“Die feit is dat die vleis van alle diere wat gejag word, benut word. Daarom is dit belangrik om die spesies op die lys by te voeg om ’n gehalteproduk aan die eindverbruiker te verseker,” sê me. Adri Kitshoff-Botha, uitvoerende hoof van Wildbedryf SA.

Me. Hannah Shameema Winkler, die DA se skaduminister vir omgewingsake, wou egter onlangs in die parlement by me. Barbara Creecy, minister van omgewingsake, bosbou en visserye, weet of die regulasies vir bedreigde en beskermde spesies steeds van krag gaan wees op wildspesies wat ingevolge die Diereverbeteringswet (Wet 62 van 1998) as landras geklassifiseer is.

Winkler het Didiza gevra hoekom sy boonop bedreigde spesies tot die Wet op die Veiligheid van Vleis wil voeg.

VERWARRING

“Daar is duidelik verwarring oor die doel van die lys spesies,” sê Kitshoff-Botha. “Dit is egter belangrik om te onthou dat die oes van wild op private grond deur middel van jag ’n belangrike wildsbestuursmeganisme is. Dit sluit alle wildspesies in.”

Sy sê dit sal naïef wees om te dink dat in ’n land soos Suid-Afrika waar daar soveel honger mense is, die vleis van wild wat gejag is, nie verbruik sal word nie. “Geen vleis kan vermors word nie. Daarom moet ons wetgewing en regulasies hê wat verseker dat sulke vleis wat vir die kommersiële mark bestem is, deur die regte prosesse gaan om die eindverbruiker se veiligheid en gesondheid te beskerm.”

Mnr. Fred Camphor, uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Jagters- en Wildbewaringsvereniging (SAJWV), verduidelik dat olifante byvoorbeeld in private reservate gejag moet word. In só ’n geval kan die karkas deur ’n vleisinspekteur ondersoek word en dit kan deur ’n wildslaghuis verwerk en verkoop word. “Baie wildboere het hul eie slaggeriewe en slaghuise wat aan die strengste voorwaardes voldoen. Die voorgestelde wysigings sal dit vir hulle moontlik maak om die karkasse van spesies wat gejag is, te verkoop.”

BENUTTINGSJAGTERS

Volgens Camphor stel die SAJWV voor dat vleis wat benuttingsjagters vir eie gebruik bekom, nie aan die inspeksies en vereistes van die Wet op die Veiligheid van Vleis onderworpe moet wees nie. Hy sê dit sal onprakties en te duur vir ’n enkele jagter wees om ’n vleisinspekteur aan te stel om een of twee bokke se karkasse te kom ondersoek daar waar dit gejag is.

Camphor voorsien dat hierdie voorgestelde wysigings in die regulasies opgeneem sal word, en dat die regulasies slegs sal geld vir wild wat bemark en in die kleinhandel aan verbruikers verkoop word. ’n Benuttingsjagter kan dus steeds sy karkasse na ’n slaghuis neem om dit te laat verwerk, maar slaghuise mag nie van hierdie karkasse se vleis verkoop nie. Dit is slegs vir die jagter se persoonlike gebruik.

GEEN BEDREIGING

In ’n mediaverklaring van die DA waarsku Winkler egter dat Didiza die weg baan vir die grootskaalse slag en verorbering van bedreigde spesies. Mnr. Tozie Zokufa, direkteur van die koalisie vir dierewelsyn, is ook bekommerd daaroor en dring in sy kommentaar op die voorgestelde wysiging aan dat handel in wild opgeskort moet word.

Kitshoff-Botha wys egter daarop 15 wildspesies is reeds sedert 2000 op die lys ingevolge die Wet op die Veiligheid van Vleis, en dat die verbruik van dié vleis tot dusver geen nadelige impak op hierdie spesies se getalle of verspreiding gehad het nie. Dit sluit onder meer in die gemsbok, blouwildebees, buffel, blesbok, impala en springbok. “Die doel van die lys ingevolge die wet is nie om lukrake, voor-die-voet slag van diere te bewerkstellig nie,” sê sy.