Mnr. CP van der Merwe, voorsitter van die Fraserburg-boerevereniging, sê toestande het sedert 2017 vererger. Sedert April 2018 het slegs 40 mm reën op sy plaas geval, teenoor die gemiddelde van 175 mm reën per jaar. “In die westelike deel van die distrik is boere se ruvoer reeds sedert 2017 op. In die oostelike en suidelike deel is daar meer ruvoer beskikbaar, en daar het van die boere slegs energie-aanvullings nodig.”

Die boerevereniging is doelgerig oor droogteverligting. Hy het onlangs ’n WhatsApp-groep gestig tussen sy bestuurslede en diegene wat droogteverligting bestuur. Mnr. Elmar le Roux, ’n boer van die omgewing wat reeds sedert 2017 droogtehulp insamel, is verlede jaar by die boerevereniging gekoöpteer. Só kan doeltreffend gekommunikeer en besluite geneem word oor wat boere nodig het wanneer Fraserburg droogte- hulp kry.

KONTANTSKENKINGS

Die boeregemeenskap het onlangs ’n ruim kontantskenking van Smithfield gekry (LBW, 17 Januarie 2020). Dié geld en ’n vorige skenking van ’n ander gemeenskap is gebruik vir boere se koöperasierekeninge, wat ook ’n manier is om skenkings regverdig te verdeel.

Van der Merwe reken sedert 2015 het sowat 20 boere in die Karoo-Hoogland tussen Fraserburg, Sutherland en Williston met uiesaad begin boer as ekstra inkomste, maar weerstoestande soos hael en ryp is ’n groot risiko. Van der Merwe het volstruiskuikens begin grootmaak as ’n ekstra inkomste.

Volgens ’n inskrywing van me. Suléne du Toit op die webwerf van die Wes-Kaapse sinode van die NG Kerk is nagenoeg 100 skenkers landwyd betrokke by die Adopt-a-Sheep-Fraserburgprojek, waar elke skenker ’n skaap onderhou. Die gemeenskap het ook al voerskenkings en geldelike bystand van onder meer die Overberg, Orania, Agri SA en sake-ondernemings gekry.

Ná jare van ondergemiddelde reën is die veld in die distrik Fraserburg uitgeput. Boere moet ander planne beraam om hul inkomstestroom aan die gang te hou. FOTO’S: VERSKAF

ONDERSTEUNING

Volgens Van der Merwe sal die boere nie moed verloor in die droogte nie solank die vroue hulle ondersteun en optimisties bly. “Vroue bied die ondersteuning in die huis. Dis hulle wat jou aan die skouer vat en sê, toemaar, môre gaan dit beter. Hulle is die aflaaiplek vir ons probleme en baiekeer die katalisator om jou denkproses aan die gang te sit vir ’n ander oplossing op die plaas.”

Weens die ondergemiddelde reënval is daar byna geen produksie op die veld nie, sê Van der Merwe. Daarby het voerpryse gestyg en het veeboere geen sekuriteit vir hul vleis- of wolprodukte nie. In dié omgewing kon ’n boer in 2018 ’n speenlam op die veld grootmaak tot op vier maande.

Teen ongeveer R43/kg en ’n gemiddelde gewig van 33 kg was sy inkomste sowat R1300 per skaap. “Met die prysdaling tot R30/kg in 2019 het ’n boerdery met 1 000 ooi-eenhede sowat R400 000 verloor. Wie kan dit bekostig terwyl jy ook moet voer?”

Van der Merwe reken 30% of meer van die bossies in die veld is dood. Dit beteken wanneer dit begin reën, sal ’n boer met 30% minder skape moet boer om sy veld kans te gee om te herstel oor ’n tydperk van vier tot vyf jaar. “Ons weet dit moet reën vir die veld om te herstel, maar die herstelproses gaan lank wees.”