Jy wil nie graag aan die duiwel dink op ’n Sondag nie. Maar tussen Van Wyksvlei en Brandvlei draai stofduiwels op elke horison waarby ’n mens se oë kan uitkom. Hulle dans oor die lae, swart rantjies. Hardloop voor jou in op die vaal grondpaaie.

Hulle tel die bruinrooi grond van die kaaltes op en draai dit hoër en hoër tot net onderkant die son sodat almal kan sien hoe dood die aarde hierlangs is.

Hier waar die Bo-Karoo die Boesmanland se hand kom vat, maar die een nie die ander kan moed inpraat nie. Ná agt jaar se droogte is daar nie meer woorde wat sin maak nie.

ln280121_Droogte_Dawid_le_Roux_47_opt.jpg
“Die geheim hier by ons is om altyd min-der uit te gee as wat jy inkry. Dit was die afgelope paar jaar baie moeilik omdat ons soveel moes voer en min gehad het om te verkoop. Daarom is ons verskriklik dank-baar vir almal wat ons al gehelp het en steeds help. Ons kan nie eens meer daaroor huil nie. Ons is net dankbaar.”

’n Sprinkaanjaar is ’n goeie jaar

“Elke dag het dieselfde geraak,” sê mnr. Dawid le Roux op Flamingosvlei se stoep. Die kwik in die termometer het tot by 40 °C gerek. Die potplante het inmekaargesak. Binne die huis is die tweerigtingradio stil.

“Daai radio is gewoonlik heeltyd besig. Die boere hierso hou van gesels en om mekaar op hoogte te hou. Die afgelope tyd hoor jy niks op die radio nie. Mense se gemoedere is laag. Niemand weet meer wat om te sê nie.

“Die afgelope paar jaar doen ons elke dag dieselfde dinge. Ons gee voer en ons ry water aan. As jy daarmee klaar is, voel jy só moeg dat jy in elk geval vir niks anders lus is nie.”

Na aan die huis staan Dawid se vragmotor met ’n 5 000 liter-tenk op. Dit word hier volgemaak en dan na drie tenks in die veld aangery waar boorgate al twee jaar lank droog is. Die gate wat wel nog ’n bietjie water in het, word al hoe souter. Die huiswater is die laaste varsheid in ’n wye omgewing. Dawid se dogter en skoonseun, me. Karen en mnr. Jan-Hendrik Hoon, wat 10 km van Flamingosvlei af boer, kom haal ook hier vir hulle drinkwater.

Vyfduisend liter water is nie baie wan- neer dit tussen drie tenks verdeel moet word nie. As dit so warm is soos vandag, moet Dawid elke dag aanry. Andersins kan hy een dag oorslaan. “Daar moet natuurlik nie ’n foutjie by ’n krip kom nie. Enige lekkasie is nou basies ’n ramp.

“Ja-nee, dit maak jou moeg om so dag in en dag uit net droogte te sien, en nie te sien waar dit ophou nie. Mens raak swartgallig. Twee maande terug was ek só in my moer in dat ek die plaas wou verkoop. Sommer vir minder as wat ek betaal het.

“Toe sien ek die sprinkane. Ek glo nie in allerhande tekens en dinge wat reën voorspel nie. Maar ’n sprinkaanjaar is ’n goeie jaar. En vandat ek my sprinkaantjies gesien het, is ek sommer weer lus vir boer. Kom ons kry dus hierdie water by die diere.”

ln280121_Droogte_Dawid_le_Roux_6_opt.jpg
Die boorgat by Flamingosvlei se huis is die enigste wat nog vars water het en een van die laastes wat nog nie opgedroog het nie. Dit duur wel ’n paar uur om die 5 000 liter-tenk vol te kry voor Dawid dit veld toe kan ry en in drie kleiner tenke tap sodat die skape iets het om te drink.

Opgewonde én bang OOR reën

Voorspellings van goeie reën vir die volgende twee dae (21-22 Desember 2020) oor die westelike dele van Noord-Kaap laat Dawid kort-kort deur die oop vragmotorvenster kyk. Noordweste toe. Na waar die hoop vandaan kom. “As dit môre gaan reën soos voorspel word, is dit die laaste waterryery vir ’n lang ruk.”

Daar is ’n weggesteekte glimlag in Dawid se baard, want in sy kop begin die gat- damme volloop.

“Party mense sê dit is half verkeerd om die weervoorspellings so dop te hou; die Here sal ons wys wanneer die reën kom. Maar ek dink die liewe Here is so besig om alles te probeer regmaak wat ons hier op aarde opneuk, dat hy nie tyd het vir weervoorspellings nie. Daarom het hy vir sekere mense die slimmigheid gegee om die weer te voorspel.”

Saam met sy opgewondenheid oor die moontlike reën, is daar ook benoudheid. In Januarie 2020 het een bui 47 mm oor Flamingosvlei uitgegooi.

“Ons het gevoel die droogte is gebreek. Die duwweltjies het oral opgekom, en ons weet dit is lekker kos vir die skape. Maar toe raak dit ontsettend warm en daar kom nie opvolgreën nie. Die duwweltjies het skielik verlep en giftig geraak. Dit raak soos ’n dwelm vir die skape, en 200 is by ons aan dikkop dood.”

Daarom sê Dawid die drie dinge wat hier die grootste skade maak, is eerstens roofdiere, dan reën en dan droogte.

ln280121_Droogte_Dawid_le_Roux_10_opt.jpg
Die boorgat by Flamingosvlei se huis is die enigste wat nog vars water het en een van die laastes wat nog nie opgedroog het nie. Dit duur wel ’n paar uur om die 5 000 liter-tenk vol te kry voor Dawid dit veld toe kan ry en in drie kleiner tenke tap sodat die skape iets het om te drink.

Die krag van ’n driedoring

“Hierdie wêreld moet droog wees. Dit is sy natuur. As jy nie daarvan hou nie, moet jy waai, want dit gaan nie verander nie. Dit is wel nou die droogste wat dit in 140 jaar was. Dit is bad luck vir ons wat dit moet deurmaak. Maar ek glo daar lê nou weer ’n klomp mooi jare voor.”

In mooi jare raak ou ooie met twee lammers by hulle “platvet”, sê Dawid. “Jong, ’n ou ooi kan op haar sy lê van swakte, dan vat jy net ’n hoed vol driedoringblomme vir haar. Netnou dans sy sommer.”

Oor die vloere (panne) en al wat ’n kaal kol in die veld is, lê rye smal slote. “Dit is my ploegwerk voor die groot reën kom,” sê Dawid laggend.

Hy het dit met ’n ou padskraper gedoen en hoop dat water dié harde dele beter sal binnedring en daar meer plante sal opkom. “Ek het oral waar ek kon, grassade geoes en in die slote gestrooi. Of dit gaan help, weet ek nie. Maar ek moet darem iets probeer. Dit was in elk geval goeie afleiding van die voerdery en waterryery.”

 ln280121_Droogte_Dawid_le_Roux_37_opt.jpg
“Ons het baie reën nodig om die grondwater te herstel. Waarskynlik ’n vloed. Die aarde hier onder ons is diep, diep uitgedroog,” sê mnr. Dawid le Roux.

Wippe vir die wind

Die aand is warm en die noordewind woes. Die huis is ’n gebakte ysterklip. Eljo, Dawid se vrou, het op Van Wyksvlei grootgeword en sê die hitte hou haar steeds snags wakker. “Ek raak dit net nie gewoond nie. Hoe moet jy slaap as jy natgesweet is?”

Sy sit dan eerder buite op die stoep waar dit koeler is. Vanaand is die stoep stowwerig, maar daar is ’n opgewondenheid oor wat die wind met hom saamsleep. Dawid verdwyn elke nou en dan in die donker om na weerlig te soek. “Ek sien so tiek-tak ’n blits oor die Grootrivier (Oranje). Dit moet so wees. Dit reën eers daar en dan kom dit af na ons toe. Dalk beur hy nog vannag tot by ons.”

Eljo sê sy bly dan sommer op die stoep. Sy wag die koel druppels in. Maar later begin die wind los voorwerpe op die werf rondgooi en gaan sy eerder die huis in. Dawid stel vensters en deure op baie presiese hoeke en ooptes tot die lug uit die noorde deur hul kamer aan die suidekant van die huis waai.

“Hier moet jy maar wippe vir die wind stel as jy wil hê hy moet by jou kom lê.”

ln280121_Droogte_Dawid_le_Roux_32_opt.jpg
Desember se mooi weer het die aarde by Dawid-hulle net stofnat gemaak. Vroeg in Januarie het strepe van Flamingosvlei sowat 13 mm gekry. Dit het in 2013 laas hierlangs ordentlik gereën.

’n Dag nader aan reën

Die son kom nie op nie, want ’n vag ligblou wolke is oor die aarde oopgegooi. Dawid is skepties oor oggendweer, maar weervoorspellings sê hou moed, dit gaan die hele middag en aand drup. Beloftes van reën maak nie honger skape se mae vol nie en die bakkie word met voer en mielies gelaai. Sal die Noord-Kaap se skape ooit weer hul liefde vir voertuie afleer?

Hier, soos op soveel ander plase, storm die skape ook met ’n desperate geblêr op die bakkie af. Jy moet vastrap met ’n voersak in jou hand, want hulle bondel en maal en stamp om jou bene om ’n bek of twee kos op te tel. “Hulle breek sommer jou vuurhoutjies en dan lê jy op die grond,” waarsku Dawid.

In die lug is daar ook woelinge. Die wolke raak donkerder, die windjie kouer en die stof begin na reën ruik. Min oë is op die plaaspad, want bo die dooie veld, die geremde windpompe op leë gate en die skure vol voer hang daar skielik ’n diepblou wegkomkans. Fyn druppels maak die vensters vuil. Groter druppels kom maak dit skoon en die ruitveërs laat Dawid laggend sê: “Hulle werk nog!”

ln280121_Droogte_Dawid_le_Roux_22_opt.jpg
Dawid het die afgelope paar jaar lammers vroeg van die ooie gespeen en hulle dan gevoer sodat die ooie nie te swaar kry nie en weer ’n lam sal lewer. “As die lam- prys egter nie baie goed is nie, ly ons ’n dooie verlies met die lammers.”
ln280121_Droogte_Dawid_le_Roux_26_opt.jpg
Mnr. Willem Viviers gooi ’n streep mielies voor die honger skape uit. Hier moet elke dag gevoer word om die diere aan die lewe te hou. Mnr. Dawid le Roux het minder as die helfte van sy oorspronklike kudde oor.

Maar voor dit genoeg gereën het om een driedoringblom te laat uitkom, hou dit op en raak die wolke bleek. Asof dié stuk aarde hul moed gebreek het. Asof die verwagtinge wat na hulle opgestaar het, te veel was.

“Dit is teleurstellend, ja, maar dit bly ’n wonderwerk. Ons kan nie soveel water uit die lug laat val nie, al maak ons wat,” probeer Dawid weer die wolke en homself opkikker.

Die son en die hitte bly ten minste heeldag weg en dit is nie weer nodig om water aan te ry nie. Ook nie om die aandlug in die huis rond te jaag nie. “Ons sal darem lekker kan slaap vanaand,” sê Eljo.

En wanneer hulle gaan lê, vra Dawid dat sy vrou hom wakker maak as die reën dalk in die donker tot by hulle verdwaal. “Dit moet een of ander tyd weer hier uitkom. Dit kan tog nie altyd droog bly nie.”

Sy antwoord: “As dit nie vanaand reën nie, my man, is ons môreoggend nader aan die dag wat dit wel gaan reën.”

n280121_Droogte_Dawid_le_Roux_14_opt.jpg
Net die heel gehardste bosse, soos hierdie brosdoring, het dan en wan iets aan wat die diere kan vreet. Die res van die veld is morsdood.
ln280121_Droogte_Dawid_le_Roux_45_opt.jpg
Dawid se Afrino’s se nekke is meestal sonder wol omdat hulle deur die bosse moet beur om by iets eetbaars uit te kom.

Vroegoggend word die volgende voer reggesit. Die vragmotor word nader getrek sodat die sonpomp nog 5 000 liter huiswater kan tap. Want die lug is leeg, en die gatdamme steeds skurwe bakhande.

Mnr. Willem Viviers, die jakkalsjagter, vertrek met sy motorfiets om te gaan kyk of ’n roofdier nie ’n spoor op die stofnat grond gelos het nie, terwyl Dawid die skape iets gaan gee om te vreet.

Laatmiddag word hul drinkwater aangery. Donderweer begin nader staan. In die suidweste raak die Kareeberge al vaal. Fraiings reën maak die westewind wakker en dit storm vies oor die vloere. Gooi bollings stof oor Dawid en sy Afrino’s om die waterlorrie. Die wolke skrik Kenhardt se kant toe.

Dawid vryf sand uit sy oë. As dit agt jaar lank só gaan, het jy nie meer ’n traan oor nie. In die byna 3 000 dae van die droogte was daar baie dae soos vandag. “Dis oraait, dis oraait,” sê hy sag vir sy skape. “Dit is al 3 000 dae nader aan die mooi jare.”

* Dawid het intussen, op 14 Januarie, darem 15 mm reën gekry.