Cavendish-piesangs, wat ook in Suid-Afrika verbou word, is hoogs vatbaar vir die swam, Tropiese Ras 4 (FocTR4). Die swam word deur plantmateriaal, klere en skoene versprei en kan ’n reuse-impak op voedselsekerheid in Afrika hê. Daar is nog geen doeltreffende behandeling beskikbaar om die siekte by Cavendish-kultivars te bekamp nie.

“Voorkomende maatreëls is dus ons enigste opsie,” het dr. Kristian Möller, hoof- uitvoerende bestuurder van GlobalGAP, tydens ’n spesiale mediakonferensie op Fruit Logistica in Berlyn gesê. Hy beskou FocTR4 as ’n onmiddellike bedreiging vir die piesangbedryf, asook vir die mense wie se bestaan van piesangproduksie en -verbruik afhanklik is.

Dr. Kristian Möller. Foto: Lucille Botha

“Piesangs is hektaargewys een van die grootste kommoditeite wat GlobalGAP sertifiseer. Ons het onlangs, met die samewerking van die Verenigde Nasies, ’n bykomende assesering gefinaliseer wat aan al die vereistes voldoen om biosekerheidsmaatreëls op plase na te gaan.”

Die sertifisering is ’n biosekerheidshulpmiddel wat boere kan gebruik as ’n plan om die risiko te verminder dat FocTR4 in hul plantasies voorkom. Dit sal ook help om die verdere verspreiding van die swam te keer.

“Dit sal plase, en die omgewings waarbinne hulle geleë is, beter beskerm teen besmetting met die verwoestende swam. As die swam reeds in jou omgewing is, sal die assesering help om die invloed daarvan te beperk.”

Mark moet aandring op assesering

Hy hoop die mark dring aan op die assesering.

“Ons wil nie hê die piesangbedryf moet ly nie. Dis nie net ’n uitvoerproduk nie, maar piesangs is ook ’n stapelvoedsel vir baie mense wêreldwyd. Ons moet hierdie swam bestuur en dit beperk, minstens totdat die wetenskap vir ons bestrydingsmaatreëls bring.”

Möller het gesê die assesering is ook ontwerp om wêreldwyd bewusmaking te skep van die erns van die siekte.

Mnr. Joachim Prinsloo, ’n piesangboer van Nelspruit, meen GlobalGAP “meng nou in met dinge wat die Departement van Landbou se verantwoordelikheid is”.

Volgens hom voldoen boere reeds aan maatreëls wat deur die Regering daargestel word – soos dat plantmateriaal nie van een streek na ’n ander geskuif mag word nie.

“GlobalGAP moet seker maak dat boere gesonde vrugte vir verbruikers op winkelrakke sit, produkte wat tot by die oorsprong naspeurbaar is. Niemand is meer bekommerd oor die swam as ons boere nie en ons voldoen reeds aan meer maatreëls om dit te beperk as wat GlobalGAP ooit aan ons kan voorskryf. Hierdie sertifisering kom net neer op ekstra koste.”