Lüderitz is as basis vir die projek gekies danksy die gebied se gunstige klimaat en ryk mariene ekostelsel.

Luidens ’n artikel op die webblad Fishing Industry News and Aquaculture SA gaan daar met reuse-kelp (Macrocystis pyrifera) geboer word. Jonger kelpplante sal in sowat 20 ha in Shearwaterbaai vertroetel word, en daarna uitgeplant word in drie kelpplase wat elk sowat 1 km² groot is.

Die plase sal 3-10 km van die kus af opgerig word. Laboratoriumgeriewe in Lüderitz word ook beoog. Die kelp wat geoes word, sal gebruik kan word as ’n alternatiewe voedingsbron vir die landbousektor en om biostimulante en tekstielprodukte te vervaardig. Volgens die webblad sal die projek sowat $60 miljoen oor vyf jaar kos. Daar word beoog om vroeg vanjaar met die bekendstellingsprojek en studies te begin, en sake binne ’n jaar te finaliseer.

Die projek word gesamentlik aangepak deur Climate Investor Two (wat deur Climate Fund Managers bestuur word), Kelp Blue Namibia, en die Namibiese infrastruktuur-ontwikkelings-en-beleggingsfonds (wat deur Eos Capital bestuur word). Kelp Blue se hoofkwartier is in Nederland, maar die maatskappy het nou ook ’n kantoor in Namibië. Kelp is ’n soort bruin seewier.

Daaronder is van die grootste seewierspesies wat in die oseane gevind word. Kelp verkies helder, voedsame water van 10-40 meter diep. Die reuse-kelp is die grootste soort ter wêreld. Een van die voordele om daarmee te boer, is dat versamelings daarvan wêreldwyd almal basies dieselfde is. Dit groei vinnig, kan elke drie maande geoes word en behoort vir minstens sewe jaar produktiewe oeste te kan lewer.

Volgens navorsers haal kelp selfs meer koolstofdioksied uit die lug as woude, en is die teenwoordigheid van hierdie seeplante tot voordeel van mariene biodiversiteit en visbevolkings. Volgens Kelp Blue se sakemodel sal die projek waarde regdeur die kelpwaardeketting toevoeg. Nuwe ingenieurstegnieke om die boerdery ’n ent van die kus te bedryf, asook nuwe verwerkingsmetodes behoort oorhoofse koste te verminder en die grootskaalse inwerkingstelling van die prosesse moontlik te maak.