Hy huil in die veld oor die veld, het ’n boer van Laingsburg iewers verlede jaar opgemerk, net soos iemand wat by die graf van ’n geliefde gaan treur. Dis nie net hy wat bedroef is oor ekologiese agteruitgang vanweë klimaatsverandering en menslike bedrywighede nie.

Daar is deesdae begrippe soos “solastalgie” (geestelike angs weens veranderinge aan die omgewing) of “klimaathartseer” oor wat die mensdom verloor het of besig is om te verloor. Tog kan die herstel- of troosproses op die toneel van die verlies begin. Baie mense weet dit reeds, maar die goeie nuus is dat al hoe meer medici en sielkundiges vind die natuur kan soos medisyne wees. Mense se gemoedstoestand kan verbeter as hulle by ekologiese rehabilitasieprojekte betrokke raak.

Dié bevinding is ook nie eens meer net teorie nie. Op Prins Albert in die Wes-Kaap is proff. Sue Milton en Richard Dean, eienaars van Renu-Karoo Veld Restoration, ’n veldrehabilitasie-onderneming op dié dorp, en me. Hélène Smit, ’n berader, besig om dit prakties te ondersoek.

Milton het in September op die wêreldkonferensie oor ekologiese restourasie in Kaapstad aan ’n internasionale gehoor verduidelik dat sy en Dean 12 jaar gelede ’n geleentheid raakgesien het om veldrestourasie in die droë gebiede te doen en hoe hulle daardeur plaaslike mense se vaardighede verbeter en ’n gunstige houding teenoor die natuurlike wêreld help kweek het.

Die Karoodorp Prins Albert is die tuiste van ’n suksesvolle veldrestourasie-onderneming.

DROë HART VAN DIE KAROO

Hulle werk in die “droë hart van die Karoo”, waar dit gemiddeld minder as 200 mm per jaar reën. “Die veld het baie pak gekry deur oorbeweiding deur skape of oorbelading met wild wat nie geskik is vir die gebied nie. Die ekonomie van Karoodorpies is onder groot druk. Inwoners is laag geskool, werkloosheid is hoog en omdat plaaslike munisipaliteite sukkel om basiese dienste te lewer, is die dorpies droog, stowwerig en vuil.”

Hoewel nomadiese veeboere die Karoo duisende jare lank deurkruis het, het die jare van oorbeweiding sowat 250 jaar gelede met gevestigde boerdery en inkamping begin. “Dit het tot selektiewe beweiding, oorbeweiding, ’n toename in giftige plante, slooterosie en indringerbome in die riviere gelei.”

Volgens Milton stel dit groot eise aan veldherstel, en word die omvang van kaal grond vererger deur mynbedrywighede en die oprigting van aanlegte vir hernieubare energie. “Omdat die lae reënval dikwels deur blitsvloede onderbreek word, is donga-erosie algemeen en bly kaal grond dikwels kaal.”

Tog is daar vele restourasiegeleenthede in die probleme, sê Milton, veral vir ondernemings wat saad versamel en werk verskaf aan mense wat saad en plantjies kweek. “Daar is geleenthede om met universiteite en ander organisasies te skakel om interessante navorsing en opleiding te doen oor wat werk en wat nie.”

Hulle doen navorsing saam met die Suid-Afrikaanse aardwaarnemingsnetwerk (SAEON), mentor studente van die Nelson Mandela Metropolitaanse Universiteit se Saasveldkampus en is betrokke by praktiese navorsing oor restourasie.

Daar is ook geleenthede om langtermynrehabilitasie- en -demonstrasiepersele op te rig sodat boere en rehabilitasiepraktisyns daaruit kan leer. Sy sê dis waarom hulle ’n “saadboord” op Prins Albert gevestig het en mense opgelei het om saad in die veld te versamel, skoon te maak, te sorteer en te verpak. Hulle het ook markte gesoek. “Ons het geleer deur te doen en foute te maak, al het ons min sukses behaal in die droogte.”

Milton sê daar is heelwat vakartikels wat die voordele van die natuur uitwys en hoe mense fisiek en sielkundig gesonder is as hulle in die grond werk. “Daar is geestelike voordele daarin om in die natuur te wees. Om in die buitelug te oefen, maak mense meer energiek en veerkragtig, verminder aggressie en verlaag hul bloeddruk.”

Prof. Sue Milton
Me. Hélène Smit

NIE-TASBARE VOORDELE

Sy sê navorsers vind as mense by die restourasie van natuurlike hulpbronne betrokke is, herstel daar in hulle ook iets. “Ek dink baie van ons beskadig die wêreld en voel ons gee iets terug as ons by plaaslike rehabilitasieprojekte betrokke raak.”

Toe Smit nog op Prins Albert gebly het, het sy ’n skool begin vir kinders wat psigiese skade gely het weens moeilike huislike toestande. Hoewel sy nie meer op Prins Albert bly nie, is sy nog betrokke by die skool. Die kinders het help vullis optel in die natuurreservaat Wolwekraal wat Milton en Dean bedryf.

Milton sê hoewel dit nog bewys moet word dat die restourasie van grond geestesgesondheid kan herstel, meen sy vir hul werk om ’n noemenswaardige impak te maak, moet daar ’n saadkwekery op elke dorpie wees. “Ons is te klein en afgesonder. Daar moet ’n baie groter netwerk wees van klein besighede wat saad op verskillende dorpe ver- samel. Dan kan ’n mens die gebruik van inheemse en geskikte saad vir restourasie in spesifieke gebiede beter bemark.”

Sy sê in dié stadium word restourasie gedoen met saad wat geredelik in die handel beskikbaar is, soos Eragrostis- of tefsaad, dog dit is dikwels nie geskik vir ’n spesifieke omgewing nie.

Navrae: Prof. Sue Milton, e-pos: renukaroo@gmail.com; Hélène Smit, e-pos: helene@feather.co.za.