Die Big Mac-indeks gee die waarde van ’n Big Mac-hamburger in Amerikaanse dollar vir 56 lande wêreldwyd.

Indien jy die verkoopsprys van ’n Big Mac-hamburger in Suid-Afrika met dié van ander lande in dollar vergelyk, is die verkoopsprys daarvan in Suid-Afrika die vierde goedkoopste Big Mac-hamburger ter wêreld. Die Big Mac-indeks is dus ’n verwysingspunt waarvolgens ’n aanduiding van die lewenskoste in verskillende lande gemeet kan word.

Waar is die Big Mac-burger goedkoper as in Suid-Afrika?

In Libanon kos ’n Big Mac $1,77 teenoor $2,16 in Suid-Afrika. Die ander twee lande waar jy goedkoper vir ’n Big Mac-burger as in Suid-Afrika gaan betaal, is Rusland en Turkye. In Rusland kos ’n Big Mac $1,81 en in Turkye $2,01. In die Oekraïne kos ’n Big Mac $2,20.

Waar is die Big Mac die duurste?

In Switserland sal jy die duurste vir ’n Big Mac betaal, naamlik $7,29. Naas Switserland, Swede en Noorweë is Amerika die vierde duurste land waar ’n Big Mac teen $5,66 te koop is.

Kanada, Australië en die Europese Unie val onder die tien lande waar ’n Big Mac-burger die duurste is. Dit is ironies omdat hierdie lande ook groot koringproduserende lande is, en netto uitvoerlande van koring.

Suid-Afrikaanse produsente kan nie meeding met die wêreldpryse waarteen hierdie lande koring uitvoer nie. Tog is die Big Mac beduidend goedkoper in Suid-Afrika, ’n netto koringinvoerland, vergeleke met koring-uitvoerlande. Die prys van koring het byvoorbeeld vroeër vandeesmaand $289/t beloop vir Amerikaanse harde rooi winterkoring (HRW- koring), en in Suid-Afrika op die JSE sowat $324/t.

’n Regstreekse vergelyking van koringpryse op die JSE toon dat plaaslike koringpryse op die JSE meer as 10% hoër in dollarwaarde is as HRW-koringpryse uit Amerika. Die gelande pryse van ingevoerde HRW-koring by Randfontein in Gauteng kan dus selfs meer beloop.

BIG MAC-prys teenoor die WISSELKOERS

Hoeveel is die rand onder-waardeer volgens Burger Economics?

’n Big Mac is ’n gestandaardiseerde produk wat in baie lande geproduseer word met presies dieselfde plaaslike bestanddele. Wanneer ’n Big Mac se waarde tussen verskillende lande met die werklike wisselkoers vergelyk word, kan bepaal word of ’n land se geldeenheid onder- of oorwaardeer is.

Volgens die Big Mac-indekswaarde is die Suid-Afrikaanse rand byna 62% teenoor die Amerikaanse dollar onderwaardeer. Hou egter in gedagte dat die Big Mac-burger se verkoopsprys wêreldwyd vergelyk word en nie die produksiekoste van ’n Big Mac-burger nie. Let ook daarop dat die waarde van die rand deur die vraag daarna en die aanbod daarvan in geldmarkte bepaal word. Die vraag na die rand, asook markdeelnemers se vertroue in die rand, bepaal die relatiewe waarde daarvan teenoor die Amerikaanse dollar.

In Suid-Afrika is beleidsoorwegings, soos grondonteiening sonder vergoeding, hoë vlakke van misdaad en korrupsie, verwaarloosde infrastruktuur, regeringsvermoë, die stand van die regsbank, swak ekonomiese groei en ’n groter regeringskuldlas enkele faktore wat die vraag na die rand teenoor ander geld eenhede ongunstig beïnvloed.

Die Big Mac kos R33,50 in Suid-Afrika en $5,66 in Amerika. Die geïmpliseerde wisselkoers is R5,92 teenoor die Amerikaanse dollar. Die verskil tussen R5,92 en die werklike wisselkoers van R14,61 (op 1 Januarie 2021) is 59% onderwaardeer. In Julie 2010, toe Suid-Afrika ’n hoogtepunt met die Wêreldbeker- sokkertoernooi beleef het, het die indeks aangedui dat die rand 34% teenoor die Amerikaanse dollar onderwaardeer was.

Die waarde van die indeks lê daarin dat wisselkoerse op lang termyn na ’n koers moet beweeg waarvolgens ’n identiese mandjie van verbruiksgoedere tussen lande min of meer dieselfde waarde sou hê – in hierdie geval die Big Mac-burger.

GEVOLGTREKKING

Dit is bemoedigend om te weet die Suid-Afrikaanse voedselwaardeketting lewer wat die produksie en verwerking van landboukommoditeite en produkte tot voedsel in die kleinhandel betref, voldoende, heilsame en bekostigbare voedsel aan die Suid-Afrikaanse bevolking. Te midde van die uiteenlopende maatskaplik-ekonomiese probleme waarmee Suid-Afrikaners elke dag te doen kry, moet ons nooit die bydrae onderskat wat die landbou lewer nie.

Ondanks swak ekonomiese groei en die impak van die Covid-19-pandemie op ons bestaan, lewer die landboubedryf nie net ’n wesenlike bydrae tot Suid-Afrika se ekonomiese groei nie, maar ook voedsel aan die bevolking. 

Mnr. Wessel Lemmer is hoofbestuurder van AgbizGrain.

BRONNE: Agbiz Grain, The Economist, Big Mac-indeks.