Suid-Afrikaanse belastingwetgewing bepaal dat die meeste bates wat van eienaar verwissel, deur middel van ’n transaksie sonder bevoorregting moet plaasvind. ’n Bate moet teen markwaarde na ’n trust oorgedra word asof die koper en verkoper in die gewone verloop van sake ’n ooreenkoms sluit. Gevolglik kan kapitaalwinsbelasting, hereregte en oordragkoste betaalbaar word.

VERKOOP

Die eenvoudigste manier om byvoorbeeld vaste eiendom na ’n trust toe te “verskuif”, is deur dit teen markwaarde aan die trust te verkoop met die gevolglike betaling van kapitaalwinsbelasting en oordragkoste. Ná die afhandeling van die transaksie bly die verkoopprys meestal as ’n leningsrekening verskuldig aan die verkoper, gewoonlik die individu wat ook ’n trustee of begunstigde is.

Die vraag of vaste eiendom, soos landbougrond, regstreeks in ’n trust gekoop moet word, is nog nie beantwoord nie, maar die aanbeveling is dat ’n maatskappy, met aandele in die trust, gebruik word om die eienaar te word van die vaste bate. Die trust hou dan net aandele wat deur individue beheer kan word. Die trustees is in beheer van die aanstelling van die maatskappy se direksie, en doeltreffende beheer word vergemaklik.

Alle groei in die bate vestig ná oordrag in die maatskapy wat die trust besit, en nie in die hande van die oorspronklike boedeleienaar nie. Op lang termyn kan dit aansienlike besparings inhou wat boedel- en kapitaalwinsbelasting betref.

As die bate via die maatskappy aan die trustees behoort en hulle besluit om die bate te verkoop, word kapitaalwins bereken op ’n insluitingskoers van 80%, maar met ’n maksimum belastingkoers van 28%.

Die vraag ontstaan egter steeds wat van die leningsrekening word. ’n Kredietleningsrekening (die trust of maatskappy skuld jou geld) is ’n bate in die boedel van die uitlener. Dus bly die aanvanklike koopprys, dalk met rente, met verloop van tyd steeds ’n bate. Die voordeel is egter dat die groei van die bates nie in die boedel van die oorspronklike eienaar plaasvind nie.

Nog ’n tameletjie is dat artikel 7C van die Inkomstebelastingwet (Wet 58 van 1962) bepaal dat geld wat aan ’n trust of maatskappy met verwante partye geleen is, onderworpe is aan die betaling van rente aan die uitlener. Indien dit nie plaasvind nie, is die rente wat die kwytskelding van R100 000 per jaar oorskry, onderworpe aan geskenkebelasting.

Indien ’n mens aanvaar rente word wel betaal, is dit noodsaaklik dat die boedeleienaar die leningsrekening as ’n bate bemaak in sy of haar testament. Een manier is om die leningsrekening te bemaak aan die entiteit deur wie dit verskuldig is. Dit sal die kringloop van die leningsrekening en die gevolge van artikel 7C stuit. Die leningsrekening kan egter ook as ’n hulpmiddel gebruik word om inkomste aan ’n langslewende gade te voorsien en beheer oor die bate uit te oefen.

KONTANT

Die verskuiwing van kontant deur ’n trustskenkingsplan is ’n metode om kapitaal van jou naam na dié van die trust te kry.

Die trustees neem ’n beleggingsplan by ’n versekeraar uit met ’n beleggingspremie van R100 000 per jaar en die boedeleienaar betaal die premie uit sy bankrekening. Ná vyf jaar is die beleggingsplan, volgens huidige wetgewing, belastingvry in die boeke van die trust. Dan kan die skenker, wat ook ’n begunstigde is, voordele uit die belegging bekom wat betref inkomste of kapitaal.

Ná vyf jaar is die belegging R500 000 plus groei werd. Die boedeleienaar se boedel is dus met dié bedrag plus groei verklein. Teen R100 000 per jaar is dit nie ’n fortuin nie, maar met verloop van tyd kan dit ’n baie doeltreffende plan wees.

Die skenkingskwytskelding is ook beskikbaar vir gades. Die gade van die boedeleienaar kan dus ook R100 000 aan die trust skenk. Gevolglik word die belegging teen R200 000 per jaar aangevul. 

Mnr. Johan Brandt is ’n lid van Fisa en ’n regs-en-sakekonsultant verbonde aan Allegiance Consulting (Edms.) Bpk. NAVRAE: E-pos: info@allegiance.co.za