Een van die feite oor Ethiopië wat my onkant gevang het, is dat dié land met die grootste kudde van lewende hawe in Afrika, en die tiende grootste ter wêreld, spog. Die land het meer as 30 miljoen beeste, 25 miljoen skape, 20 miljoen bokke en net minder as 60 miljoen hoenders. ’n Mens kan nie soveel diere in ’n droë land aanhou nie!

Ek het met mnr. Gerrit Meyer, besturende direkteur van Elfora Agro Industries se sewe plase en twee fabrieke, gesels. Elfora Agri is die grootste landbou-en-voedselverwerkingsmaatskappy in Ethiopië.

GROOT MAATSKAPPY

Elfora, wat sowat 1 160 mense in diens het, is ’n private maatskappy wat sedert 1997 onder meer lewende hawe, blikkies groentesop, blikkiesvleis en vars vleisprodukte, graangewasse, vrugte, groente, eiers, tabak, melk en veevoer produseer. Die maatskappy kan 65 000 beeste en 400 000 skape en bokke per jaar verwerk. Voorts produseer hy ook jaarliks 1 miljoen ton hoendervleis en 50 miljoen eiers.

Die maatskappy bedryf twee voedselverwerkingsaanlegte, twee slagplase, drie voerkrale en sewe plase waarop beeste, skape, bokke en hoenders aangehou word. Die voerkrale kan 16 500 beeste per jaar hou.

Melk en melkprodukte is baie skaars in Ethiopië. As jy dit die dag in die winkels raakloop, is dit baie duur – ’n blok kaas van 2 kg kan jou maklik R1 500 uit die sak jaag, sê Meyer. Die maatskappy het dus onlangs ook ’n melkery begin. “Ons het vandag net meer as 300 melkkoeie. Hulle is almal kruisings tussen Borankoeie en Holsteinbulle,” sê Meyer.

Ten spyte van die indrukwekkende syfers sê hy dit is moeilik om so ’n groot maatskappy daar aan die gang te hou. Alle toerusting en onderdele moet ingevoer word. Dit kan ses tot nege maande duur om onderdele uit die buiteland te kry. Boonop is die buitelandse geld min en almal stoei vir die bietjie wat beskikbaar is. Motors en bakkies is vrek duur en ’n gewone dubbelkajuitbakkie kan tot R1,5 miljoen kos.

Meyer sê die Ethiopiërs is baie tradisievas en hou nie van verandering nie. Tog het hulle baie aansien vir die Suid-Afrikaners.

Mnr. Gerrit Meyer in ’n aartappelland in Ethiopië, die land wat hy al vier jaar lank sy tuiste noem.
Die plaaslike mense is baie tradisievas, maar sien ook die waarde van Suid-Afrikaners se kennis in. Hier help mnr. Gerrit Meyer (en sy John Deere) ’n plaaslike boer oes.
Ethiopië is ’n beeldskone land met vriendelike mense.
Meyer in aangeplante weiding op een van die maatskappy se plase. Ethiopië spog met ’n baie sterk veebedryf.
Hutte en mielies wat aan Ethiopiese bestaansboere behoort.

Vriendelike mense

Sy vrou, Rezelle, en hul vierjarige dogtertjie, Elrice, het drie jaar lank saam met Meyer in Ethiopië gewoon, maar nadat Rezelle met kanker gediagnoseer is, het sy en Elrice teruggekeer na Suid-Afrika vir mediese behandeling. “Die Ethiopiërs is baie vriendelike mense en ek kry elke dag SMS-boodskappe van my werkers wat sê dat hulle vir ons bid en dat Rezelle beter moet word,” vertel Meyer.

Meer as 60% van die land se bevolking is Christene, met sowat 30% Moslems. Die Ethiopiërs praat 83 verskillende tale en dialekte. Die omgangstaal waarmee Meyer moet klaarkom, is Amharies, wat ook die land se amptelike taal is.

Meyer het ’n huis in die hoofstad Addis Abeba en ook een op ’n plaas naby die dorpie Hawassa, sowat 270 km suid van die hoofstad. “Ethiopië is ’n pragtige land. Hier is baie water en dit reën vreeslik baie. Ek het in die eerste seisoen hier 1 000 mm reën gemeet. Die mense hier ken nie reënmeters nie en ek het een van Suid-Afrika af saamgebring.”

Eie wors en vleis

Meyer is nie juis ingenome met die Ethiopiese kos nie. Die Italianers se invloed is nog duidelik en die plaaslike mense eet baie pasta en pizza. Om te ontspan, doen Meyer grootliks wat hy in Suid-Afrika ook sou doen. “Daar is nog twee ander Suid-Afrikaners wat vir die maatskappy werk en ons kuier gereeld. Ons braai soveel as moontlik en volg die rugby op DStv.”

Meer as duisend Suid-Afrikaanse boere is deesdae op die een of die ander manier in die landbou in 22 Afrikalande betrokke, volgens syfers van Agri SA. 

Jurie van der Walt, ’n oud-joernalis wat tans ’n heuningbosteeprojek in die Langkloof bedryf, het met ’n paar van hierdie boere gesels oor hul lewe en werk elders op die vasteland.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.