Die studie, wat in die vakjoernaal Science gepubliseer is, modelleer toenames in insekbevolkings en hul metaboliese tempo’s in ’n warmer wêreld. Dit voorspel ’n toename in oesverliese van 50-100% weens insekte in Europese koringoeste en 30-40% in Noord-Amerikaanse mielie-oeste.

Dit sal selfs gebeur as lande hul bestaande verbintenisse tot die vermindering van kweekhuisgasvrystellings nakom.

“In party lande met gematigde temperature sal oesskade weens insekte na verwagting kwaai styg namate temperature aanhou styg, wat kwaai druk op graanprodusente plaas,” sê prof. Joshua Tewksbury, medeskrywer van die navorsingsartikel en direkteur van Future Earth, ’n internasionale navorsingsnetwerk vir wêreldwye volhoubaarheid.

Insekplae verminder reeds die netto opbrengs van die drie stapelgrane, naamlik koring, mielies en rys. Saam verskaf dié grane wêreldwyd 42% van mense se totale kilojouleverbruik. Modelle wat die effek van klimaatsverandering op die landbou bepaal, neem egter selde verliese weens insekte in ag.

In ’n warmer klimaat sal insekte voortaan na verwagting hongerder en talryker wees. Daar is getoon dat warmer temperature ’n individuele insek se metaboliese tempo verhoog, wat daartoe lei dat dit meer kos tydens sy leeftyd verbruik.

En terwyl insekbevolkings dalk in sommige warmer tropiese gebiede afneem, sal hulle na verwagting elders toeneem namate temperature styg en ander, bykomende ekostelsels gunstig vir hulle raak.

Die navorsers het die potensiaal vir gewasskade tot 2050 bereken deur robuuste klimaatprojeksiedata, gewasopbrengssyfers, die metaboliese tempo van insekte en ander demografiese inligting te kombineer. Die studie het bevind dat die Europese broodmandjie die swaarste kan kry.

Die impak van insekte op dié streek, wat tans die produktiefste koringproduserende streek ter wêreld is, kan ’n totale jaarlikse opbrengsverlies van tot 16 miljoen ton veroorsaak. Elf Europese lande, waaronder Brittanje, Denemarke, Swede en Ierland, sal na verwagting ’n toename van 75% of meer aan koringverliese beleef weens insekte.

Insekte kan ook ’n groot impak op mielie- en rysopbrengste in Noord-Amerika en Asië hê. In Amerika, die wêreld se grootste mielieproduserende land, kan daar volgens die huidige klimaatsverwarmingsvoorspellings ’n toename van amper 40% in mielieverliese weens insekte wees. Dit is ’n jaarlikse afname van meer as 20 miljoen ton.

Een derde van die wêreld se rys is ook afkomstig uit China, waar toekomstige verliese weens insekte jaarliks 27 miljoen ton kan beloop. “Die impak van insekte lei gemiddeld tot ’n afname van sowat 2,5% in gewasopbrengste vir elke graad Celsius wat die temperatuur styg,” sê Tewksbury.

“Om dit in konteks te plaas, dit is omtrent die helfte van die geraamde regstreekse impak van temperatuurverandering op gewasopbrengste. “In die noordelike, gematigde gebiede sal die impak van toenames weens insekskade waarskynlik groter wees as die regstreekse impak van die klimaat op gewasopbrengste.”

Die studie stel veranderings aan wêreldwye landboukundige praktyke voor, waaronder verhoogde seleksie vir hitte- en plaagbestande gewasse, en nuwe gewasrotasiepatrone om kwesbaarheid vir insekte te verminder. In sommige uiterste gevalle sal die groter gebruik van plaagdoders nodig raak om voedselvoorsiening in die streek te verseker, selfs ten koste van moontlike gesondheids- en omgewingskade wat daarmee gepaard sal gaan.

Bron: https://goo.gl/pEXvYc

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe. Volg ons op Whatsapp om daaglikse landbounuus op jou selfoon te ontvang.