Vyftig jaar gelede. Uit: Die Landbouweekblad, 23 April 1968

BOERDERY IN DIE JAAR 2000...

Teen die jaar 2000 sal die boer in die eerste plek ekonoom, landboukundige, chemikus en ingenieur wees, sê wetenskaplikes van ’n groot Britse motormaatskappy wat ’n interessante prentjie geskilder het van hoe boerdery waarskynlik teen daardie tyd bedryf sal word.

Al hul voorspellings is gedoen op grond van wetenskaplike feite wat reeds bekend is en van hedendaagse neigings. Hulle meen dat daar in die moderne landbou geen plek vir die woord “onmoontlik” is nie. Volgens die geleerdes sal ’n boer oor sowat drie dekades nie op sy trekker sit nie, maar in ’n beheertoring van waar hy reuse- veeldoelige masjiene deur middel van afstandbeheer sal beveel wat om te doen.

Die tradisionele ploeg en trekker sal verdwyn. In die plek daarvan sal landbouskeertuie die grond volmaak bewerk deur dit met ultrasoniese golwe te bombardeer. ’n Nuwe wetenskap wat handel oor ’n mens se brein-golwe wat masjiene aan die werk kan sit, kan heel moontlik teen die jaar 2000 reeds in die landbou toegepas word.

Danksy superplante sal boere dan ook genoeg kos vir die mensdom kan produseer. Boere sal twee oeste kan afhaal in dieselfde tyd wat hulle tans nodig het om een oes te behaal, sê die wetenskaplikes.