Die Internasionale Monetêre Fonds (IMF) doen gereeld ’n evaluasie van lidlande se ekonomie en doen aanbevelings om beleid reg te stel. Dit het ten doel om ekonomiese groei en finansiële stabiliteit te bevorder sodat die IMF nie betrokke hoef te raak as ’n land se skuld hand uitruk nie.

Die IMF is lidlande se laaste uitweg as hulle in die moeilikheid raak met byvoorbeeld te veel staatskuld wat nie terugbetaal kan word nie, maar die hulplenings kom gewoonlik met baie streng regrukvoorwaardes. Dit is presies wat Suid-Afrika nodig het, want die ANC is nie bereid om ongewilde besluite te neem tot voordeel van die land nie.

Daar is van tyd tot tyd gissings deur ontleders dat die land noodgedwonge binnekort by die IMF sal moet aanklop om lenings (wat met beleidsvoorskrifte saamgaan).

Indien ’n mens na die IMF se jongste verslag oor Suid-Afrika se ekonomie kyk en die druk wat daar op die ANC is om belastingkoerse te verlaag en salarisverhogings te gee (waarvoor daar nie geld is nie), is dit net kwessie van tyd voor die land die IMF noodgedwonge om finansiële bystand sal moet vra.

Persoonlik dink ek dit is onafwendbaar. Ek dink ook dat dit dalk die enigste manier kan wees om die ekonomie reg te ruk. Dink daaraan as ’n evaluasie van jou besigheid deur jou bank met voorwaardes vir verdere finansiering. Die IMF sal net ekstra geld leen as daar daadwerklike regrukoptrede is.

En as die Brics-lande, spesifiek China, wat sy ekonomie besonder goed bestuur, ook geld aan Suid-Afrika leen, sal dit met streng beleidsvoorskrifte gepaardgaan. Dit kan die land se redding uit ’n onverwagse oord wees. Die jongste IMF-verslag volg kort ná die veelbesproke Brics-leiersberaad in Suid-Afrika.

Brics (Brasilië, Rusland, Indië, China en Suid-Afrika) is die ekonomiese groepering van lande waarmee Suid-Afrika hom vereenselwig. Daar het heelwat gesprekke plaasgevind oor ekonomiese en handelsamewerking.

Afgesien van die feit dat Suid-Afrika se ekonomie heelwat kleiner as dié van die ander lande in die groep is, is daar tog sekere aanwysers wat ons kan gebruik om die land se ekonomie binne die groepering te posisioneer.

Dit lyk of Suid-Afrika al hoe nader aan die ander Brics-lande beweeg (en nie noodwendig Europa en Amerika nie) en dat Suid-Afrika se ANC-politici hul beleidsrigtings en denke gaan begin volg, veral as die Chinese die ANC-politici gaan oplei.

Indien hulle dit kan regkry om die ANC te leer van ordentlike ekonomiese beleid wat groei en werk skep en van die bestuur van staatsfinansies, kan dit Suid-Afrika se redding wees. Teen dié agtergrond is dit goed om te let op die ekonomiese aanwysers van die Brics-lande en hoe Suid-Afrika vergelyk (tabel).

Afgesien van die feit dat Suid-Afrika se ekonomie veelvoude kleiner is as dié van die ander lede, is van die ander verskille opvallend. China (sowat 1,4 miljard mense) en Indië (sowat 1,3 miljard mense) handhaaf taamlik hoë en volgehoue ekonomiese groei en het min werkloosheid.

Wanneer dit by die jongste ekonomiese groeikoers kom, is Suid-Afrika verreweg die swakste presteerder. Dit geld ook die land se baie hoë amptelike werkloosheidsyfer teenoor dié van die ander lande. Suid-Afrika se tekort op die handelsrekening is ook die grootste van die lidlande, wat buitelandse beleggers afskrik.

Eintlik moet ons beleid van so aard wees dat ons op groot skaal en volhoubaar buitelandse beleggings lok, wat nie tans die geval is nie. Dit is seker waarom ons so hard vry na Chinese geld. Suid-Afrika se tekort op die staatsbegroting is afsonderlik beskou nie erg uit pas nie, maar daar is geen groei nie en groot werkloosheid.

Die land se staatskuld as persentasie van die bruto binnelandse produk (BBP) is die derde grootste. Terloops, as ons die bankrot staatsondernemings se skuld bytel (wat ook deur die staat gewaarborg word), verhoog die staat se skuldvlak tot 67% van die BBP, wat nie volhoubaar is nie.

Soos in besigheid is dit aanvaarbaar as lande effe meer bestee (en dus geld leen) as wat hulle met belasting invorder, maar dan is die besteding om toekomstige groei te skep. Die dilemma is egter dat dit al hoe moeiliker raak om die groeiende staatskuld te diens met lae ekonomiese groei, stygende werkloosheid en ’n beperkte belastingsbasis.

Die ander groot verskil is dat die Suid-Afrikaanse Regering en staatsondernemings geld leen om salarisse te betaal (soos ’n besigheid wat geld leen om lopende uitgawes te betaal). Dit word nie belê in infrastruktuur wat toekomstige ekonomiese groei en werk skep waarmee die skuld gediens kan word nie.

Ek glo nie die Chinese sal daarmee gediend wees nie.

IMF-BEVINDINGE

Die grafiek toon hoe Suid-Afrika se staatskuld die afgelope paar jaar onder oudpres. Jacob Zuma se bestuur gestyg het namate al hoe meer op maatskaplike toelaes en salarisse bestee is. Staatskuld as persentasie van BBP is sowat 53%. Indien jy staatsondernemings bytel, styg dit tot sowat 67% (volgens die IMF).

Die IMF se bevindinge is nie juis iets aardskuddends nie, maar bevestig wat ons reeds weet. Dit rig ’n ernstige waarskuwing aan Suid-Afrika se beleidmakers om sake reg te ruk voor die probleem te groot raak. Die volgende samevatting uit die verslag gee ’n idee.

“Te midde van ál stadiger ekonomiese groei is baie van die ná-apartheidsvordering uitgewis, met probleme rakende infrastruktuur, opleiding en produktiwiteit. Vinnig groeiende skuld het beleidsopsies beperk (soos om BTW en brandstofheffings te verlaag).

“Die gevolg is negatiewe groei in die inkomste per kop van die bevolking (mense word dus armer). Die armoedekoers is tans 40% en werkloosheid bly toeneem. Die werkloosheid onder die jeug is omtrent dubbel die amptelike koers, en ongelykheid is van die grootste ter wêreld.”

Die IMF sê verdere ernstige struikelblokke is ’n regulatoriese omgewing wat private beleggings beperk, ondoeltreffende staatsondernemings wat koste in die ekonomie verhoog, ’n ondoeltreffende en rigiede arbeidsmark, onvoldoende mededinging, korrupsie en beleidsonsekerheid.

Sy aanbevelings sluit in dat arbeidswetgewing vriendeliker gemaak moet word vir werkgewers en dat Eskom (asook die SAA en talle ander staatsondernemings) gestabiliseer en deels geprivatiseer moet word. Dan waarsku hy ook ernstig dat grondhervorming versigtig en ekonomies sinvol gedoen moet word.

Teen dié agtergrond verwag die IMF nie juis sterk ekonomiese groei en ’n verbetering in die ekonomie in die volgende jaar of wat nie. Inteendeel, hy meen die kans op ’n daling is groter as die groeimoontlikhede.

Die kans op ’n vinnige beleidsommekeer en beleidsekerheid is ook maar skraal met die ANC wat verkiesingpraatjies maak en geen moeilike, fundamentele veranderinge gaan maak nie. Indien die probleme wat hy uitwys, in die afsienbare toekoms egter suksesvol getakel kan word, meen die IMF sake kan heelwat verbeter, maar risiko’s vir ’n verswakking lyk meer prominent.

Hy noem wel die vordering wat gemaak word om staatsondernemings reg te ruk (soos gedeeltelike privatisering) en korrupsie te probeer beperk, maar is bekommerd dat die staatsbegroting nie genoeg aandag kry nie en dat die land se arbeidsmark en mededinging agterweë bly.

Suid-Afrika sal hom dus moet regmaak vir nog ’n jaar of drie se stadige ekonomiese groei, werkloosheid, misdaad en populistiese beleidsuitsprake. Die debat wat ons in die landbou moet voer, is hoe ons ons besighede gaan herposisioneer om steeds ’n aanvaarbare rendement op kapitaal te kry.

Die feit is daar is sowat 50 miljoen mense in stede (as jy werk op ’n bevolking van 70 miljoen) wat kommersiële hoeveelhede kos van winkelrakke moet koop. Die staat het nie geld om kos in te voer nie. Daar is dus ’n plaaslike mark vir voedselprodukte, en met die swak rand is die uitvoer van byvoorbeeld vrugte, neute en wol ook heel lonend.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.