Die Nederlandse maatskappy Mosa Meat het in Julie aangekondig dat hy genoeg geld ingesamel het om kunsmatige vleis teen 2021 aan restaurante te verkoop. Dié maatskappy het vyf jaar gelede die eerste beesvleis-hamburgerfrikkadel wat in ’n laboratorium gekweek is, aan die wêreld bekend gestel.

“Die eerste produk sal beesmaalvleis wees, waarskynlik in die vorm van ’n hamburgerfrikkadel,” sê mnr. Peter Verstrate, uitvoerende hoof van Mosa Meat. “Maalvleis neem 50% van die totale vleismark in en dit is ’n groot wetenskaplike uitdaging om driedimensionele strukture, soos ’n biefstuk, te ontwikkel.”

Die maatskappy wil vir die volgende twee tot drie jaar burgerfrikkadelle op ’n nywerheidsgrondslag vervaardig en teen ’n koste van $1 (R14,50) verkoop. Die maatskappy is egter nie die enigste wat kunsmatige vleis lewer nie. Daar is verskeie maatskappye wêreldwyd wat ook dié tegnologie ondersoek of ontwikkel.

Die rede vir die kweek van kunsmatige vleis is hoofsaaklik omdat verbruikers besorg is oor omgewings- en etiese faktore verbonde aan die aanhou en slag van diere vir vleis. Volgens ’n berig in die Al Jazeera-nuusdiens, waarsku omgewingskundiges dat die groeiende vraag na vleis, veral in opkomende ekonomieë soos China, nie volhoubaar is nie.

Dit is omdat die aanhou van beeste, varke en hoenders meer natuurlike hulpbronne verg as plantgebaseerde proteïene. Die koeie skei groot hoeveelhede metaangas af, ’n kweekhuisgas wat bydra tot klimaatsverandering. Mosa Meat vervaardig dié kunsmatige vleis deur selle van lewende diere te oes.

Die ware Jakob, een van Mosa Meat se hamburgers. Foto’s: Mosa Meat

Voedingstowwe word dan aan selle gevoer sodat hulle groei om spierweefsel te vorm, Volgens die maatskappy kan hy 80 000 burgers van een sel-oes kweek. Mosa Meat het die nodige $8,8 miljoen (R127,20 miljoen), hoofsaaklik van die Bell Foods-groep en M Ventures, ’n beleggingsfonds vir die Duitse farmaseutiese maatskappy Merck KGaA, ingesamel.

Bell Food is ’n Switserse maatskappy wat vleis verwerk. Mosa Meat is tans besig om te bewys dat die kunsmatige vleis veilig is vir menslike gebruik. Hy probeer ook goedkeuring van die Europese Voedselveiligheidsagentskap kry sodat hy die gekweekte vleis in Europa kan verkoop.

Bekende name in die bedryf vir kunsmatige vleis op die wêreldmark sluit in Memphis Meat, wat in Amerika gesetel is. Dié maatskappy het reeds geld ingesamel om gekweekte vleisprodukte, soos ’n beesvleisfrikkadel, asook hoender- en eendvleis, te ontwikkel. SuperMeat is ’n Israeliese maatskappy wat gekweekte hoendervleis ontwikkel, en Finless Foods in Amerika ontwikkel gekweekte vis.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.