac-etiket gespog. “Mense assosieer ons met Pinotage,” vertel Wynand, wat keldermeester by Lanzerac is.

Toe en nou. Die wêreld se eerste gebottelde Pinotage (links) is onder die Lanzerac-etiket bekend gestel. Lanzerac se Pionier Pinotage gee deesdae erkenning aan dié baanbreker

Dié kultivar staan sterker as ooit tevore by Lanzerac, veral danksy hul vermoë om goeie Pinotage te produseer en ’n stewige vraag na Pinotage-wyn en -druiwe.

Ryke geskiedenis

Mev. Elizabeth Katherine English het die plaas in 1914 vir sowat £18 000 gekoop. David Rawdon het die bekende hotel – steeds ’n baken op Stellenbosch – in die laat 1950’s ontwikkel en die Stellenbosch Boerewynmakery (SFW) het destyds die wingerde se bestuur behartig en die handelsmerk oorgeneem.

Só het dit gebeur dat SFW die wêreld se eerste gebottelde Pinotage – gemaak van druiwe van die plaas Bellevue – in 1959 onder die Lanzerac-naam bekend gestel het. Ná die Rawdon-tydperk het die sakeman Christo Wiese Lanzerac gekoop. “Hy het ’n visie gehad om die plaas se eertydse glorie te herstel tot ’n vyfsterhotel en spogwynplaas. Die handelmerk het toe egter steeds aan Distell (voorheen SFW) behoort en hy het dit stuk-stuk begin terugkoop.

Dit het ’n rukkie geduur, en aanvanklik kon ons net Chardonnay en Sauvignon blanc produseer, terwyl Distell steeds die naam vir Rosé en Pinotage gebruik het. Teen 2006 was alles finaal terug by ons, en ons kon begin fokus op wat ons wou doen.” Ná Wiese het ’n konsortium sakemanne (wat verkies om onbekend te bly) die plaas oorgeneem.

Kultivars wat pas

Die plaas lewer sowat 500 ton druiwe en handhaaf ’n gemiddelde opbrengste van 7-8 ton/ha. Die plaas kan rofweg in drie dele gedeel word, elk met sy eie groeitoestande. Die sowat 50 ha wingerd is ook volgens hierdie terrei- ne aangeplant. “Sedert 2013 het ons 30-40% van die wingerde herplant. Baie was net oud, met ’n virus besmet of net die verkeerde kultivar wat op die verkeerde terrein geplant is.”

Lanzerac lewer sowat 500 ton druiwe en handhaaf ’n gemiddelde opbrengste van 7-8 ton/ha. Foto: Landbouweekblad

Rondom die hotel groei Chardonnay-wingerd in sandleemgronde en teen die noordwestelike hellings van Bothmaskop staan die rooi kultivars in graniet- en kleigrond (wat klein korreltjies met mooi gekonsentreerde geure oplewer). Die plaas huur en bestuur die derde deel, Jonkersdrift (wat aan Lanzerac grens en waarop sowat 30 ha wingerd staan).

Hierdie plaas, met sy ligter spoelgronde, gee die wyne vrugkarakter. Hoewel Lanzerac ’n wye reeks wyne produseer, val die fokus veral nou op Pinotage, Chardonnay en Cabernet Sauvignon.

“Chardonnay aard goed hier, Pinotage doen uitstekend in die omgewing en Cabernet Sauvignon en Stellenbosch, veral die Jonkershoekvallei, is sinoniem met mekaar.”

Lanzerac se Pinotage bring gewoonlik 15 maande in houtvate deur. Die Pionier bly effe langer in die vat – tot 22 maande.

Klimaat vir rooies

Francois Naudé (voorheen wynmaker van L’Avenir, maar nou besit hy Chateau Naude Wine Creation) glo die beste Pinotage kom voor van dié kant van die Helderberg tot anderkant Kanonkop, sê Wynand. “Dis danksy die klimaat.”

“’n Pinotage-tros is mos kompak, amper soos ’n vuis, daarom kort jy eintlik sonlig om al die korrels ryp te maak, maar jy wil ook nie hê die druiwe moet kook of oorryp raak nie. Wat Stellenbosch dus so wonderlik maak, is dat dit koeler is as die Paarl, maar ook nie só koud dat jy struktuur (in die wyn) prysgee nie. Dit kan lekker warm raak in die dag, maar saans koel dit af. Ons kry ook suidoostewinde, wat goed is vir lugbeweging (en gesonde druiwe).”

Juis hierom streef Wynand daarna om alle druiwe uit die Jonkershoekvallei aan te koop. “Ons wil die terroir eien. Ons sien hier dat die plante baie harder moet werk om volwasse te raak en danksy die grond en klimaat is ons korreltjies oor die algemeen kleiner. Ons sukkel dus nie met kleur en geur nie, en ons rooiwyne spog met diep, donker vrugkarakter.

“Dis ook amper asof hier ’n koeler draad deur die vallei beweeg. Ons het ook redelike hoë reënval in die vallei, daarom is ons pH’s laer en ons sure hoër,” vertel hy. Teen 500 m bo seevlak het Lanzerac waarskynlik van die hoogste wingerde in die Stellenbosch-omgewing. “Toe ek destyds op Lanzerac begin werk het, was hier net een blok Pinotage. Nou maak dit sowat 20% van ons aanplantings uit.”

Die plaas se oudste Pinotage is in 1996 geplant. Wynand se Pionier Pinotage – juis ’n kopknik na die eerste gebottelde Pinotage – word van dié blok gemaak. Die 2014-oesjaar het onder meer vanjaar ’n plek onder Absa se Top-10-Pinotage-lys verower (en sy boetie uit die 2015-oesjaar het ’n plek op die Top-20 beklee). “Dis een van ons beste wingerdblokke. Daar is baie min virusprobleme en dit lewer 7-8 ton/ha.”

Veral ouer wingerde in Suid-Afrika stoei met rolblaarvirus weens plantmateriaal wat destyds nie skoon was nie. Wynand is uiters gesteld op mierbeheer, hulle vervang stokke wat simptome van virus toon, kyk na hul volgorde van snoei, en ontsmet alle toerusting wanneer hulle van een blok na ’n volgende beweeg – alles om te keer dat die virus vastrapplek kry op die plaas.

‘ ’n Pinotage-tros is mos kompak, amper soos ’n vuis, daarom kort jy eintlik sonlig om al die korrels ryp te maak, maar jy wil ook nie hê die druiwe moet kook of oorryp raak nie.’

‘Soos ’n Elsenburg-eerstejaar’

Teen die steil helling van die Helshoogte-berge het Wynand onlangs Pinotage op die terrasse geplant. Dit is volgens die stok-by-paaltjie-metode opgelei. Hy vergelyk graag Pinotage-wingerd met ’n eerstejaartjie op Elsenburg. “Die wingerd wil net uitbeur, groei en mal gaan. Jy moet hom in toom hou en bosstokke werk goed (stok-by-paaltjie is ’n tipe opgeleide bosstok) om hom ’n bietjie te rem. “Ons het agtergekom dis noodsaaklik om diep te dol en die pH reg te stel deur genoeg kalk in te werk.

Dit was natuurlik ’n uitdaging, maar dis lekker grond, want hoewel dit nie baie diep is nie en baie graniet bevat, gee dit goeie konsentrasie aan die druiwe.” Teen die hoë hellings bestuur hulle die wingerde baie oop, veral aan die minder intense oggendsonkant.

“Ons gee baie aandag aan lowerbestuur sodat die wingerde nie te dig raak nie, maar genoeg deurlug word. Ons maak lote oop en breek blare om die kordon uit sodat die trosse van vroeg af al gewoond aan sonlig is en nie so maklik brand nie. Dit help ook om die groen geure te verwyder.”

Detail in die kelder

Pinotage se bykans jeugdige energie eindig nie in die wingerd nie. “Dis dieselfde storie in die kelder. Die sap wil sommer binne drie dae al klaar gis (ander kultivars neem gewoonlik vyf tot sewe dae). Ons laat dit in oop kuipe met natuurlike giste gis. Ek sê altyd as ons klaar Pinotage gepars het, is die ergste verby,” lag Wynand.

Die geure is egter dan net so baldadig, daarom gebruik Wynand gemiddeld 30% nuwe houtvate (die res is tweede tot vyfde vul) om die wyn “tot bedaring te bring.” Vir Pionier gebruik hy 50% nuwe hout tydens veroudering.

Pinotage bring gewoonlik 15 maande in houtvate deur, maar Pionier bly 20 tot 22 maande in die vat. Alle vrugte word met die hand geoes (deels omdat oesmasjiene nie teen die skuinstes kan loop nie). Voor dit kelder toe gaan, word die trosse en korrel op sorteertafels uitgesoek sodat groen korrels nie kan deurglip nie.

Sterk mark vir Pinotage

Die mark vir Pinotage stel ook nie teleur nie, verklap Wynand. “Dis huge! Die Engelse het dit mos destyds vreeslik afgeskiet, maar nou voer omtrent die hele wêreld Pinotage van ons af in – selfs die Skandinawiërs en Franse, en dis ongehoord. Mense wíl iets uniek proe. Ons verkoop so vinnig aan ons Pinotage dat ons dit soms vroeg moet bekend stel.”

Teen R700 per bottel kry ál Wynand se Pionier huis. Die res van die Pinotages kos R120-130 per bottel. Wynand vertel Pinotage-druiwe uit die Stellenbosch-omgewing is deesdae ook baie gewild.

“In die verlede kon jy dit amper weggee, nou kan ’n mens dit nie in die hande kry nie. Twintig jaar gelede het net enkele ouens goeie Pinotage gemaak, nou is daar honderde. Die wyn raak net beter soos ons wynbedryf vorder.

“As jy Pinotage in groot maat wil koop, gaan jy ook baie betaal, maklik R14/liter of meer – maar dis nou as jy dit in die hande kan kry.”

Die keldermeester se laboratorium

Wynand Lategan het pas sy Keldermeester-versameling bekend gestel. Dit is ’n nuwe projek wat hom in staat stel om met vreemde kultivars, ongewone versnitte en nuwe tegnieke te eksperimenteer.

“Ek sien dit amper as ’n wynmaaklaboratorium. Daar is niks wat my beperk met die rigting waarin die reeks kan inslaan nie. Ek wil wys ’n mens kan selfs op ’n ou, tradisionele plaas vernuwend wees en uit die boks dink.”

Vanjaar se reeks bestaan uit Bergpad (Pinot blanc), Dok (Malbec) en Prof (’n versnit van Cinsaut en Pinot Noir). Hy maak net 1 000 tot 2 000 bottels van elk en dit verkoop teen R300 tot R400 per bottel. 

Oor Prof vertel Wynand: “Cinsaut en Pinot noir word as die pa en die ma van Pinotage 

beskou. Die storie is dat prof. Izak Perold (wat die kruisteling gedoen het) nooit Pinotage geproe het nie. Hy is oorlede voordat die eerste wyn daarvan gemaak is. Almal vra altyd waarom hy juis dié twee kultivars gekruis het. Ek dink hy moes op ’n dag die twee kultivars versny het en toe gedink het dís die wyn wat Pinotage kan maak. Só het die idee vir Pinotage by hom ontstaan,” bespiegel hy.

Die Keldermeester-versameling is slegs op die plaas en by uitsoekrestaurante beskikbaar.