Die groep, met handelsmerke soos Savanna, Amarula, 4th Street, Hunter’s, Klipdrift, Nederburg, Richelieu, Viceroy en J.C. le Roux, se inkomste in Afrikalande het in die ses maande tot Desember 2018 met 21,1% gestyg en die volume verkoop met 12,7%.

As Botswana, Lesotho, Namibië en Swaziland uitgesluit word, het die inkomste met 43% gestyg en die volume verkoop met 34%.

Mnr. Richard Rushton, uitvoerende groephoof, was met die bekendmaking van die resultate veral optimisties oor sake in Kenia. Verkope het ook goed in Mosambiek en Zambië gegroei. 

Suksesgeheim

Volgens Rushton is deel van die suksesgeheim om die vertroue van plaaslike vennote te wen en sterk plaaslike spanne te bou.

Die styging in inkomste in Afrikalande is veral deur verkope van spiritualieë aangehelp, met ’n inkomstestyging van 38,5%, terwyl inkomste uit die verkoop van sider en kitsdrankies (ready-to-drinks, of RTDs) en wyn met byna 15% gestyg het.

Die groep se Afrika-inkomste verteenwoordig 15,6% van sy totale inkomste, terwyl 9,4% elders in die buiteland behaal word en 75% steeds in Suid-Afrika.

Rushton het gesê ondanks moeilike makro-ekonomiese omstandighede in Suid-Afrika, wat na verwagting vanjaar gaan voortduur, het die inkomste plaaslik met 7,4% gestyg, hoewel die volume verkoop met 2,2% gedaal het.

Veral die handelsmerke Savanna en Bernini het goed presteer. Jenewer en vodka het dubbelsyfergroei beleef.

Rushton het gesê innovering bly belangrik en Distell stel binnekort ’n alkoholvrye Savanna bekend.

Inkomste uit wynverkope in Suid-Afrika het met slegs 2,9% gestyg, maar Rushton het gesê Drostdyhof en Paarl Perlé se verkope het stewig gegroei.

Voorheen was 4th Street die sterverkoper, maar Rushton sê dit lyk asof verbruikers van dié laekostereeks na onder meer die Drostdyhof-reeks opbeweeg.

Libertas Vineyards and Estates, Distell se nuwe maatskappy wat hom op wyne van topgehalte toespits, se algehele inkomste het met 5% gegroei en sy marge het met 2,2% verbeter. 

Die inkomste uit Distell se totale verkope buite Suid-Afrika en Afrika het met 3,7% gestyg, maar die volume verkoop het met 6,5% gedaal.

Mnr. Lucas Verwey, finansiële groephoof, het gesê die R2,4 miljard netto kontant wat die Distell-groep in die ses maande uit bedryfsaktiwiteite behaal het, was ’n styging van 35,8% en het tot die 5,5%-verhoging in die tussentydse dividend, tot 174c/aandeel, bygedra.

Werkskepping

Rushton het gesê Distell vorder goed met sy plan om swart boere te help om op 500 ha met appels en druiwe te boer en só 1 000 werkgeleenthede te skep.

Eksterne finansiering van R20 miljoen is verkry vir projekte op 340 ha, waar 200 werkgeleenthede geskep kan word.

Oor die regering se aksynsverhoging van 7,4% vanjaar, het Rushton gesê dit is ’n verbetering op verlede jaar se verhoging van 8,5%, hoewel dit steeds hoër as inflasie is.

Hy het gesê Distell het toenemend gesprekke met die staat hieroor en dat ’n beperking in verhogings nodig is om groei en werkskepping te kan bevorder.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe. Volg ons op Whatsapp om daaglikse landbounuus op jou selfoon te ontvang.