Terwyl ek met Hein Swart deur WhatsApp-video gesels, vries die beeld telkens, en moet ek weer bel. “Man, die krag gaan kort-kort af en dan werk die WiFi nie. As die krag nou weer afgaan, wag net ’n bietjie, dan bel ons weer.” Dit klink baie soos Suid-Afrika en sy beurtkragsituasie.

Swart, wat al agt jaar lank in Ghana woon en werk, is die bestuurder vir ’n Ghanese kommersiële landboumaatskappy, KOP Farms. Dit behoort aan twee Ghanese sakemanne wat in Engeland studeer het. Hulle is nie eintlik boere nie, maar het geleenthede in die landbou raakgesien.

Hulle boer hoofsaaklik met mielies, want dié Wes-Afrika- land moet feitlik alle mielies wat hy nodig het, invoer. KOP Farms se mielie-oes word aan twee maatskappye gelewer wat dit reg oor Ghana versprei. Die geelmielies word as hoendervoer benut, terwyl die witmielies deur die inwoners verbruik word. KOP Farms verbou ook grondbone, sorghum en soja. “Kommersiële boerdery is nog nie groot in Ghana nie, dus is geduld die grootste gawe wat ek nodig het om die mense op te lei en reg te leer,” sê Swart.

Hy is tans besig om ’n plaas van 1 500 ha in die Volta-riviergebied te ontwikkel. Dit is naby die dorpie Aveyime, sowat 90 km van die hoofstad, Accra. Die plaas word in drie fases van 420 ha elk ontwikkel en alles is onder spilpuntbesproeiing. Die 1 500 km lange Voltarivier is Ghana se belangrikste waterstelsel en loop uiteindelik uit in die Voltadam, die mensgemaak- te meer met die grootste oppervlakte ter wêreld.

KLEM OP Landbou

Die landbou is Ghana se belangrikste ekonomiese bedryf en verskaf werk aan 60% van die bevolking van 25,4 mil- joen. Die land is opgedeel in ses klimaatstreke, wat wissel van droë savanna tot baie nat reënwoude. ’n Verskeidenheid gewasse word in die streke verbou, waaronder kakao, palmolie, kolaneute, vrugte, groente, suiker, tabak en katoen. Ghana se hoofuitvoerproduk is kakao.

Landbou-ontwikkeling is baie belangrik vir die Ghanese regering, en groot bedrae word deur buitelandse en plaaslike private maatskappye in die land se landbousektor belê. Die landbou is verantwoordelik vir 40% van die land se inkomste uit uitvoer, en voorsien in 90% van die land se voedselbehoeftes.

Altesaam 57% van Ghana se grondoppervlakte word as landbougrond geklassifiseer, waarvan slegs 25% ekonomies aangewend word. Hiervan is net 11 000 ha onder besproeiing. Die meeste boere is bestaans- of kleinboere en meer as 60% van alle plase is kleiner as 1 ha. Net 15% van die plase is 2 ha tot 10 ha groot.

Ghana is een van Afrika suid van die Sahara se stabielste lande. Sy ekonomie is ook een van dié op die vasteland wat die vinnigste groei. Die land het in 1957 sy onafhanklikheid verkry en só die eerste land suid van die Sahara geword wat die koloniale juk afgegooi het. Vandag streef die regering daarna om die landbousektor te moderniseer, en baie aandag word aan organiese en kweekhuisboerdery gegee.

Hein Swart woon al agt jaar in Ghana, en is die bestuurder vir ’n landbou-maatskappy. Hy ontwikkel tans ’n plaas van 1 500 hain die Voltariviergebied.
Daar word fluks geoes op een van KOP Farms se plase.
Die mielie-oes van KOP Farms word aan twee maatskappye gelewer. Grondbone, sorghum en soja word ook deur dié Ghanese landboumaatskappy verbou.
Dit is ’n nagmerrie om onderdele vir trekkers en werktuie in Ghana in die hande te kry. Daarom moet ’n boer seker maak hy het genoeg spaaronderdele.

REGTE PLANTTYD EN SKAARS ONDERDELE

Swart vertel dit is soms moeilik om die werkers reg op te lei, want die meeste van hulle is ongeletterd en trekkerbestuur kom nie vanself nie. “Jy moet ook weet om op die regte tyd te plant, sodat jy op die regte tyd kan oes. As jy daardie droë tydperk misloop, loop jy ook die regte tyd om te oes mis, en dan het jy ’n groot probleem. Tussen oes en plant is daar ’n baie nat tydperk en ‘Afrikatyd’ veroorsaak meestal dat kleinboere nie op die regte tyd plant nie,” verduidelik hy.

Volgens Swart is dit baie warm in Ghana. Die warm maande is van November tot Februarie en dan draai die kwik by 40 °C. Een van die grootste struikelblokke om op kommersiële skaal te boer, is die onderhoud van plaaswerktuie. Dit is baie moeilik om onderdele vir trekkers en ander werktuie in Ghana te kry. Alles word van Suid-Afrika af ingevoer, want dit is vinniger en goedkoper as om dit van Europa af te kry. “In die oesseisoen moet jy sorg dat jy genoeg spaaronderdele het, want as ’n ding breek, kan jy baie lank wag.”

RUGBY en die kolonel se hoender

Swart is meestal alleen, maar sy vrou, Theunisa, kom kuier darem gereeld uit Suid-Afrika. “Om die huis ’n bietjie aan die kant te maak en klere te was,” skerts hy.

Hy vertel Accra is ’n stad, net soos Johannesburg en Kaapstad. ’n Mens moet dus van beter weet as om gevaarlike plekke te besoek. Tog voel hy veiliger in Ghana as in Suid-Afrika. “Ons is ’n klomp Suid-Afrikaners wat elke Vrydag- en Saterdagaand by die Smoke and Barrel-restaurant bymekaarkom om rugby te kyk. Niemand is ooit gespanne oor veiligheid nie.” Gelukkig is daar DStv om rugby en ander sport te kan kyk.

Jy hoef nie te vra waar Swart se wortels is nie, want sy aksent verklap sommer gou dat hy die Stormers ondersteun. Hy het een reël vir sy werkers en vir homself: Jy ry nooit in die nag in Ghana nie, want die verkeer is chaoties en daar is baie ongelukke. “Die meeste buitelanders met wie ek hier gesels, sê gou vir jou Ghana is die beste land om in te bly – en hulle kom van oral in die wêreld.”

Daar is inkopiesentrums, goeie hotelle en kettingwinkels. Suiwelprodukte is egter baie skaars, soos in die meeste ander Afrikalande. In Ghana koop jy nie sommer vars melk, botter of kaas nie – dit is te duur, ás dit beskikbaar is. Waar doen hy sy maandelikse inkopies? “Hier is ’n Shoprite in Accra en hulle het alles wat ’n mens nodig het.”

Swart ry tweeweekliks stad toe vir inkopies. Daar is ook ’n hele paar KFC’s in Accra. Boonop is daar ’n slaghuis wat deur twee Suid-Afrikaners bedryf word, en as hy lus raak vir vleissnitte soos ons dit ken – lamstjops, skaapboud, sosaties en steak – gaan maak hy daar ’n draai.

Een ding staan soos ’n paal bo water vir hom, en dit is dat die mense van Ghana baie spesiaal is. Hulle is vriendelik, gewillig om te leer en hardwerkend. Die Ghanese het ’n wil om vooruit te boer en om te leer hoe om reg te boer. Meer as duisend Suid-Afrikaanse boere is tans op die een of ander manier by die landbou in 22 Afrikalande betrokke, volgens syfers van Agri SA. 

Jurie van der Walt, ’n oudjoernalis wat tans ’n heuningbosteeprojek in die Langkloof bedryf, het met ’n paar van dié boere gesels oor hul lewe en werk elders op die vasteland.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.