Eers moes Mike Mlengana, die hardegatboer van die Magaliesberg, hof toe gaan om sy skorsing as direkteur-generaal te laat omkeer, toe word hy wéér gepos. Manie se spioene laat hom weet dit wil lyk asof Mike se pogings om die departement reg te ruk, juis die rede is waarom die minister, Senzeni Zokwana, so graag van hom wil ontslae raak.

Dit klink asof die bakleiery nou persoonlik raak, glo ná Mike die minister se vertroueling en adjunkdirekteur-generaal van visserye, Siphokazi Ndudane, geskors het oor 13 bewerings van wanbestuur en korrupsie teen haar. Dit sluit in onmededingende prosesse met die aanstelling van ’n oudit- en forensiese firma.

Sy kan glo ook nie rekenskap gee nie van R55 miljoen wat ’n individu aan die departement betaal het nadat hy beboet is vir die stroping van kreef. Ook dat perlemoen verkoop is om geld vir ’n maatskappy beskikbaar te stel wat veiligheidsdienste kwansuis aan die departement moes lewer en wat aan twee voormalige provinsiale polisiekommissarisse behoort.

Daar is ook bewerings dat sy die Parlement mislei het met ’n antwoord oor perlemoendiefstal. Dit is veral die visserye-afdeling wat voortdurend onder bewerings van korrupsie deurloop. ’n Ontstoke Senzeni het na bewering Siphokazi se skorsing blitsvinnig opgehef deur Mike summier van sy magte te stroop.

Maar Manie se spioene laat weet Mike weier botweg om sy sweep neer te lê voor alle korrupsie in die departement blootgelê is. Daar is boonop bewerings dat Senzeni self omkoopgeld van R300 000 van ’n Wes-Kaapse visserman ontvang het om samesprekings oor die toekenning van viskwotas met oudpresident Jacob Zuma te reël.

Dit voel vir Manie asof Mike meer as ’n sweep gaan nodig hê. As daar egter enigeen is wat vervang moet word, blyk dit asof Senzeni se kop op ’n blok hoort. Mike kan immers ’n puik opvolger wees . . .

Die soet by die suur

Gepraat van mense wat goeie ministers van landbou sou maak – Manie hoor deesdae gans te min van sy goeie vriend, prof. Mohammad Karaan, waarnemende viserektor (gemeenskapskakeling en personeel) aan die Universiteit Stellenbosch.

Op die onlangse konferensie van die Rooivleisabattoirvereniging (RVAV) naby Stellenbosch maak die prof weer ’n paar goeie punte toe hy verwoord wat Manie en sy vrinne al jare lank om die braaivleisvure sê. Suid-Afrika strompel soos ’n blinde van die een krisis na die volgende – politiek, energie, onderwys, misdaad, dienslewering, water en grond, noem maar op.

Sulke aanhoudende krisisse veroorsaak erge skoksituasies wat talle mense na sterk drank laat gryp. Maar daar is ook darem goeie nuus. Selfs met al die onsekerheid oor grondonteiening sonder vergoeding beweer die prof grondpryse gaan die hoogte inskiet.

Dit laat Manie darem ’n bietjie meer gerus voel oor al daardie stygende landbouskuld. Maar dit beteken nie daar wag nie talle hindernisse op die land nie. Die grondsituasie móét opgelos word, produktiwiteit en produksie móét verhoog en vaardighede by veral jong mense móét met rasse skrede toeneem.

“ ’n Probleem in Suid-Afrika is dat ons op besittings klem lê, pleks van op mense. Gee eerder aandag aan mense, en hulle sal self vir besittings sorg.”

Maar hoe gemaak as die land dan 30% as ’n skoolslaagsyfer aanvaar? Tot die meer radikale randeiers met die rooi pette het ’n plek in Suid-Afrika, meen die prof. Volgens hom laat hulle mense meer fundamenteel oor dinge dink en dit bevorder nuwe gesprekke, denke en planne.

Veral wanneer ’n mens die prof se bewerings in ag neem dat grond in die toekoms nie noodwendig waarborge vir werk gaan inhou nie – al neem die landbou tans sowat 850 000 mense (meer as wat by myne werk) in diens.

Maar sonder goeie funksionele instellings gaan die Grondwet ook nie waarborge bied nie, en daarom het ons innoverende mense nodig, sê hy.

Die landbou is juis die plek waar die innoverende mense is, meen die prof, want “Suid-Afrika het ’n landbousektor waarop die res van Afrika jaloers is en wat suksesvol op internasionale skaal meeding”. Hoor, hoor!

Pasop vir WhatsApp

Kyk, Manie se oë rek soms oor wat per WhatsApp aan hom gestuur word. Talle van die boodskappe is fopnuus, maar aanvanklik jaag dit jou wel die skrik op die lyf. Dit was juis die punt wat Agri SA se grootbaas Dan Kriek die ander dag op die inmaakprodusente se jaarvergadering gemaak het.

Terwyl hy vas oortuig is dat redelikheid gaan seëvier in die debat oor onteiening sonder vergoeding, het hy nie net vir nugterheid by politici gepleit nie, maar ook by boere en die publiek. Dit is immers nie politici wat hulle aan radikale debatvoering skuldig maak nie, meen Dan.

“Ons doen dit ook self: Ons stuur vir mekaar die vreeslikste WhatsApp-boodskappe en onwaarhede oor onteiening sonder vergoeding.” Hy sê dit laat die gedagte posvat dat grond net gevat gaan word en maak mense uiters pessimisties.

Dan erken politici maak gereeld sulke uitsprake en oproepe, maar hy troos hom daaraan dat Suid-Afrika ’n grondwetlike demokrasie is, waar die Grondwet (nie parlementslede nie) die hoogste gesag is wat landsburgers se lot beskik. “Dit is waarom ek die Grondwet sonder skroom verdedig.”

Die Regering het geen idee hoe onteiening sonder vergoeding kan werk nie, maar dit is ook heel onnodig, meen Dan. Dit is iets wat die howe kan interpreteer sonder om die Grondwet te verander. “As ons aan die Handves van Menseregte begin torring, is niks meer heilig en veilig nie.”

Manie stem saam met Dan dat daar oorgenoeg planne reeds bestaan. Daar’s Operasie Phakisa (’n plan om landbou-ontwikkeling te versnel) en die Nasionale Ontwikkelingsplan. Ook talle voorbeelde van boere wat vernuwend sake doen. Ons moet die planne net toepas, sê Dan.

Waar lê die probleem dan? Dan raai boere aan om oudpresident Kgalema Motlanthe se verslag wat deur ’n hoëvlakpaneel saamgestel is, af te laai.

“Lees bladsye 200 tot 300. Daar sê die paneel wat die probleme met grondhervorming is. Die meeste mense is dus besig met ’n onnodige proses ten opsigte van onteiening sonder vergoeding.” Weer: Hoor, hoor!

’n Floue

Ek wil jou ’n grap oor Eskom se probleme vertel, maar ek het net nie die krag nie! (Ja, ja. Manie weet dit is ’n flou grap, maar dit som die nasionale gemoed nogal goed op.)

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.