Demokrasie word verskillend vertolk deur verskillende mense. Die een groep is oortuig daarvan dat demokrasie die individu se vryheid moet beskerm. Die ander groep is oortuig daarvan dat demokrasie gelykheid moet bevorder en maatskaplik-ekonomiese uitkomste moet bewerkstellig.

Boonop is daar bevind dat globalisering individuele vryheid ten koste van gelykheid bevorder. Dit is nie maklik om die twee sienings oor demokrasie te akkommodeer in die demokratiese bewind waarin ons onsself bevind nie. Hieronder volg stellings met die doel om perspektief te gee.

Vryheid

Is die primêre doel van ’n demokratiese politieke bestel om jou vryheid teen die invloed van despotiese en arbitrêre mag te beskerm? Die Engelse filosoof John Locke het reeds in 1689 aangevoer dat goed georganiseerde regerings die lewe, vryheid en eiendom van burgers moet beskerm.

Die demokrasie moet dus die individu teen die oormatige invloed van regerings beskerm. Demokrasie moet ook waarborg dat verkiesings, soos volgende jaar se verkiesing in Suid-Afrika, vry en regverdig sal wees danksy die korrekte prosedures.

Wetlike regte

Demokrasie gaan hand aan hand met ’n grondwet wat regerings se mag beperk, private eiendomsreg bevorder en ’n markekonomie ondersteun. Volgens hierdie siening tree individue in eie belang op, maar ook tot voordeel van die breë gemeenskap.

Individue kan vrylik hul sienings in die openbaar uiter, assosieer met organisasies, soos die georganiseerde landbou of politieke partye, en kies om ’n lid te wees (of nie) van ’n kerk van hul keuse. Hierdie vorm van demokrasie word as ’n wetlike demokrasie beskryf. Die klem lê op wetlike regte en nie spesifiek op maatskaplike uitkomste nie.

Kritiek

Die grootste kritiek teen ’n wetlike demokrasie is dat al die mense binne so ’n demokrasie regte het, maar dat almal nie noodwendig hul regte kan uitoefen nie. Almal het dieselfde regte, maar net rykes kan hul regte uitoefen. Daar heers dus groot ongelykheid ten opsigte van welvaart, status in die samelewing, opvoedingspeil en indiensneming.

Vir alle praktiese doeleindes bestaan hierdie regte nie vir die armstes in so ’n demokrasie nie. Gevolglik val die voordele van ’n wetlike demokrasie meestal net die rykes in die samelewing toe, terwyl armes meen die voordele van ’n demokrasie moet almal in die gemeenskap bevoordeel.

Probleem

Die meeste moderne demokrasieë gee maatskaplike regte aan hul burgers. Regerings word verplig om die maatskaplike en ekonomiese omstandighede van gewone landsburgers meer gelyk te maak. Só maak regerings die demokratiese regte van gewone landsburgers betekenisvoller.

Hierdie neiging het reeds in die laat 19de eeu oorsprong gegee aan die welvaartstaat, die gemengde ekonomie en die gereguleerde markte. Laasgenoemde drie faktore was meganismes wat regerings gebruik om te verseker dat burgers minstens ’n basiese lewenstandaard kon geniet.

Opstand

Die demokratiese aanhangers van gelykheid daag dus toenemend die demokratiese aanhangers van vryheid uit. Die primêre doel hiermee is om die maatskaplik-ekonomiese ongelykhede tussen burgers in die samelewing uit te skakel en sosiale reg te verbeter. Hierdie siening oor demokrasie het sy oorsprong in 1843 gehad by die Duits gebore revolusionêr Karl Marx.

Hy het gesê vroeë moderne demokrasie was ’n verbetering op die despotiese of monargiese regerings van die tyd, maar dat demokrasie ook gefaal het om die materiële welstand van mense te verbeter. Volgens Marx het die kapitalistiese stelsel ongelykheid meegebring. Hierdie ongelykheid (rykdom teenoor armoede) het die politieke vryheid (stemreg) wat gewone burgers gehad het, oorskadu.

Stemreg en vryheid van assosiasie het byvoorbeeld nie ’n groot verskil in die welstand van die arm bevolking gemaak nie. Marx se afleiding was dat die ekonomiese mag van enkelinge die politieke mag van die meerderheid oorskadu het. Dit kan ’n situasie skep waar die voordele van ’n demokratiese stelsel rykes meer as armes bevoordeel. In Suid-Afrika het indiensneming, die onderwys en gesondheidsdienste arm mense in die steek gelaat.

Gevolge vir landbou

Dit is nie maklik vir vryheid en gelykheid om saam in dieselfde demokratiese bestel te bestaan nie. Die Suid-Afrikaanse landbou is egter uitvoergedrewe en globalisering het ’n groot impak op die landbou. Globalisering was grootliks daarvoor verantwoordelik dat regerings toenemend demokraties begin raak het.

Globalisering dra ook daartoe by dat die politieke mag van politici verminder. Globalisering bevorder demokrasie en skuif die balans tot voordeel van vryheid bo gelykheid. Weens globalisering is die rand blootgestel aan internasionale sakevertroue en menings van kredietagentskappe.

Politieke besluite het ’n regstreekse impak op buitelandse valutaverdienste en investering. Suid-Afika is die 124ste mees demokratiese land uit 210 lande wêreldwyd met ’n punt van 78/100. Suid-Afrika vergelyk met lande soos Israel (79/100), Brasilië (78/100) en Indië (78/100). Die mosie oor grondonteiening sonder vergoeding wat ingedien is, is ’n demokratiese proses.

Die grondwetlike hersieningskomitee gaan tot einde Augustus kommentaar inwin waarna die Parlement sal besluit of daar oor die grondwetlike hersieningskomitee se verslag gestem gaan word of nie. Dit is uiters belangrik dat die uitkoms nie ongunstige gevolge vir die ekonomie of voedselsekuriteit moet inhou nie.

Boere sal eers teen einde Augustus kan bepaal of daar enigsins impak op hul boerderye gaan wees of nie. Ek meen nie so nie. Bly intussen kalm, dink helder en boer voort.

Mnr. Wessel Lemmer is ’n senior ekonoom by Absa-Agribesigheid in Johannesburg.

Bron: Wejnert B. 2010. Democratic Paths and Trends, Emerald Group Publishing, Bingley, UK