Case Northmec van Bredasdorp het sy Case Puma 210 Limited Edition ploeg- en algemene plaaswerktrekker vertoon, wat aangedryf word deur ’n 410l Iveco FPT-turbodieselenjin van 157 kW. Dit het ’n 18-gang-Powershift-transmissie met ses truratte. Die hoof- hidrouliese pomp pomp olie teen 120 liter/minuut, en die sekondêre pomp teen 66 liter/minuut. Die trekker het ’n spesiale metaalrooikleur wat hom van die gewone Case Puma 210 onderskei. Prys: R2,07 miljoen. Navrae: Mnr. Dirkie Engelbrecht, sel 073 538 8918.
Smith Power Verkope van die Strand het sy nuwe Kubota M7172-trekker vertoon. Dit is ideaal vir plantwerk, voer sny, hooimaak en spuitwerk. Dit het ’n Kubota 6,7 Commonrail-enjin en ’n KVT-ratkas wat outomaties en deurlopend die ideale ratverhouding vind vir elke taak. Vanuit die volledig toegeruste kajuit met sy onafhanklike vering word alle funksies beheer. Die trekker het voor en agter ’n driepunt met ’n hysvermoë van onderskeidelik 3 900 kg en 9 500 kg. Dit het vier hidrouliese kragaftakkers. Prys: Die prys was teen druktyd nog beskikbaar nie. Navrae: Mnr. Nicol Schreuder, sel 082 925 0605.
Die nuwe Mahindra 7590-plaastrekker het pas in Suid-Afrika aangekom. Dit het ’n Mahindra Vlak 3-dieselenjin wat 48 kW lewer. Dit is verkygbaar in twee- en vierwielaandrywing, en het 12 ratte vorentoe en 12 truratte. Dit is deel van ’n reeks van vyf Mahindra-trekkers wat nou plaaslik beskikbaar is met enjins van 41 kW tot 68 kW. Met die minimum elektronika is dit is die ideale plaastrekker vir gewone plaaswerk. Prys: R516 235 vir die viertrekmodel. Navrae: Mnr. Neil Jensen, sel 083 400 5432.
Die nuwe Massey Ferguson 2630GE-boordtrekker, wat deur BHBW van Oudtshoorn vertoon is, se viersilinder-Simpson-enjin van 3,6 liter lewer 48 kW. Die trekker het 12 ratte vorentoe en vier truratte. Sy hidrouliese stelsel agter het ’n hysvermoë van 2 050 kg, en die koppelpunte vir werktuie het ’n olievloeitempo van 42 liter/minuut. Dit is ’n grootliks meganiese trekker met min elektronika. PRys: R402 500. Navrae: Mnr. Riël Deysel, sel 081 809 3863.
Die Nexos VE-boordtrekker is ’n skamele 1 m breed (die wydte is verstelbaar), wat dit ideaal maak vir werk in digte boorde en in die bessiebedryf. Die trekker het ’n 12-gangratkas met 12 truratte, en die Iveco-viersilinder-enjin lewer 66 kW. Die trekker is toegerus met ’n fabrieksgemonteerde kajuit met lugversorging. ’n Voordeel is dat dit ’n baie kort draaisirkel en vierwielaandrywing het. Die trekker se koolstofspoor is besonder klein en voldoen aan Europese Unie-standaarde. Prys: R580 750. Navrae: Mnr. Francis Dixon, sel 083 441 0178.
Overberg Agri van Caledon het sy Tafe 45DI-plaastrekker uit Indië, wat pas bekend gestel is, vertoon. Die trekker is feitlik 100% meganies sonder elektronika. Dit word aangedryf deur ’n Simpson-enjin wat 35 kW lewer. Daar is agt ratte vorentoe en twee truratte. Die trekker is ideaal vir ligter plaaswerk in Suid-Afrikaanse toestande. Dit is deel van ’n reeks van agt modelle. Omdat hy net 1,5 m hoog is, is die trekker ideaal vir gebruik in vrugteboorde. Prys: R198 950. Navrae: Mnr. Francis Dixon, sel 083 441 0178.
Coastal Fibreglass van Stanford het sy veselglasbad vertoon. Dit is 6 m lank, 800 mm diep en 900 mm breed. Die bad was aanvanklik op die kweek van perlemoen, waterblommetjies en koivis gerig, maar veeboere meen dit is ook ’n ideale bees- watersuipbak. Dit kan op die grond staan of in die grond gesink word. Dit het ’n prop in die bodem. Prys: R14 950. Navrae: Me. Jeanré Aucamp, sel 066 250 5680.
Hierdie geslote wateropgaarreservoir van 200 000 liter is van duursame PVC-materiaal gemaak. Dit is toegerus met twee oorloopstelsels wat aan weerskante aan die bokant van die reservoir aangebring is. By damsakke van kleiner as 100 000 liter is die luguitlaatstelsel in die middel van die dak, maar dit sou onprakties gewees het by die groteres. Die nuwe luguitlaatkonsep vervang die ouer uitlaatstelsels. Damsak van Cullinan het die sakke vertoon. Prys: Vanaf R1 195 (500 liter) tot R53 475 (200 000 liter). Navrae: Mnr. Gordon Bredenkamp, sel 083 320 7245.
Husqvarna van Pietermaritzburg het sy nuwe W80-laedruk-waterpomp vertoon, wat tot 50 m3 water per uur kan pomp. Dit is ideaal om damme leeg te pomp of tenkwaens vol te maak. Omdat die pompstelsel klein is, is dit baie maklik verskuifbaar. Dit is deel van ’n reeks wat almal petrolaangedrewe is, behalwe die groter W100-pomp wat dieselaangedrewe is. Prys: R3 600 (W80). Navrae: Mnr. Charles Henderson, sel 082 373 1957.
Netafim van Kaapstad het sy splinternuwe NetBeat-besproeiing-inligtingstelsel vertoon. DIt verskaf volledige inligting oor gewasbehoeftes, die watertoedieningsbehoefte van plante en die tempo waarteen besproei moet word. Dit is ’n internet-gebaseerde stelsel wat alle moontlike inligting wat ’n besproeiingsboer nodig het, op sy slimfoon aandui, en maak aanbevelings op grond van alle beskikbare inligting. Prys: Teen druktyd was die prys nog nie beskikbaar nie. Navrae: Mnr. Mark Hill, sel 082 377 1356.

  • Hou die volgende paar uitgawes van Landbouweekblad dop vir nóg werktuie en toerusting op Nampo kaap.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe. Volg ons op Whatsapp om daaglikse landbounuus op jou selfoon te ontvang.

© MessengerPeople