Die seuntjie in die rooi truitjie se ogies is toegeknyp van die lekkerkry. Hy lag breed terwyl hy ’n wit bokkie vashou wat aan sy oor snuffel. “Hul toekoms lê voor” staan in wit letters op ’n swart agtergrond onderaan dié voorbladfoto van 20 Desember 1960 geskryf.

Die foto, verklein tot ’n yskasmagneet, pryk saam met ’n paar ander ikoniese voorblaaie op ’n magneetbord in Landbouweekblad se Nampo-stalletjie. Die tydskrif se eeufees is vanjaar so saam met die 53ste Nampo-oesdag gevier. Die eeufees-uitgawe het van die rakke gevlieg en heerlike herinnerings oor boerdery van toeka losgemaak.

Maar op Nampo kyk ’n mens nie lank terug nie. Daar is net te veel nuwe landboutegnologie om jou aan te verwonder. Of dit nou die reuse-katoenplukker van John Deere is wat moontlik die plaaslike katoenbedryf kan omkeer, of Airbus Pleiades se satellietbeeld van Nampopark wat 694 km van die aarde af geneem is – een van die grootste buitelugskoue ter wêreld verskuif die grense voortdurend.

Daar was vanjaar 755 uitstallers van wie 60 die eerste keer op Nampopark ’n draai kom maak het. ’n Paar het oor die jare heen feitlik instellings op die oesdag geword, soos Awesome Tools wat Leatherman in Suid-Afrika versprei. Daar het klante oudergewoonte tou gestaan om hul Leatherman-gereedskapstukke te laat diens of vervang. “Ons Nampo-stalletjie is die grootste Leatherman-diensstasie ter wêreld,” sê mnr. Bruce Woodroffe, hoof van Awesome Tools. Hy sê dit is nie ongewoon vir sy vakmanne om tot 1500 gereedskapstukke tydens die vier dae te herstel nie.

’n Paar stalletjies verder in dieselfde uitstalruimte tref ek ’n vriendelike mnr. John Lethoko, verkoopsverteenwoordiger van die Bybelgenootskap, aan. In sy stalletjie word Bybels in verskeie inheemse tale te koop aangebied en hy vertel dat Sesotho-Bybels, naas Afrikaanse Bybels, goeie verkopers op Nampo is. “Dit is áltyd die moeite werd om hiernatoe te kom,” sê hy. Nóg ou bekendes is die kosstalletjie van die Nederduits Hervormde kerk Bothaville, waar ds. Carl Botma vir van die ouer gemeentelede moet vra hoe lank dié gemeente al by die oesdag betrokke is. “Al van die tyd wat dit nog die Sampi-oesdag was,” laat hoor ’n vrou terwyl sy behendig pannekoek op die doelgemaakte vervoerband uitkeer.

Die vervoerband word met ’n slinger gedraai en die pannekoeke rol tot by die mense wat dit met kaneelsuiker bestrooi en oprol. Vanjaar is sewe beeste geslag wat in sowat 1,6 ton maalvleis omskep is vir die vetkoeke, jaffels en kerrie-en-rys. “Dit is nou afgesien van die bene wat afgekook word vir bredie. Saam met die vleis word 800 kg groente gebruik – uie nie ingesluit nie. Ons praat hier in tonnemaat van kos,” sê Botma.

Daar word tot 400 liter pannekoekdeeg per dag gebak. Dit is nie buitengewoon om daagliks tot 900 vetkoeke te vul nie. Elke dag is daar ’n span van tot 40 gemeentelede wat die stalletjie behartig.

Gemeentelede van die Nederduits Hervormde kerk Bothaville bak pannekoek by hul kosstalletjie op Nampo. In die middel is ’n monteerband waarop die pannekoeke uitgekeer word. Die band vervoer die pannekoeke tot by die mense wat dit rol. Foto: Liza BohlmanN
Mnr. Francis Chinda, barista van Grind Mobile Coffee, het daagliks 200 tot 400 koppies koffie by FNB se lokaal gemaak. Foto: Vida Booysen
Vroegoggend se koffie en padkos op die Nampo-parkeerterrein is ’n tradisie vir vele besoekers, soos die Potgieter-gesin van Bloemfontein. Van links is mnr. Maarten Potgieter, sy vrou, Allison, hul seun Maarten jr. en skoonseun Philip Blignaut. Foto: Vida Booysen

Kosnuutjie

Maar vanjaar was daar ook ’n kosnuutjie op die oesdag wat soos die spreekwoordelike soetkoek verkoop het – al moes jy jou sak skud daarvoor. Murgsagte, sappige Wagyu-burgers het dié beesras, bekend om sy tussenspiervet, aan skougangers bekend gestel. Danksy die vleis se marmering is dit ’n gesogte produk en uitstallers in die Wagyu-saal moes bontstaan om navrae te beantwoord.

Hoe gek Suid-Afrikaners is oor die soort koffie wat net ’n barista vir jou kan voorsit, kan ’n mens ook duidelik op die oesdag sien. In die lokale van handelsbanke, versekeraars en groot landboumaatskappye het die aroma van vars koffie verleidelik gehang. Patrone van blaartjies, hartjies of selfs die borge se logo’s is behendig in die koffieskuim gevorm.

By FNB se lokaal vra ek vir mnr. Francis Chinda, barista van Grind Mobile Coffee, hoeveel koppies koffie hy gemiddeld per dag maak. “In die eerste twee dae het ons byna 400 koppies geskink. Ons kon omtrent nie voorbly nie.”

Maar wat laat die besoekers telkens terugkeer Nampo toe? Dit is immers ’n stywe staptog van by die 20 km as jy om die hele terrein loop. Trouens, ’n gewilde besprekingspunt onder die span van Landbouweekblad was wie se treëtellers daardie dag die hoogste kilometerlesing aangedui het.

“Mense wat Nampo nie so goed ken nie, sê dit lyk elke jaar dieselfde,” sê mnr. Lourens van der Linde, ’n boer van Wesselsbron. “Vir ons wat in detail met die nuwe tegnologie werk, is daar elke jaar iets nuuts en daar is gedurig iets anders wat ons moet toepas. Daar is oplossings vir probleme of verstellings aan toerusting waarvan ons moet kennis neem. Ons wil elke jaar gaan kyk – nie omdat dit sommer net ’n afdag is nie. Ons sién die ontwikkeling en vooruitgang.”

Van der Linde sê dat hy as 17-jarige plaasseun die eerste Sampi-oesdag bygewoon het en ook die daaropvolgendes. “Ons plaasseuns was mos van jongs af op die trekkers. Jy kan dus net dink hoe lekker dit vir ons was om daar by die praktiese demonstrasies te kan kom en die verskillende modelle te kan sien. Dit was ook die tyd dat trekkers van sleepstang tot die hidrouliese driepunt oorgegaan het. Daar was, net soos vandag, dus baie om te sien.”

Verstommende tegnologie

Sou hy destyds ooit gedink het dat hy in sy leeftyd soveel tegnologiese omwenteling kon beleef? “Nee, nooit nie. Jy kan nie glo hoe basies die goed daardie tyd was nie. Onthou, ons het nog mieliekoppe met die hand geoes. Dit was die tydperk waarin ons oorgeskakel het van sakke na silo’s en van hande-arbeid na oes met masjiene, na groter vermoëns en groter potensiaal.” Op ’n paneelbespreking van Nasie in Gesprek later dié dag gesels kenners oor die noodsaaklikheid van tegnologiese vooruitgang in die landbou.

Volgens tegnologieverskaffers is Suid-Afrikaanse boere bekend om hul gretigheid om nuwe tegnologie te omarm en te beproef, juis omdat hulle enige moontlike mededingende voordeel wil benut. Langs my in die gehoor sit mnr. Danie Minnaar, voorsitter van Senwes en boer van die Wes-Vrystaat. Hy wys vir my op sy selfoon ’n toepassing waarmee hy sit en kyk hoe vorder die oesproses op sy plaas. Elke stroper se presiese roete en spoed word aangedui.

Minnaar sien ook die opbrengs per hektaar soos die stropers vorder. Die toepassing herinner hom selfs wanneer dit tyd is om die stropers te laat versien. “Die tegnologie is verstommend. Maar dit maak nog nie reën nie,” sê hy met ’n skalkse glimlag. Buite in die son kry ek die vierjarige Mieke Leonard en haar ma, Leandra, van Heilbron. Mieke is gek na diere en kan nie wag om die beeste, skape en bokke te gaan bekyk nie. Ek vra haar om vir my ’n bees te teken in my notaboek en sy laat nie op haar wag nie. “Dit is ’n Brangus hierdie,” sê sy trots toe sy die boekie en pen teruggee.

Hul toekoms lê voor, inderdaad.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.