Klein dingetjies laat in die droogte die hoop opvlam: Die moontlikheid van droogtehulp ná die adjunkpresident se besoek aan die Boesmanland, voerskenkings wat boere tog nog kry en die donderweer wat nou gereeld mooi opsteek. Mnr. Hentie van Jaarsveld van die plaas Saffier by Loeriesfontein sê die donderweer het op 18 Oktober “nogal goed” opgesteek, al het die westewind dit weggejaag. “Ons het baie lanklaas donderweer gesien.”

Hy het grond in die winter- en somerreëngebied. In die somerreëngebied (Boesmanland) het hy nog ruvoer in die veld wat hy met byvoeding kan aanvul, maar in die Hantam (winterreëngebied), waar dit vyf jaar laas behoorlik gereën het, is daar nie veel op die veld nie. Hulle kon ook nie vanjaar voer saai soos die gewoonte in die Hantam is nie.

“Ons moes eintlik drie, vier jaar terug daarmee opgehou het. Nou is die vee te maer en ons kan nie meer genoeg voer gee nie. Ons kry baie skenkings, ons is dankbaar oor elke ding, maar ons kan mos nie net op skenkings hoop nie. ’n Skenker gee byvoorbeeld R100 000 se goed, maar as jy dit deur 120 boere deel, kry elke ou nie veel nie. Die skenkings lig darem die mense se gemoed as jy weet daar is iemand wat aan jou dink.”

Hulle koop baie voer, maar geld raak skaars. Boonop is die vleisprys laag en die vraag na skape swak omdat daar so baie boere is wat skape wil verkoop. Van Jaarsveld waarsku as dit nie voor April in die Boesmanland of Hantam baie goed reën nie, daar “groot moeilikheid” in hul omgewing kom. “Dan moet ons noodgedwonge ophou. Ons kan tog nie boer tot daar niks oor is nie.”

Hy sê die Boesmanland het in die 1980’s ook só ’n groot droogte gehad, maar in die winterreëndeel ken hulle nie sulke droogtes nie. Enige noemenswaardige reën wat in die Boesmanland val, maak ’n verskil, maar dit moet volgens hom sommer baie reën voor somerreën ’n verskil aan die Hantam maak.

Die beskikbaarheid van ondergrondse water wissel: Op sommige plase hou die boorgate nog, op ander is daar nie eens meer huiswater nie, of moet boere water vir hul vee aanry.

Volgens Van Jaarsveld het hulle ook baie goeie jare nodig om ’n reserwe op te bou. “Dit is mos ’n droë wêreld. Ons aanvaar ’n droë jaar of droë seisoen – dit is nie ’n ramp nie. Maar in die verlede, as die reënval oor drie jaar abnormaal laag was, is dit as ’n rampdroogte beskou, en dan was daar ondersteuningsmaatreëls gereed.”

Hy sê hulle het die Bybelvers wat lui: “Al wat oorbly is geloof, hoop en liefde en die grootste daarvan is die liefde”, verander. “By ons is hoop die grootste, ons hoop altyd op reën. Ek het vandag baie moed sommer net omdat die weer opgesteek het, maar dat dit met ons mense sleg gaan, is waar.”

In die verlede, as dit droog was, het hulle altyd met hul vee Carnarvon of Kenhardt toe getrek, maar hierdie keer strek die droogte ver en wyd. Op die moeilike vraag of die droogte tekortkominge in hul boerderypraktyke uitgewys het, sê hy hulle doen wat hulle kan, maar die droogte het gewys “hoe ons dalk maar verkeerd boer, want ons wêreld was altyd vergewensgesind”.

“Wat julle in die Kaap in die waterkrisis gedoen het, doen ons al jare lank. Alles wat ’n mens kan doen om te probeer bespaar of oorleef, doen ons.” Daar is sekere lopende koste wat hulle moet betaal, maar boere se veegetalle is nou baie min vir die grond wat hulle het. “Ons kan nie met nóg minder boer nie, dan moet ons ophou.”

Hy het vloedbesproeiing in saaidamme, maar saai droëlandgraan ook. “Maar dit moet goed reën,” sê hy. “Die afgelope 33 jaar het ons net drie jaar lank nie genoeg water gekry nie, en dit was in die afgelope vyf jaar.”

Hy sê dit is só droog die bloekombome wat al jare lank op sy plaas staan, het gevrek. Selfs die muskietbome wat hy so verpes, is besig om te vrek. Hy sê hulle kry die afgelope jare ook baie meer wind. “Die wind waai sand vanaf die duine wat die jakkalsproef toewaai. Die wind verniel ook, maar as ons nie wind het nie, gooi die windpompe nie weer water nie.”

Baie boere sou nie kon oorleef sonder voerskenkings van die publiek en organisasies nie.

‘JOU KOP MOET STERK WEES’

“Ons hou nog, maar jou kop moet sterk wees. Ons is nog hier,” sê mnr. Wilhelm Steenkamp van die plaas Rietvlei en bestuurslid van die boere-unie Williston. Hulle het dit reggekry om hul kuddes deur die winter aan die gang te hou, maar dit het werk geverg.

Hy sê die bestuur van die boere-unie het ’n doelbewuste besluit geneem dat hulle daadwerklik voer sal soek en seker maak dat dit teen ’n bekostigbare prys aan sy lede beskikbaar gestel word. “Elke bestuurslid het ’n portefeulje, maar die hele bestuur wend ’n poging aan om mense te bel en voer te soek. Ons werk maar en doen moeite om die boere te help. Dit is ons siening, ons kan nie wag dat iemand anders iets vir ons doen nie. Ons moet self skouer aan die wiel sit.”

Hy sê sedert Landbouweekblad se besoek in Mei het niks nog verander nie, maar nou kan hulle darem vir reën begin uitkyk. Iets waaraan hy liewer nie wil dink nie, is wat gaan gebeur indien dit dié somer weer nie reën nie. Die mooi weer wat middel Oktober opgesteek het, en die paar druppels wat geval het, het nietemin hoop gegee.

Volgens hom hou sy water nog, maar by sy buurman het die boorgate opgedroog. “Baie mense kan as gevolg van droë boorgate nie op die helfte van hul plaas boer nie. Ander ry water aan vir hul skape en by nóg mense is die huiswater besig om op te droog.” Hulle voer maar die skape “om die huis, want daar is niks op die veld nie”.

Mnr. Wilhelm Steenkamp

MOEILIKE BESLUITE

Soos Van Jaarsveld, praat mnr. De Graaff Genis van die plaas Brakkies by Kamieskroon van die moeilike besluite wat die droogte boere dwing om te neem en hoe belangrik dit is dat die Boesmanland vanjaar goeie (en vroeë) somerreën moet kry. “Vanjaar gaan ’n bepalende jaar vir Namakwaland en die Boesmanland wees. As die Boesmanland nie reën kry nie, kom hier groot moeilikheid.”

Hy het grond in die Boesmanland en Namakwaland (winterreën), maar die laaste goeie jaar in Namakwaland was 2013, terwyl hulle nog in die somer van 2018 reën in die Boesmanland gekry het. “As ons in die Boesmanland reën kry, is ’n swak winter hier nie die ergste nie. As dit Desember, Januarie of Februarie in die Boesmanland reën, kan ons skape dan klaar lammers kry.”

Hy sê die “eerste prys” is as die vee tot Junie of Julie in die Boesmanland kan bly sodat die veld in die winterreëngebied aan die gang kan kom. Hoe vroeër hulle winterreën kry, hoe beter. Dan groei opslag op die lande, en nie die gras nie. As die winterreën so laat begin soos vanjaar, dan groei “so ’n vaal grassie wat die skape nie vreet nie”.

Genis, wat ook koring, hawer, gars en lupiene saai, sê as daar een ding is wat hy vanjaar anders sou doen, sou dit wees om nie kunsmis toe te dien nie. “As ek moet rekord hou van my oes, sal ek nie kan saai nie. Vir ons gaan dit oor materiaal op die land, oor oorlewing op die stoppellande in die vroeë somer totdat dit reën in die Boesmanland.”

Die droogte krap sy stelsel deurmekaar, want hulle gaan nie vanjaar op alle lande ’n oes afhaal nie. As dit dus nie in die Boesmanland reën nie, sal hulle alle skape moet voer gee. “Ons vrees hierdie somer.” Hy hoop nietemin die Boesmanland kry vroeg reën. Dit kan in November al daar reën. Hy sê boere wat net in die Boesmanland grond het, en heeltyds daar boer, behoort medaljes te kry.

“Ons het ’n plek om na terug te kom as dit daar nie reën nie, maar vir daardie boere is die droogte meer ’n werklikheid. As ’n mens in ’n ideale wêreld na die saak kyk, is dit noodsaaklik dat die regering die boere help.”

Hy sê met klimaatsverandering moet boere se ingesteldheid so wees dat hulle nie die natuur se veerkragtigheid onderskat nie, maar dit ook nie uitbuit nie. “Ons moet rentmeesters wees, nie stropers nie.”

Mnr. De Graaff Genis (links) en sy seun Willem gee ’n lek voor die winter vanjaar.

SKOUER ONDER BOERE SE ARM

Hope dooie skape en sandrippels met swart grasknoetse het die simbole van die droogte geword. Of is dit vragmotors, hoog gestapel met ronde bale, of selfs die pleidooie en bankrekeningnommers op Facebook? Eintlik is dit hoe die algemene publiek die mense bystaan. Sodra ’n mens dink die skenkers is uitgeput, kom daar ’n nuwe groep wat boere op ’n vars manier wil help. Lidmate van die NG gemeente Leipoldtville het onlangs besluit om boere in die Boesmanland te help.

Ds. Gideon Basson, leraar van die gemeente, sê sy gemeentelede kry ook swaar, maar darem nie so swaar dat hulle nie – soos Aäron en Hur Moses ondersteun het om sy arms op te hou – medeboere in die Boesmanland kan help nie. Hulle het 17 plaasgesinne in die Boesmanland “aangeneem”.

In dié stadium skenk hulle nie voer nie, maar hulle “sit ’n skouer onder arms wat lam geword het”. “Pleks van voerhulp, gaan die gemeente ’n boer en sy gesin aanneem en die pad met hulle loop deur hulle geestelik te ondersteun deur WhatsApp-boodskappe en oproepe en ’n klein finansiële bydrae. Ons het 17 gesinne aangeneem en elke wyk het 4 of 5 gesinne.”

Die 17 gesinne woon van Gamoep tot 20 km van Aggeneys tot 60 km van Kliprand. Basson en sy vrou het pas die gesinne besoek. “Dit gaan bitter sleg. By elke huis is dit dieselfde: Mense is besig om hul geloof en greep op God te verloor, hulle verstaan nie hoekom dit met hulle gebeur nie. Hulle is besig om emosioneel inmekaar te val en hul menswaardigheid te verloor. Hulle was goeie boere wat ’n bydrae tot die gemeenskap gelewer het. Dan eers sê hulle dit is droog, ons het nie voer of geld nie.”

Basson sê die kerk kan nie voer aflaai nie, maar die kerk en gelowiges moet hoop bring. “Ons gemeentelede sê ek sal namens jou bid en die Bybel lees. Ek sal vir die Here sê jy kan nie, jy’s moeg.”

Die finansiële bydrae kan nie as droogtehulp gedefinieer word nie. “Dit gaan oor die mense se menswaardigheid . . . dat hy ná skool vir sy kind ’n melkskommel kan koop, of saam met sy vrou ’n burger by Jopie se kafee kan eet, of vir die naweek McDougallsbaai toe kan gaan.”

Volgens Basson het die boere bang geraak as hulle enigiets lekkers doen, sal mense hulle veroordeel. Hy sê mense het afgestomp geraak. “Hulle gee net voer en kom by niks anders uit nie. Ons gemeentelede probeer om daardie emosionele behoeftes aan te roer dat hul psige kan optel en hulle weer kan asemhaal.”

Hulle besef dit is ’n tydelike abba-aksie. “Net reën kan die boerderyvooruitsigte verander.”

Basson sê hierdie droogte is só wyd, jy kan net die plekname verander en dieselfde scenario speel hom daar ook af. “Skool- en koshuisgeld raak agter en mense begin tuisonderrig aan hul kinders gee, of die vrou gaan bly op die dorp en die huwelike ly daaronder. Daar is nie meer geld om dorp of kerk toe te ry nie. Daar ontstaan ’n behoefte wat jy nie in woorde kan sê nie.”

Wat hom tydens sy besoeke aan die boere diep geraak het, was toe een van die boere se vrou gesê het hul skape het nog nooit in hul lewe aan ’n groen bos of gras gevreet nie. “Ek het na die droogte gaan kyk en op ’n woestyn afgekom.”

Die Boesmanland beleef die ergste droogte in sy kommersiële boerdery­geskiedenis. FOTO: GIDEON BASSON

VOERSKENKINGS

Boere beraam hul eie planne, maar is dankbaar as mense of organisasies voer skenk. Talle boere is egter heeltemal van geskenkte voer afhanklik om hul kuddes aan die gang te hou.

Anders as regeringshulp vir droogte, wat veronderstel is om almal in ’n rampgebied te help, is voerskenkings die prerogatief van die skenker. As ’n mens die sosiale media dophou, lyk dit asof hulp na sekere gebiede stroom, terwyl ander gebiede nie juis iets kry nie. Gemeenskappe verskil ook in die manier waarop hulle hul lot aan die wêreld bekend maak en skouer aan die wiel sit om skenkings of goedkoper voer te bekom.

Boere sal twee keer dink voor hulle oor skenkings kla, maar daar is kommer oor watter onkruid en indringerplante saam met die geskenkte voer op plase aankom. As die reën weer kom, kan daar nuwe probleme voorkom.

Daar word ook soms voer geskenk en moet boere wat dit wil hê, of aan wie dit toegewys word, die vervoerkoste betaal. Dié wat dit die nodigste het, kan dit dikwels die minste bekostig. As dit hoëwaardevoer, soos mielies of goeie lusernhooi is, is dit dalk die geld werd, maar soms is dit laegraadse ruvoer waaraan die skape langtand vreet of wat met byvoegings verteerbaar gemaak moet word.

DIE GEVAAR VAN VERWOESTYNING

Prof. Klaus Kellner van die Noordwes-Universiteit, een van Suid-Afrika se voorste navorsers oor verwoestyning, sê hul monitering wys verwoestyning is besig om toe te neem omdat dit warmer en droër word as gevolg van klimaatsverandering. “Onthou, verwoestyning is net ’n erge graad van veldagteruitgang. Eers verswak die veld, met ander woorde die plantbedekking en hoeveelheid plante, veral smaaklike plante, word minder. Indien die veld dan nie herstel nie en meer agteruitgaan, sal verwoestyning oor langer tydperke plaasvind, dus nóg minder plante en nóg minder bedekking.”

Kellner sê dit is waarom boere moet voorsorg tref vir droë jare deur hul veld goed te bestuur. “Ons doen rehabilitasie waardeur ons probeer om die veld wat agteruitgegaan het met verskillende metodes te ‘versterk’. Boere moet byvoorbeeld nie ál die takke van indringerbome en -struike gebruik om ‘boskos’ vir hul diere te maak nie, veral as daar nie meer kos in die veld is nie.”

Hulle moet liewer “takke pak” deur die klein takke in die veld te los en die kaal kolle te bedek sodat die gras weer groei sodra die reën kom. “Jy moenie jou hulpbron ‘roof’ nie. Beskerm jou grond en laat die takke vrot word sodat daar weer voedingstowwe in die grond gevoeg en die vrugbaarheid van die grond verhoog word vir die plante wat sal groei as dit weer reën.”

As takke met dorings gebruik kan word, is dit selfs beter: Die takke beskerm saailinge teen beweiding.

Mense kyk dikwels na die foto’s van kaalgewaaide veld en dink niks gaan ooit weer daar groei nie, maar Kellner sê die herstel sal altyd afhang van die saad wat in die grond oor is. “As die saad van die plaaslike plante in die grond is en dit reën weer, sal dit groei as die grondvog herstel. Ons beveel daarom aan dat boere, indien moontlik, nie al die plante wat saad maak, bewei nie, want die saad wat ryp word en afval, sal weer in die grond voorkom.” 

Navrae: Prof. Klaus Kellner, e-pos: Klaus.Kellner@nwu.ac.za; 018 299 2509; Ds. Gideon Basson, 083 786 9567, mnr. Wilhelm Steenkamp, 082 345 5359.