Om die kwalitatiewe bestuur van rampverklarings te beperk, het die nasionale werkskomitee oor droogte-indikatore duidelike riglyne vir toekomstige rampdroogteverklarings opgestel. Die eerste taak was om ’n droogteklassifikasie op te stel. Die klassifikasie word gedoen aan die hand van verskillende indikatore en drempelwaardes vir elke indikator.

Die droogte-aanwysers wat vir Suid-Afrika voorgestel word, word as primêre en sekondêre aanwysers geklassifiseer. Die primêre aanwysers is dié wat maklik met behulp van meteorologiese data, satellietbeelde, watervloeimeters en grondwaterdiepte gemeet kan word. Sekondêre aanwysers verteenwoordig die werklike landboutoestande op ’n gegewe tyd. Primêre aanwysers verskaf deurlopende monitering.

Sodra sekere drempelwaardes bereik word, kan droogteklassifikasie plaasvind op grond van die drempelwaardes. Evaluering van sekondêre aanwysers word dan geaktiveer deur middel van verslae van vooraf geïdentifiseerde boere en veldbesoeke deur voorligters en spesialiste. Die sekondêre aanwysers dien as bevestiging van die impak van die droë tydperk, soos weerspieël in die primêre aanwysers.

verskillende klassifikasies

Die tabel som die drempelwaardes vir die aanwysers vir verskillende droogteklassifikasies op. Een aanwyser op sy eie is nie voldoende om ’n droogte te meet nie. Byvoorbeeld, ’n sesmaande-standaardpresipitasie-indeks (SPI) van -1,6 kan op ’n kategorie D3-droogte dui, maar die grondvoginhoud en die genormaliseerde plantegroei-indeks (NDVI)-resultate bly binne die D2-klassifikasie danksy goeie reën wat voor die meettydperk geval het.

Daarom is die spesifieke droogte ’n D2-droogte. Om ’n droë tydperk in ’n spesifieke droogtekategorie te klassifiseer, moet minstens drie van die aanwyser-drempelwaardes ooreenstem. Verskeie gekombineerde droogte-aanwysers is beskikbaar om akkurate droogteklassifikasie te doen.

Die aanwysers soos voorgestel in die tabel is egter voldoende om droogte taamlik akkuraat te klassifiseer. Die primêre aanwysers in die tabel moet aangevul word met sekondêre aanwysers wat ’n aanduiding van die impak van die droogte is. Primere aanwysers word gegroepeer as (i) meteorologies, (ii) afstandswaarnemend en (iii) hidrologies.

Meteorologiese indikatore meet die afwyking van reënval van die langtermyngemiddelde op ’n spesifieke plek en tyd. Die SPI of die standaardpresipitasie-evaporasie-indeks (SPEI) word wêreldwyd gebruik om meteorologiese droogtes te meet. Verskeie produkte word voorgestel vir afstandswaarneming, naamlik NDVI, plantgesondheidsindeks (VCI), (iii) persentasie van gemiddelde seisoengroenheid (PASG), en (iv) grondvogindeks. 

Prof. Andries Jordaan is uitvoerende direkteur van die rampbestuurskonsultante Résilience Globale in Bloemfontein.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe. Volg ons op WhatsApp om daaglikse landbounuus op jou selfoon te ontvang.