Vraag

’n Mens hoor gereeld dat wanneer ’n seun of kleinseun die familieboerdery oorneem, hulle die grond teen ’n goedkoper prys as markwaarde koop sodat die seun kan boer en die ouers gemaklik kan aftree. My vraag is egter of daar ’n beperking is aan hoeveel goedkoper as markwaarde die ouers die grond aan die seun kan verkoop? Wat is die gevolge en komplikasies daaraan verbonde?

Raad

Die aspek van die wet wat hier van toepassing is, is die hereregte wat betaalbaar is aan die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) op die reg van die koper om die oordrag van ’n eiendom in sy naam te registreer. Die reg om die eiendom in sy naam te registreer, word vervat in ’n skriftelike koopkontrak wat van toepassing is op die aankoop van die eiendom.

Kragtens die Hereregtewet is hereregte aan die SAID betaalbaar en kan die eiendom slegs teen die billike markwaarde daarvan aan ’n koper oorgedra word. Die eiendom, in hierdie geval die plaas, se prys beteken die billike markwaarde op die datum van die aankoop van die plaas.

Indien dit teen ’n laer waarde aan ’n koper oorgedra word, kan die transaksie deur die SAID as ’n skenking beskou en die verkoper vir skenkingsbelasting aanspreeklik gehou word.

In die geval van verwante partye, byvoorbeeld wanneer bates eienaarskap verwissel van ouers aan kind, of broer aan broer, is die praktyk van die SAID om te versoek dat ’n bewys van die billike markwaarde voorgelê word om die markwaarde te bevestig. Dit kan byvoorbeeld gedoen word deur die waardasie van die plaas deur twee onafhanklike eiendomsagente. ’n Eiendom kan dus nie teen ’n ander bedrag as die billike markwaarde daarvan aan ’n koper oorgedra word nie.

Indien die eiendom as ’n lopende saak of besigheid oorgedra word, bestaan die moontlikheid dat, indien dit aan die vereistes van die wet voldoen, dit teen ’n nulkoers (BTW) aan die koper oorgedra kan word, en hereregte nie betaalbaar sal wees nie. Andersins is heregte betaalbaar met elke transaksie op die billike markwaarde van ’n eiendom.