Hommelbye word by sekere gewasse as doeltreffender, aktiewer en geharder bestuiwers as heuningbye beskou, veral as die weer koeler raak.

Die Universiteit van Exeter in Brittanje sê in ’n verklaring die Varroa-myt het aanvanklik net as ’n parasiet by Westerse heuningbye voorgekom, nadat dit teen die begin van die vorige eeu sy habitat vanaf die Asiatiese heuningby na die weste uitgebrei het. Sedertdien het dit egter weens byeboere se verskuiwing van besmette korwe die wêreld oor versprei en in ’n internasionale epidemie ontaard. Die virus dra die sogenoemde misvormde vlerk-virus na ’n hele korf oor.

Varroa is ’n indringer, en die Exeter-wetenskaplikes het nou uitgevind die myt leef nie op die hommelbye nie, maar besmette heuningbye dra wel die virus na nabye hommelbye oor.

Hulle sê byeboere verkies dikwels om nie besmette korwe te behandel nie, maar dit is noodsaaklik om omliggende wildeby-kolonies teen verdere besmetting te beskerm. Hulle het op die universiteit se Penryn-kampus in Cornwall gebiede vergelyk waar daar nie Varroa-myte voorkom nie, met gebiede waar heuningbye wel met die myte besmet was. Dít het getoon dat groter hoeveelhede van die virus in die wilde hommelbykolonies voorgekom het in gebiede waar heuningbye met die virus besmet was.

Dit is dus ’n aanduiding dat heuningbye, wat op dieselfde blomme voed, wel vir die oordrag van die virus na hommelbye verantwoordelik is, al is dit nie regstreeks nie. Die myte omskep dus die heuningbye as’t ware in “super-verspreiders” van die virus, sê die wetenskaplikes. Hul artikel het in die vaktydskrif Ecology Letters verskyn.

In Suid-Afrika is daar kommersiële byeboere met tot 10 000 korwe, volgens statistieke van die nasionale bedryfsorganisasie Sabio, wat daarop gerig is om heuningbye ter wille van ’n ekonomies vatbare en volhoubare landboubedryf te bewaar. Bye se bydrae tot die ekonomie beloop miljarde rande, nie net in heuningproduksie nie, maar ook in bestuiwingsdienste deur sowel heuningbye as wilde spesies, soos die hommelby.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe. Volg ons op WhatsApp om daaglikse landbounuus op jou selfoon te ontvang.