Dit kan keer dat lande wat van dié inkomste afhanklik is, die ooreenkoms in werking stel, het dr. Tinashe Kapuya, handelsbeleidraadgewer by besigheidseenheid Suid-Afrika (Busa), tydens ’n paneelbespreking van die jaarlikse Farmer’s Weekly Agribusiness in Africa-konferensie in Kempton Park gesê.

Volgens hom is daar lande wat “uit beginsel” die ooreenkoms onderteken, maar wat eintlik huiwerig is om dit te doen omdat die “verloorders” nie vergoed gaan word nie.

Kapuya het gesê in Europese lande kan boeregemeenskappe beskerming kry en kleiner lande word vergoed as hulle hul grense oopstel. Dieselfde geld nie vir Afrikalande nie.

“In ’n land soos Malawi word die helfte van die fiskus deur tariewe gefinansier. ’n Mens kan nie daardie mense vra om te liberaliseer as jy nie ’n plan het om hulle te vergoed nie.”

Dr. Tinashe Kapuya
Dr. Tinashe Kapuya. Foto: Carien Kruger

Kapuya het gesê sulke lande kan uiteindelik nie-tariefversperrings instel om dieselfde beperkinge op invoer te behou.

Afrika kon volgens hom nooit die kwessie van vergoeding oplos nie. “Dit is ’n grondliggende fout in die manier waarop die ooreenkoms gestruktureer is.”

Geen tariewe

Kapuya het gesê wanneer handel volgende Julie volgens die ooreenkoms moet begin plaasvind, moet 90% van produkte se tariewe tot 0% verminder word. Altesame 7% van produkte sal as “sensitief” beskou word en daar sal tyd gegun word om tariewe daarop uit te faseer.

Die oorblywende 3% van produkte sal, ononderhandelbaar, uitgesluit wees van die tarieftoegewings.

Volgens Kapuya is sowat 10% van die handel in Afrika voedsel, met die grootste produkte palmolie, suiker en mielies.

Hy het gesê dit gaan baie belangrik wees dat lande die reëls van oorsprong toepas, anders kan “hoendervleis uit Brasilië hier aankom asof dit hoendervleis vanaf Ghana is”.

Handel tussen Afrikalande is na raming 16% van die totale Afrikahandel en groei teen 8%, maar Afrika-uitvoer na die res van die wêreld groei teen 24%.

Kapuya het gesê logistieke probleme is steeds ‘n belangrike remskoen vir handel tussen Afrikalande. As voorbeeld het hy genoem dat ’n Suid-Afrikaanse uitvoerder wat in 2016-’17 ’n houer na Angola wou uitvoer, 56 doeanehandtekeninge, 84 doeanestempels, 83 dokumente van altesame 634 bladsye, 28 sertifikate van die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap en vyf fakture nodig gehad het.

Dít was alles op papier, met geen digitalisering nie.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe. Volg ons op WhatsApp om daaglikse landbounuus op jou selfoon te ontvang.