Opvattings oor die eenvormigheid van die groepe wit, bruin of swart boere is nogal algemeen tot jy met baie verskillende boere in die land begin praat en besef sommige bruin of swart boere se boerderyondervinding kom oor geslagte en van veel langer gelede as dié van baie wit boere.

Mnr. Andries van der Poll van die plaas Klipdrift naby Gouda en Riebeek-Kasteel in die Wes-Kaap het ’n broertjie dood aan die etiket “opkomende boer”, wat soos ’n albatros om sy nek hang.

Ja, hy erken die hulp van die Regering moet darem nie sommer oornag weggeneem word sonder dat hy die geleentheid kry om geld teen ’n laer rentekoers te leen nie.

Maar hy kan ook bewys dat hy al baie verbeteringe aangebring het op die plaas wat hy van die Departement van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming huur, dikwels self opdok vir herstelwerk van duisende rand en besig is om die doelwitte in sy bestuursplan een vir een te behaal.

Dié departement het Klipdrift in 2011 gekoop van ’n oud-Zimbabwiër wat suikermielies onder spilpunte en ’n bietjie droëlandaartappels daarop verbou het. Die plaas het net so gelê tot Van der Poll en sy vrou, Jackie, en hul drie kinders in 2013 daarheen getrek het.

“In dié drie jaar het die onkruid oorgevat. Toe ons hier kom, het die raaigras amper kniehoogte gestaan. Ons het 100 rooi Angusbeeste ingekry om die raaigras af te vreet, en later skape. Dis hoe ons begin het.”

Op die plaas Klipdrift, waar Van der Poll en sy gesin boer, verloop alles volgens plan om eersdaags intensief met Dohne- Merino’s te boer.

Hulle boer met ’n wisselboustelsel van koring en medics op droëland, mielies onder besproeiing, Dohne-Merinoskape en rooi Angusbeeste. As iemand wat in die kommunale gebied by Bitterfontein tussen die skoolganery deur met bokwerkpligte grootgeword het, verlang hy daarna om ook bokke aan te hou om kaas te maak.

Sy graanboerdery het eers in 2014 aan die gang gekom. Al was dit ’n goeie jaar, het hy te laat geplant om ’n goeie oes te behaal. Daarna was 2015 droog, en 2016 was die reën goed, maar hy kon weer nie betyds plant nie.

Verlede jaar was ’n droë jaar, maar Van der Poll sê hy het ’n goeie oes behaal omdat hy vroëer geplant het. Vanjaar lyk sake gunstig. Dit het tot dusver meer as 200 mm gereën en sy planne begin stadigaan vorm aanneem.

Hulle is nog te kort op die plaas om te weet wat die langtermyn gemiddelde reënval is, maar besef hoe belangrik dit is om die koring vroeg genoeg te plant.

BIOLOGIESE BOERDERY

Van der Poll het baie besliste idees oor boerdery en kan dit rugsteun met jare se praktiese ondervinding met vee-, groente-, graan- en sitrusboerdery. Hy meen ook die wye blootstelling wat hulle gedurende die diplomakursus aan die Landboukollege Kromme Rhee buite Stellenbosch gekry het, help hom baie.

Biologiese boerdery lê hom na aan die hart. Hy sou graag organies wou boer, maar dis nie nou moontlik nie. Hy pas bewaringsboerdery toe en dis duidelik dat die lesse oor presisieboerdery en deklae (mulching) wat hy as bestuurder op sitrusplase by Citrusdal geleer het, ook hier goed te pas kom.

Nóg iets wat hy veral by Mouton Sitrus geleer het in die twee jaar dat hy daar gewerk het, is tydigheid.

“Alle bespuiting en bemesting moet op die regte tyd gedoen wees. Dieselfde geld ons boerdery. Die vee moet op die regte tyd gedoseer en geskeer word as jy verliese wil vermy. Daardie tydsberekening moet 100% wees, ook vir koring, wat vroeg geplant en betyds bespuit moet word.”

Sy huidige gemeganiseerde koringboerdery is ver verwyder van die “opleiding” wat hy gekry het deur saam met sy pa, Japie, en broers te boer. Dit het hom egter kennis gegee van koring, hawer en gars wat hulle dikwels met die sekel gesny het as iemand nie met ’n ou Sun-stroper kom uithelp het nie.

Die plaas se kleigrond het ’n goeie waterhouvermoë en Van der Poll meen dit gaan makliker wees om dié grond te verbeter as sandgrond. Medics is op die helfte van die plaas gevestig. Dit word met koring afgewissel. In dié stadium doen hy ’n diep ghropbewerking (300 mm en dieper) op die lande waarop daar nog nie medics gevestig is nie.

Sy plan is om medicshooi te maak, maar tot dusver het die droogte sy planne vertraag. Die medics wat hy in 2016, ’n betreklik nat jaar, gevestig het, het goed opgekom. Hy kon reeds verlede jaar ’n goeie klomp bale maak deur net elke tweede baan te sny om darem genoeg saad te los.

Die medics wat hy in 2015 geplant het, het nie so goed gevaar nie. Hy het ook gesien dat die kampe wat in Maart ’n hoë veelading gehad het, se medicsstand beter is as dié wat nie skape op gehad het nie.

Vanjaar het hy ook hawer en korog aangeplant om verlede jaar se swak mielie-oes weens die droogte aan te vul. Hy het ook ’n stukkie lupiene aangeplant vir prikkelvoer vir die skape. In Augustus het hy 10 ha lusern onder besproeiing vestig om genoeg voer vir sy beoogde intensiewe skaapboerdery te hê.

In dié stadium gebruik hy ’n trop skape om die kamp skoon te wei omdat dit onkruidbestryding makliker gaan maak. Die ooie gaan daarna na die mieliereste skuif sodat hy die kamp vir die lusern kan begin voorberei. Die beeste was reeds op die mieliereste en wei nou in die veldkampe, wat eintlik oulande is waar deesdae rietpolle, bossies, gras, serradella en medics groei.

As hy sy doelwit van ’n speenpersentasie van 140 by sy skape bereik, kan hy ander projekte aanpak, soos om bye te kry om die 3,5 km bloekomboomrye op die plaas te benut, kaas te maak en die geriewe vir oornaggaste te verbeter. Verlede jaar was die speenpersentasie 118, maar hy meen dit het baie met die droogte te doen.

“Weens die droogte moes ons ooie verkoop en het ons probleme met ons koggelramme gehad omdat ons nie lupiene vir prikkelvoeding in die hande kon kry nie.”

Mnr. Dillan Cook doen vakansiewerk op Klipdrift. Van der Poll hoop om mettertyd landbou-opleidingsgeleenthede vir jong mense te bied.
Die krippe het Van der Poll en die plaas se werkers self gesweis.

INTENSIEWE SKAAPBOERDERY

Hoewel hy graag grond wil bykoop, doen hy sy bes om die plaas van 450 ha so produktief moontlik te benut. Hulle is besig om die skaapboerdery intensiewer te maak deur dele van die plaas in klein kampies te verdeel en mettertyd ’n voerkraal in te rig.

“Ons het vanjaar begin om die lammers op 100 dae van die ooie af te haal en in klein kampies met tien ooie elk te sit. As die ooie begin lam, sit ons hulle in ’n hokkie. Ons het redelik laat in die lamtyd begin, maar sien dat die stelsel kan werk.” Hulle gaan die somer meer kampies maak en hekkies sweis. Hy en al sy werkers kan sweis.

“Vandat ek begin boer het, is my uitgangspunt dat alle werkers alle vaardighede moet aanleer. Hulle kan nie vir my wag om iets te kom regmaak nie. Sommige van hulle sweis al beter as ek. Ons grootste tekort is aan die werktuigkundige kant. Ek kan die foute opspoor, maar nie regmaak nie.”

Ongelukkig is daar heelwat herstelwerk te doen op die plaas en boonop het hy nie inligting wat bygehou is van die trekker of stroper nie. Daar is ook ’n platsnyer wat hulle nie kan gebruik nie, en ’n Land Cruiser wat hulle nou aan die loop probeer kry.

Aangesien hy as sitrusplaasbestuurder in pluktyd dikwels 120 tot 150 werkers op die plaas moes bestuur, vind hy dit nie moeilik om werkers te bestuur nie. Hy is net jammer werkers op graan- en veeplase kry nie so baie geleenthede vir opleiding in lewensvaardighede, soos werkers in die sitrusbedryf, nie. Hy het ’n voorstel aan Graan SA gemaak om sulke kursusse in te stel.

DIE LANG PAD NA SY EIE PLAAS

Met ’n landboudiploma in sy sak in 1993 het die goeie geluk nie sommer in sy skoot geval nie. Hy het by ’n wynkelder, die ontsoutingsaanleg op Bitterfontein en, les bes, sy pa gewerk.

“Ek het elke oggend my sak gevat en veld toe gegaan. Daar het ek besef ek wil boer. Dis ’n droom wat al aankom vandat ek dit in 1993 in ’n boekie neergeskryf het. Ons was by die Land Bank en het tot diep in Boesmanland, naby die Vaalputs-kernafvalopbergingsterrein, gaan draai om plase te soek.”

Hy het in 2010 ’n plaas by Lutzville gekry wat “oor die 2 000 ha diep sandgrond, sonder water en sonder krag” was. Hy het vir maande gesit en planne uitgewerk tot ’n vriend voorgestel het hy moet op die destydse Departement van Grondsake se databasis probeer kom.

Dit was nie so moeilik nie, hulle het mos sy vorms gehad. Hy moes nog oor verskeie hekkies spring. Ná ’n reeks onderhoude en ’n toets of hy ’n plaasbeplanning vir drie produkte binne ’n uur kan afhandel, het hy gehoor hy kan Klipdrift huur.

Amptenare by die departement het gesê hy moet eers stilbly daaroor en nie sy werk bedank nie totdat alles afgehandel is. Dit was ’n moeilike paar maande, maar in November 2012 het hy uiteindelik die brief gekry. “Ek word nou nog verskriklik opgewonde as ek op die lande is.

“My pa het geboer, maar gesterf met die passie om op sy eie plaas te boer. Ons het grond by De Beers (die diamantmynmaatskappy) gehuur, en ons vee mooi vermeerder tot die dag in 2015 dat ons viertrekbakkie stukkend was en ons nie geld gehad het om dit reg te maak nie. In die tyd wat ons nie op die vreeslik sanderige plaas kon kom nie, is ons 2 nuwe ramme en 75 ooie gesteel.”

Dit het hulle ver teruggesit en toe kom die droogte. Sy jonger broer boer op die Molsvlei kommunale gebied by Bitterfontein. Molsvlei beslaan 3 000 ha en daar is baie boere.

“Ongelukkig is daar nie behoorlike bestuur nie en enigeen kan wei net waar hy wil. Dit help ook nie jy koop goeie ramme om jou kudde te verbeter nie, want enigeen se ramme kan jou ooie dek. Jy het ook nie ’n vaste lamtyd nie, want jy dink nog jy kan die ram by die ooie sit, dan is jou ooie reeds dragtig.”

Hy hoop die kwessie met grondhervorming neem ’n gunstige wending sodat hy dalk die plaas gratis of teen ’n bekostigbare prys kan kry. Hy meen hy sal sukkel om dit wat die Regering vir die plaas betaal het, uit te boer.

Me. Jackie van der Poll het dié groot rondawel as ’n gastehuis ingerig.

DANKBAAR VIR HULP

Van der Poll is baie dankbaar vir hulp wat hy van die Departement van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming en van Landbou, Bosbou en Visserye kry. Die departemente het aanvangskapitaal en werktuie gegee. In 2015 het hy ’n trekker gekry en die produksiekoste.

Hoewel hulle gehelp het om die drade op die plaas op te knap, het hy van die drade uit sy eie sak gespan. Hy moes ook baie geld bestee om die spilpunt behoorlik te laat werk. Hy het eintlik nóg ’n trekker nodig, maar daar is so baie mense wat behoeftiger as hy is en daar is nie geld vir alles nie.

“Ek wil graag my eie bates begin opbou, as ek net ’n goeie boerderyjaar kan kry. Die grootste probleem is om die ou goed in stand te hou. Ek het amper R40 000 bestee om een van die trekkers te laat werk.” Hy sê al die geld wat die departement in die projekte belê ten spyte daarvan dat die produksiemiddele vir koring baie duur is, help hulle om op skaal te boer.

“As hulle nie gehelp het nie, moes ons met klein stukkies grond aangaan net om aan die lewe te bly. Ek weet hoe dít voel. Toe ek ’n kind was, het ons het drie, vier bakkievragte met sakke koring en een of twee wolbale Bitterfontein toe gery en net in November lammers verkoop.”

Hy meen die regte staatshulp kan goeie gevolge hê, maar sê die dag dat hy van die staat kan wegstap, gaan “uitstekend” wees.

“Ek wil nie lyk asof ek heeltyd net bakhand staan nie. Ek beskou myself nie as ’n opkomende boer nie. Ek beskou dit half as ’n belediging. Ek het te hard gewerk om te kom waar ek is. ‘Opkomende boer’ klink of jy nog ’n boer moet word en nog nie regtig een is nie.”

Van der Poll sê hy is ’n “boer en klaar”.

“Dis nie maklik om te boer nie, maar dis vir my lekker. “Ek bekommer my oor kontantvloei en wat ons alles verloor het omdat ons nie kontant gehad het om die verlies te voorkom nie. Ek is deur al die goed, en dis nie maklik nie, maar ek kan nie opgee nie. Ek is by my goed: As dit lamtyd is, soggens middae en saans. Ek ry twee, drie keer per dag op dieselfde spoor. As ek weg was en terug kom, lyk die plaas nóg mooier as voorheen.”

Hy leef sy droom, maar elke planttyd word hy baie hartseer dat sy pa nooit so ’n geleentheid kon kry nie.

Van der Poll, sy vrou, Jackie, en hul kinders, Jacqueon (inlas), Joshua (links) en Adhelle (regs).

WAT HOU DIE TOEKOMS IN?

Van der Poll sê hulle moet volhoubaar kan boer en winsgewend wees. “Dit help nie ons val weer en moet skape verkoop om te oorleef nie. Dis wat met van die projekte gebeur het. Hulle het nie geld om vinnig ’n pomp te vervang om die mielies betyds te besproei nie, en moet dan vee vir kontant verkoop. Hulle kry nooit die geld om weer vee te koop nie.”

Hy besef hoe groot die behoefte is, maar hy dink daar moet eers ’n groep boere suksesvol op die voete gehelp word voor ander gehelp word. “Die departement moet aan sy tydsberekening werk en die projekte met toewyding ondersteun, soos die nuwe voorligter op Moorreesburg.”

Hy deins nie terug van sy verantwoordelikheid nie. “Ek het geweet toe ek van ’n werk met ’n salaris af hierheen kom, kom ek na ’n onsekere besigheid toe. Ek is die een wat ’n verskil kan maak. Ons moet sterk daarop staan dat die staat ons behoorlik en betyds help. Dit sal help dat ons uit die stelsel vorder en vir ander plek kan maak.”

Hy sê hy hoor dikwels eers in April of die Regering hom vir die planttyd, wat om die draai is, gaan help. Dan duur dit dikwels twee maande voor hy die produksiemiddele kry. “As ek teen April nie weet nie, watter bank gaan my so vinnig help?”

LBW vra . . .

Mnr. Andries van der Poll

Mnr. Andries van der Poll

Wat is die slimste ding wat jy in die boerdery gedoen het?

Om ál meer na presisieboerdery om te skakel. Op so ’n klein plasie is dit ’n moet. Ek weeg alle skape voor hulle van die plaas af weggeneem word, ek weeg die wolbale voor ek hulle op die bakkie laai. Ek gaan eers die hele plaas met medics vestig en sal seker later kanola ook plant.

By die beeste is dit maklik om elke koei elke jaar te laat kalf, en ons het ook al twee jaar na mekaar tweelinge gekry. Die skape is moeiliker. Gelukkig is ek lief vir skape en ek doen dus ekstra moeite met hulle.

Van wie en waar het jy die meeste geleer?

My pa het my boerderywortels gevestig en my baie geleer. Ek het ook uit sy voorbeeld geleer dat ek nie moet wag om ’n plaas te probeer kry nie.

Mnr. Dirk Visser, wat in 1994 gesê het hy soek ’n bestuurder, nie ’n voorman nie, en my ’n jaar gegee het om te bewys ek is ’n bestuurder, het my baie blootstelling gegee en ’n geleentheid om te groei en betrokke te wees by die ontwikkeling van nuwe boorde.

My belangstelling in biologiese boerdery is geprikkel toe ons met deklae met boombas en strooi onder die sitrusbome begin het. Ek het gesien hoe verbeter die grond binne ’n jaar.

Watter minder wyse ding het jy gedoen?

Toe ek in 2013 hier begin boer het, het ek nie besef hoe verskillend skaapboerdery hier en op Bitterfontein is nie. Ek het nie besef dit gaan nodig wees om hier soveel meer aandag aan dieregesondheid te gee as in Bitterfontein se droë atmosfeer nie. As die vee hier teen die rivier loop, kan jy nie sonder bloutonginenting gaan nie.

Watter geleentheid gun jy ander boere?

Ek het in 2015 saam met Agrimega Argentinië besoek. My oë het oopgegaan. Dis ’n geleentheid wat baie boere nog nie ervaar het nie. As ons mense wat grond kry, in die toekoms eers na gevestigde boerderye kan vat, sal hul wêreld soveel groter wees en sal daar moontlikhede vir hulle oopgaan. Baie van ons boere het sulke verkeerde opvattings van boerdery.

Bure, voorligters en google

Mnr. Andries van der Poll soek nie raad op een plek nie: Sy “mentors” is die landbouvoorligter op Moorreesburg, sy buurmanne en oom Alwyn Dippenaar wat hom geleer het om van 1 Mei af nie meer op te kyk vir reën nie, maar grond toe om te plant.

“Almal hier rond is redelik hulpvaardig, en raad is volop beskikbaar. Dan is ek ook baie lief om te Google en die inligting by ’n plaaslike kundige te bevestig, soos by die veeartse van die Bergsig-dierekliniek op Malmesbury.”

Hy kry ook baie raad oor plaagbestrydingsmiddels van mnre. Piet Smit van Nexus en Thys Coetzee, en Attie Haasbroek van Omnia help met bemesting. “Dis lekker om verhoudings met die mense op te bou. Die kundigheid is daar. Dis nie nodig dat ons moet sukkel nie.”

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.