Al hoe Suid-Afrika ’n volhoubare toekoms kan hê, is as grondhervorming deur die Grondwet gedoen word. Dit sal verseker dat die proses billik is, nie arbitrêr geskied nie, en burgers hulle op die regstelsel kan beroep.

Adv. Tembeka Ngcukaitobi het dié uitspraak in Februarie op ’n spesiale seminaar van die instituut vir armoede-, grond- en landelike studies (Plaas) by die Universiteit van Wes-Kaapland gemaak.

“Ek wil beklemtoon dat die Grondwet die enigste manier is om uit die eiendomstrik te kom omdat dit onmoontlik is om ’n uitweg te kry deur die arbitrêre nukke van politici.” Daarvoor is instellings nodig wat in die Grondwet verskans word. Grond kan net volhoubaar herverdeel word as dit deur die regsproses gedoen word.

Ngcukaitobi het gesê mense moet onthou nou is dit dalk wit mense wie se grond vervreem word, maar in die toekoms kan dit wat mense nou meen ’n progressiewe manier is om die grondkwessie op te los, wéér swart mense van grond ontneem.

Hy het gesê Suid-Afrika moet eers die bepalings van die Grondwet ten volle in werking stel voordat gesê kan word die Grondwet belemmer grondhervorming.

“Die Grondwet is ’n radikale dokument. Ons moet ten minste oor een ding saamstem, en dit is dat grondhervorming deur die regstelsel moet plaasvind om te voorkom dat arbitrêre besluite geneem word, om seker te maak die proses word nie deur elite gekaap nie en om toe te sien dat diegene wat onteien word, hulle op die reg kan beroep.”

Ngcukaitobi was reeds betrokke by hofgedinge oor Nkandla, die “fees must fall”-beweging en staatskaping. As ’n waarnemende regter in die grondeisehof was hy onlangs in die nuus toe sy bevel in die Msiza-saak dat vergoeding van R300 000 minder as markwaarde betaal moet word, in die appèlhof ter syde gestel is.

Sy boek The land is ours: South Africa’s first black lawyers and the birth of constitutionalism het pas verskyn. Dit handel oor Suid-Afrika se eerste swart prokureurs en hul verbintenis tot ’n grondwetlike stelsel wat individuele regte en vryhede eerbiedig.

Hulle het gepraktiseer in ’n tyd dat swart mense hul rykdom verloor het toe hulle van hul beeste moes ontslae raak nadat hulle die meeste van hul grond verloor het. Die prokureurs het die wet as ’n instrument teen onreg gebruik.

Ngcukaitobi gebruik hul geskiedenis om in die huidige atmosfeer van agterdog teenoor die Grondwet en sy beskerming van die regte van individue te wys dat die vryheidstryd ondersteun is deur konstitusionalisme en regsreëls.

INSTRUMENT VIR TRANSFORMASIE

Toe ’n grondwet vir ’n demokratiese Suid-Afrika opgestel is, was een van die ANC se vereistes dat die Grondwet sal help om die grondkwessie op te los. Die uiteinde was ’n “instrument vir transformasie”, het hy gesê. Daar is egter groot wanbegrip oor artikel 25 (sien kassie ) van die Grondwet.

Die Grondwet verskans byvoorbeeld nie eiendomsreg nie; dit maak wel voorsiening daarvoor dat niemand sonder ’n geregtelike proses van eiendom ontneem mag word nie.

“Die hele Grondwet is opgestel om transformasie moontlik te maak. Dit sien ons in die res van artikel 25. Artikel 25.5 het te doen met herverdeling van grond. Dit verplig die staat om maniere te kry om mense toegang tot grond te gee. Ek noem dit om te wys dat die staat se mandaat nie beperk is tot grondrestitusie nie. Dit moet ook grond herverdeel.”

Die tweede mandaat wat die artikel oor eiendom aan die staat gee, is artikel 25.6 wat daarvoor voorsiening maak dat ’n “persoon of gemeenskap wie se besitreg van grond regsonseker is as gevolg van wette of praktyke van die verlede wat op grond van ras gediskrimineer het, geregtig is op besitreg wat regseker is óf gelykwaardige vergoeding”.

“Dit het niks met herverdeling of restitusie te doen nie, maar met sekerheid van besitreg.

“Dit geld veral mense wat op plase en in dorpies bly. Die grootste bedreiging vir sekerheid van besitreg is die grond onder beheer van hoofmanne.” N

gcukaitobi het gesê al het die Regering belowe om wetgewing deur te voer om dié vermoë van hoofmanne om mense se besitreg weg te neem of te beperk, in toom te hou, is dit nog nie gedoen nie.

Ander aspekte van grondhervorming waaroor mense dikwels onkundig is, is dat die Grondwet nié vir ’n beginsel van gewillige koper, gewillige verkoper voorsiening maak nie, óf die staat verplig om vergoeding teen markwaarde te betaal nie.

Hy het juis laasgenoemde beginsel getoets in sy uitspraak oor die eis van die huurarbeider Philemon Msiza toe hy beveel het dat die staat R1,5 miljoen aan die grondeienaar betaal, hoewel die grond vir R1,8 miljoen gewaardeer is. Hy het gesê ingevolge die Grondwet moet vergoeding billik en regverdig wees. “As alles in ag geneem word, kan vergoeding in sommige gevalle nul wees.”

Dit beteken volgens hom dat dit nie nodig is om die Grondwet te verander om onteiening sonder vergoeding toe te laat nie.

KORRUPSIE EN MARKWAARDE

As die Grondwet nie die probleem is nie, wat strem dan die grondhervormingsproses? Ngcukaitobi het gesê daar is drie verwante faktore: Korrupsie, burokrasie en die Regering se verbintenis tot vergoeding teen markwaarde en meer. Hy glo daar is korrupsie in die manier waarop die Regering grondhervorming te weeg bring.

“Jy gaan deur die lêers en die syfers klop nie. Dan kry jy ’n bevel wat die ooreenkoms ter syde stel, maar die geld word nooit terugbetaal nie. Ek wonder wat van daardie geld geword het.”

Uitgerekte burokratiese prosesse belemmer ook grondhervorming. Hy het die voorbeeld genoem van ’n restitusiegeval wat in 1998 begin het en vir 16 jaar van konsultant na konsultant gestuur is voordat dit voor hom in die grondeisehof gedien het. “Waarom het hulle so lank gesloer? Dis ’n hoogs ondoeltreffende stelsel.”

Om die ingewikkelde burokratiese proses verder te verduidelik, het hy gesê ’n gewone grondeiser het ’n prokureur en ’n advokaat nodig, partykeer ook ’n antropoloog en ’n geskiedkundige. “Waar gaan jy die mense kry? Boonop het die staat aanvanklik nie vir die grondeis betaal nie, en die staat betaal ook nie tensy jy ’n vorm ingevul het nie.”

Die derde probleem wat grondhervorming beduiwel, is die staat se “idee” dat die Grondwet vereis dat markverwante vergoeding betaal word, terwyl vergoeding eintlik net billik en regverdig moet wees. Hy meen dit sal help as die staat riglyne gee van wat billike en regverdige vergoeding is.

Ngcukaitobi het gesê staatsamptenare is “versteen” in die gedagte van vergoeding teen markwaarde of meer. Dis dikwels húlle, nie grondeienaars nie, wat daarop aandring om markwaarde te betaal. “Dis maklik om te sê wit boere is die probleem omdat hulle verwag dat belaglike pryse vir hul grond betaal word.”

Sy ervaring is anders. “Daar was gevalle in die grondeisehof waar die advokate wat namens die grondeienaars optree, gesê het hulle het die plaas vir minder as markwaarde aan die Regering aangebied, maar die Regering het vyf jaar gewag voordat op die aanbod gereageer is.

“In ander gevalle is ’n transaksie gesluit om grond vir minder as markwaarde te verkoop, maar dan sloer die staat tien jaar om die geld oor te betaal sodat die oordrag kan plaasvind.”

WAT STAAN IN ARTIKEL 25?

  • Niemand mag eiendom ontneem word nie behalwe ingevolge ’n algemeen geldende regsvoorskrif, en geen regsvoorskrif mag arbitrêre ontneming van eiendom veroorloof nie.
  • Eiendom mag slegs ingevolge ’n algemeen geldende regsvoorskrif onteien word:

- vir ’n openbare doel of in die openbare belang; en

- onderworpe aan vergoeding waarvan die bedrag en die tyd en wyse van betaling óf deur diegene wat geraak word aanvaar is óf deur ’n hof bepaal of goedgekeur is.

  • Die bedrag van die vergoeding en die tyd en wyse van betaling moet regverdig en billik wees, en moet ’n billike ewewig toon tussen die openbare belang en die belange van diegene wat geraak word, met inagneming van alle tersaaklike omstandighede, met inbegrip van:

- die huidige gebruik van die eiendom;

- die geskiedenis van die verkryging en gebruik van die eiendom;

- die markwaarde van die eiendom;

- die omvang van regstreekse belegging en subsidie deur die staat ten opsigte van die verkryging en voordelige kapitaalverbetering van die eiendom; en

- die doel van die onteiening.

  • By die toepassing van hierdie artikel:

- beteken die openbare belang ook die nasie se verbintenis tot grondhervorming, en tot hervorming om billike toegang tot al Suid-Afrika se natuurlike hulpbronne te bewerkstellig; en

- is eiendom nie tot grond beperk nie. Die staat moet redelike wetgewende en ander maatreëls tref om, binne sy beskikbare middele, toestande te skep wat burgers in staat stel om op ’n billike grondslag toegang tot grond te verkry.

  • ’n Persoon of gemeenskap wie se besitreg van grond regsonseker is as gevolg van wette of praktyke van die verlede wat op grond van ras gediskrimineer het, is geregtig, in die mate wat deur ’n Parlementswet bepaal word, op óf besitreg wat regseker is óf gelykwaardige vergoeding.
  • ’n Persoon of gemeenskap wat ná 19 Junie 1913 die besit van eiendom ontneem is as gevolg van wette of praktyke van die verlede wat op grond van ras gediskrimineer het, is geregtig, in die mate wat deur ’n Parlementswet bepaal word, op óf teruggawe van daardie eiendom óf billike vergoeding.
  • Geen bepaling van hierdie artikel verhinder die staat om wetgewende en ander maatreëls te tref om grond-, water- en verbandhoudende hervorming te bewerkstellig ten einde die gevolge van rassediskriminasie van die verlede reg te stel nie, op voorwaarde dat enige afwyking van die bepalings van hierdie artikel in ooreenstemming met die bepalings van artikel 36(1) is.
  • Die Parlement moet die wetgewing, soos bedoel in subartikel (6), verorden.