Dié gewasse, daar die norm pleks van die uitsondering, word beskou as een van die enkele maniere hoe bewaringslandbou nog kan verbeter in Argentinië en Brasilië, vertel drie nagraadse studente van die Universiteit Stellenbosch.

Mnre. PJ Neethling, Rens Smit en Pieter le Roux het die driejaarlikse Bewaringslandbou-wêreldkongres in Rosario, Argentinië, bygewoon en oor hul navorsing gepraat. Die kongres het saamgeval met Aapresid, Argentinië se vereniging vir bewaringsboerdery, se jaarkongres.

Koring wat met ’n skyfplanter geplant is op ’n land met ’n goeie deklaag. FOTO: PIETER LE ROUX

Hulle sê die skaal van die landbou in Suid-Amerika het hul stomgeslaan. So ook die feit dat 95% van Argentinië en Brasilië se bewerkbare grond onder bewaringslandbou is. “Dekgewasse en bewaringslandbou is die norm in Argentinië en Brasilië en die vraag is nie meer óf die stelsel kan werk nie, maar net hoe om dit te verbeter.”

Hawer is ’n voorrangkeuse vir ’n winter­dekgewas omdat dit goedkoop en betroubaar is en maklik is om dood te spuit. Die toe­die­ning van stikstof moet optimaal wees om soveel plantmateriaal moontlik te produseer. Wieke word ook algemeen as dekgewas gebruik. Die wiekedekgewas word met ’n vlieg­tuig gestrooi voor die kontantgewas geoes word.

Fababone is een van die peulgewasse wat algemeen in die wisselboustelsels in Argentinië verbou word. FOTO: PIETER LE ROUX

Mikroörganismes kan help om verdigting op te hef deur die grond biologies te “bewerk”. Tans is baie aandag op dekgewas­mengsels en die identifikasie van dekgewasmengsels vir spesifieke omgewings of doelwitte. Daar is ook sprake dat dekgewasse die beweging van kalk in grond kan bevorder.

Die gemiddelde boer wat toerusting besit, word as ’n kontrakteur beskou en lewer ’n diens aan ander boere.

Op verskeie planters is daar toemaak-wieletjies wat die saad met los grond toegooi. Die skyf word gevolg deur ’n drukwiel wat die saad stewig in die voortjie vasdruk, en die drukwiel gevolg deur die wieletjies. Soos die planter vorentoe beweeg, word die voortjie met los grond toegegooi. FOTO: PIETER LE ROUX

“Ons dink dit kan toegeskryf word aan die feit dat die staat en die koöperatiewe sektor tyd, geld en hulpbronne aan boere en navorsers verleen. Sodoende is daar ’n groot aansporing tot optimale produksiepraktyke en ’n groot behoefte aan navorsing. Een van die fokuspunte van die konferensie was die gebruik van chemiese middels in bewaringsboerderystelsels.”

Bewaringslandbou is belangrik om te voorkom dat chemiese middels water besoedel. Die deklaag en geenbewerking wat saam gebruik word, veroorsaak ’n afname in die loging van chemiese stowwe.

’n Studie in Brasilië oor die gebruik van chemiese middels in bewarings­land­boustelsels toon die gebruik van che­miese middels het toegeneem. Die impak van chemiese middels het egter afgeneem omdat meer omgewingsvriendelike middels gebruik word. Die PLA-selfloopspuit van Brothers Equip het hulle opgeval.

Dié unieke spuit is toegerus met vlerke van koolstofvesel en ’n vlerkspan van 40 meter. Die spuit het ’n chemiese verdelerstelsel wat chemiese middels met die water meng soos wat dit gespuit word.

Dit beteken dit is nie nodig om chemiese stowwe in die tenke te meng nie. Dít vergemaklik die gebruik en skoonmaak van die spuit en spaar sodoende baie water. Met die spuit is dit ook moontlik om sonder vertraging maklik tussen verskillende chemiese stowwe te wissel. Die spuit is egter nie goedkoop nie. — PJ Neethling, Rens Smit en Pieter le Roux

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.