Die maatskappy het na aanleiding van navrae van sy boere inligting oor die Chinese mark bekend gemaak. Die maatskappy verwys na ’n nuusberig van CNBC oor die handelsoorlog tussen dié twee handelsreuse, met Beijing wat glo gesê het hy is nie bang om terug te baklei nie.

Me. Annelle Whyte van Green Farms Nut Co. berig dat makadamias grootliks deur “grys kanale” na China uitgevoer word. Dit word gebruik om China se hoë invoerbelasting te vermy.

Vanweë die voortgesette handels- en tariefregtelike konflik tussen Amerika en China het die Chinese owerhede al dié kanale onderdruk. Gevolglik het Chinese invoerders wat veral van dié kanale gebruik maak, hul bedrywighede vir dié seisoen afgeskaal, wat Suid-Afrika se makadamias ook in die spervuur plaas.

Volgens Whyte probeer baie Chinese invoerders om versendings te vertraag in die hoop dat die Chinese regering die verbod op invoer sal ophef. Dit het ‘n effense daling in die prys van neute in die dop laat ontstaan.

Whyte sê hoewel die verbruikersvraag na makadamias in China steeds sterk is, gaan Green Farms vanjaar net 20% van sy 2018-inname van neute in die dop aan China verkoop. Green Farms is een van Suid-Afrika se grootste makadamiaprodusente en is verantwoordelik vir byna die helfte van die land se makadamia-uitvoer.