Intense druk laat hom soms dinge sê en doen, soos om met die EFF te flankeer, wat ’n mens bedenkinge laat kry. Ter versagting kan gesê word dat die president hom in die spreekwoorde-like leeukuil bevind met vyandige mense om hom wat hom om die verkeerde redes nie daar wil hê nie.

Daar is geen fout te vind met ordelike en oordeelkundige grondhervorming nie. Die wesenlike gevaar is egter indien grondhervorming vir politieke gewin bedryf word, kan dit soos ’n wegholtrein die land se ekonomie vernietig. Die probleem is dat daar nog geen gesonde gesprekvoering deur kundiges oor grondhervorming plaasgevind het om Suid-Afrika ten opsigte van werkskepping, voedselproduksie en ekonomiese groei eerste te plaas nie.

Al wat uitgestaan het, is dat baie tyd gemors is deur politieke partye wat net hul eie voorrang-sake wil dien, terwyl die lae vlak van gesprekvoering nie die land tot eer strek nie. Die Regering het ook growwe foute begaan deur ’n baie moeilike proses te verpolitiseer om onhaalbare beloftes te maak en verwagtinge te skep waaraan eenvoudig nie voldoen sal kan word nie. Dit gaan waarskynlik nog die Regering se achilleshiel wees, want daar sal geen einde wees aan frustrasie en beskuldigings van korrupsie nie.

Die Regering besef dit seker nog nie, maar hy het met grondhervorming vir homself ’n baie groot gat gegrawe waaruit hy moeilik sal kan ontsnap. ’n Ander probleem is dat daar nog geen werkbare plan vir grondhervorming is nie en dat grond in die hande van politici nie aan die vele verwagtinge sal kan voldoen nie.

Die eenvoudige rede is dat onekonomiese eenhede (te min grond) en grond sonder titelaktes geen kommersiële toekoms het nie. Of ’n mens die Regering moet jammer kry, weet ek nie. Hy verloor nie net steun nie, hy is reeds vasgeverf in ’n hoek waaruit hy nie sal kan ontsnap nie.

ANDER PROBLEME

Dit wil voorkom of Suid-Afrika se regstelsel ook met ’n groot probleem opgesaal is. Dit het hier gebeur dat ’n man vir die steel van een hoender ’n jaar lank tronk toe gestuur is. Tans gebeur dit dat mense miljarde rande steel, maar nie vervolg word nie. Hulle word net geskors of afgedank met alle voordele vir ’n gelukkige oudag. ’n Klag van diefstal, asook die verkoop van hul bates om verliese te verhaal, word nooit teen hulle gelê nie. Iemand sal moet sê of dit korrupsie is of nie.

Werkloosheid is nie meer ’n politieke speletjie nie. Dit is ’n reuseprobleem vir die hele land, want frustrasievlakke is by breekpunt. Die mense wil nie meer werk soek nie – hulle wil werk hê vir die beter lewe wat die Regering al 25 jaar lank belowe.

Een van Suid-Afrika se bekendste arbeidskonsultante sê die land se werkloosheidsprobleem kan maklik opgelos word. Hy sê skraap net die minimum loon en beskerm werkgewers teen afdankings. Daar is altyd goeie werkers wat ook fluks is en goed beloon sal word.

Die Vryemarkstigting meen ook dat die minimum loon nie werk skep nie. Dit gaan daaroor dat elkeen die vryheid moet hê om self te besluit waarvoor hy of sy bereid is om te werk. Die probleem is dat daar miljoene honger mense in die land is, maar mense word deur die wet verbied om vir hul eie beswil te werk, al is dit vir minder as die minimum loon.

Dit is skokkend om te dink dat ’n regering die wanindruk kan hê dat alle wit boere sonder duidelike bewyse as misdadigers geag moet word. Vir groter momentum en stukrag gaan hulle ook strafregtelik vervolg word.

Met onteiening sonder vergoeding is die oogmerk om boere van ál hul bates te stroop, al waarsku buitelandse regerings en beleggers wie se geld broodnodig is om werk te skep en die ekonomie aan die groei te kry daarteen. Dit is gerieflik om vir buitelandse beleggers te vertel hoewel hul bates ook op “gesteelde” grond sal staan, hoef hulle nie onteiening te vrees nie.

Dit klink nie eens geloofwaardig nie. Almal het geskrik, ook dié wat nog hier is. ’n Ander duistere situasie is wat gaan word van die buitelanders wat reeds hier woon en ten duurste in plase en woonhuise belê het. As die Regering sy kop kan regkry, sal hy besef dat daar ’n werkbare plan vir grondhervorming gevind sal moet word, want om te onteien sonder vergoeding sal nooit aanvaar word nie.

Alles sal nie net kan gebeur nie, en grond se markwaarde is nie net die waarde van die verbeterings nie. Die waarde van grond is markwaarde. Grondhervorming met vergoeding is die eerbare weg om te volg, maar dit sal stelselmatig gedoen moet word om die ekonomie te beskerm.

Ná alles bly dit maar ’n gevaarlike politieke speletjie wat onhoudbare druk op enige regering sal plaas. Intussen moet die President krediet kry vir sy goeie werk onder groot druk.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.